Tuesday, July 1, 2008

Swanger vrou tuis Vermoor !!




Murelle en mnr. Pieter Moon (39) word deur sy suster, me. Miemsie Moon, en sy buurman se ma, mev. Elize Botha, vertroos. Foto: Herman Verwey

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2347985,00.html


Swanger vrou tuis vermoor

Jun 26 2008 11:51:57:570PM

'n Swanger Pretoriase vrou is in haar huis in Waverley wreed vermoor deurdat haar kop "papgeslaan" is.

Virginia Keppler

'n Swanger Pretoriase vrou is gister in haar huis in Waverley wreed vermoor deurdat haar kop "papgeslaan" is.

Die aanvaller(s) het daarna die agt maande swanger vrou se lyk onder duvets op haar bed in haar huis in Varingstraat versteek.

Me. Antoinette Botha, 'n verpleegster by die Moot-hospitaal, se ongebore baba het ook nie die aanval oorleef nie.

Die rower(s) het daarna huishoudelike toestelle bymekaargemaak, maar dit net só in die huis gelos en in Botha se swart Mercedes-Benz met registrasienommer WRW 497 GP gevlug.

Paramedici het oomblikke nadat haar lewensmaat, mnr. Pieter Moon (39), en hul bure Botha se lyk ontdek het, vergeefs probeer om 'n hartklop by haar ongebore baba op te spoor.

"Kan hulle tog nie die baba red nie? Kan hulle tog nie probeer nie?" wou mnr. Jophie Moon (73), Moon jr. se pa, aanhoudend by sy dogters weet.

Toe die paramedici moedeloos en sonder die baba by die huis uitstap, het al die familielede en vriende geweet dit is verby.

"Ons kon ongelukkig nie die baba red nie. Daar is niks wat ons kon doen nie," het 'n ontstelde paramedikus gesê.

Botha en Moon jr. het nog 'n seuntjie, Murelle (2).

Mev. Elize Botha, wie se seun langsaan woon, het gesê toe hy (Moon jr.) by die huis kom, het hy opgemerk alles staan oop.

"Hy het my seun, Cobus, kom vra om saam met hom in die huis te gaan omdat hy bang was daar is iemand in die huis. Toe ons in die huis kom, het ons oral na Antoinette gesoek.

"In die slaapkamer het ons net 'n klomp duvets sien lê. Toe ek nog so onder die duvets voel, toe voel ek 'n koue ou voetjie.

"Hulle (die moordenaars) het haar kop pap geslaan met 'n stomp voorwerp," het 'n steeds geskokte mev. Botha gesê.

Moon sr. het gesê Moon jr. was by sy (Moon sr. se) huis om sy seun af te laai en het op die toneel afgekom toe hy terugkom by die huis.

"Hy het gesê die kind moet by ons bly vir die nag, want Antoinette gaan nagskof werk," het hy gesê.

Mev. Tessa Keppler, Moon jr. se suster, het gesê die familie is erg geskok. Sy het gesê haar broer-hulle woon die afgelope vier jaar in die huis.

"Antoinette sou nooit vir vreemdes die deur oopgemaak het nie. Sy was baie veiligheidsbewus," het Keppler gesê.

Sy het gesê haar broer, wat tot op die einde nog gehoop het dat die baba gered sou word, was erg geskok.

"Waar gaan ek vir my seun sê is sy ma?" wou Moon jr. moedeloos weet.

Mev. Anelise van Tonder van die Karnallies-speelgroep in Waverley het haar gisteraand na die huis gehaas om Murelle te versorg.

"Hy gaan vanaand by my slaap. Ek ken hom vandat hy 'n baba was. Ek is baie lief vir hom," het sy hartseer gesê.

Insp. Susan du Preez, polisiewoordvoerder, het gesê dit is tans onduidelik hoe die moordenaar in die huis gekom het.

Volgens Keppler het inbrekers glo vroeër die week ook by die huis probeer inbreek en die alarm deur die nag twee keer afgegaan.

Botha, oorspronklik van Zimbabwe afkomstig, sou gisteraand haar laaste aand werk en van vandag af op kraamverlof wees.

Keppler het gesê haar familie in Zimbabwe sou gisteraand nog verwittig word van haar dood.

Mense met inligting kan die Villeria-polisiekantoor bel by 012 333 6005/6


No comments: