Friday, July 25, 2008

"Beloftes maak skuld"

Bel my met jul probleme, sê Zuma aan arm wit mense

Jul 24 2008 10:13:16:683PM

Mnr. Jacob Zuma het aan sowat 1 000 arm wit mense in Pretoria gesê
hulle kan hom bel as hulle nie dienslewering ontvang nie.
Kyk na foto's.

Alet Rademeyer


Mnr. Jacob Zuma, ANC-president, het gister aan sowat 1 000 arm wit
mense in Pretoria gesê hulle kan hom bel as hulle nie dienslewering
ontvang nie.

"As julle dit nie kry nie, kan julle vir my skryf of my bel. Moenie
alleen met jou probleem doodgaan nie. Deel dit.

"Elke Suid-Afrikaner het die volste reg op dienslewering en niemand
behoort uitgesluit te word nie. Ek weet aan watter deur in die
regering om te klop."

Zuma het die mense van die Bethlehem-nedersetting met hierdie woorde
in die holte van sy hand gehad.

Zuma, vergesel deur drr. Zola Skweyiya, minister van maatskaplike
ontwikkeling, en Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van die
Tshwane-metroraad, het die gemeenskap besoek nadat hy vroeër vanjaar
beloof het om terug te kom en iets aan hul probleme te doen.

Die besoek was op uitnodiging van die vakbond Solidariteit.

Zuma het gesê hy was geskok toe hy by sy eerste besoek die omvang van
wit armoede gesien het.

Volgens hom het hy ooreenkomste met dié gemeenskap se nood gesien met
elke swart plakkerskamp waar mense nie toilette, water of
elektrisiteit het nie.

Hy het gesê die besoek aan Bethlehem is nie 'n politieke een nie, maar
'n gemeenskapsgeleentheid.

"Ek haat politici wat vooruitgang van mense verhinder. Dit is nie
belangrik om 'n leier te wil wees nie. Dit moet gaan oor hoe mense in
nood deur 'n regering gehelp kan word. As president van die regerende
party kan ek mense instruksies gee en hulle sal verslag moet doen."

Skweyiya het gesê 'n persepsie het bestaan dat armoede nie onder die
wit bevolking voorkom nie.

"Dit is 'n mite en ons het dít en wit mense se bekommernisse onderskat."

Skweyiya se departement het gister talle wit hulpbehoewendes gehelp om
vir maatskaplike toelaes te registreer.

Hy het verwys na 'n vroeëre brief deur die Gautengse departement van
maatskaplike ontwikkeling aan nie-regeringsorganisasies waarin gedreig
is dat hul subsidies gesny sal word as hulle nie voldoende
transformeer nie.

Hy het gesê hy gaan die saak ondersoek en seker maak dat daar geen
vorm van diskriminasie is nie en dat alle armes gelyke behandeling
kry.

Skweyiya het gesê dit is juis nie-regeringsorganisasies en
godsdiensgroepe wat die regering kan help in die stryd teen armoede.

Mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het 'n verslag aan
Zuma oorhandig waarin die omvang van wit armoede met die klem op die
Tshwane-metropool uiteengesit is.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2363846,00.html

No comments: