Tuesday, July 1, 2008

Reaksie op SakeBeeld 26 Junie 2008

SANNIESHOF

REAKSIE OP SAKEBEELD 26 JUNIE 2008,  Terughou van taks soos klipgooi

Die weerhouding van munisipale dienstegelde en erfbelasting behoort ten hierdie tyd 'n ernstige bekommernis by die owerhede te veroorsaak  sodat daar meer as net stilswye van hulle kant behoort te kom.  Vir etlike maande al is daar chroniese onrus in woongebiede wat selfs al tot geweld gelei het,  maar die oplossing vir die probleme word in stilswye gehul.
Prof Wiechers het seker die teoretiese reg om 'n opinie te lig, maar is duidelik nie in die praktyk met die probleme vertroud nie.  Die "remedies" wat hy noem is uitgeput.  Die verbalisering van probleme word van die tafel gevee en word in meeste gevalle genotuleer en daarna bestaan daar nie meer so 'n notule nie.  Petisies is nie die papier en die moeite werd waarop dit aangeteken is nie.  Betogings hou baie mense van hulle werk af weg, veroorsaak aggressie en geweld en het nog nooit enige suksesse behaal nie.  Om op stemreg te wag tot die oplossing van die huidige probleem is 'n feë verhaal.  Die bedrog en korrupsie met tenders vir herstelwerke ens sal die reeds oorvol howe nog 'n groter las op lê.  En hoekom is dit hoegenaamd nodig dat die Inwoners die kostes moet aangaan om 'n munisipaliteit hof toe vat om sy werk te doen? 
Hoe is dit moontlik dat selfs die hoogste gesag van die provinsie ingelig is omtrent die hele aksie, al die bewyse van korrupsie en bedrog ontvang, al die wette wat oortree word in die Ouditeur Generaal se verslag aangeteken word en geen aksie word geneem nie.  As die individu sy BTW nie oorbetaal nie word daar summier 'n boete en daarna 'n lasbrief uitgereik.  Die Tswaing Munisipaliteit weerhou R6 miljoen van die Ontvanger en niks word daaraan gedoen nie.  Projek gelde word gebruik vir salarisse en lone en die projekte staan, maar geld bly van die owerhede af instroom sonder enige navraag aan die miljoene wat reeds die verskil moes maak.  Waar is die kontrole van die Regering wat seker geregtig is om die resultaat van die uitgawe van 'n projek te moet evalueer?
As prof Kotze van mening is dat ons optrede geklassifiseer kan word binne die raamwerk van klipgooi en brandstig is ook hy nie bewus van die werklike aksie wat 'n dispuut behels nie.  Klipgooi en brandstig gaan gepaard met aggressie en afbreking van bepaalde strukture wat 'n munisipaliteit en die SAP vir 'n bepaalde tyd besig hou.  'n Dispuut aksie daarenteen is 'n positiewe betrokkenheid van elke belastingbetaler wat sy konstitusionele reg opeis om die infrastruktuur en die lewensgehalte van al die mense op te bou en te herstel tot die aanvaarbare en ekonomies haalbare gehalte tot sy beskikking.
Waar klipgooi en brandstig honderde mense blootstel aan onnodige aggressie is 'n dispuut aksie gerig op verbale en skriftelike onderhandelings en ultimatums wat gewissel word tussen die besture van 2 liggame en die gemeenskap kan sonder steurnis en onrus bly funksioneer.  'n Dispuut manifesteer eers wanneer alle kanale van onderhandelings uitgeput is.
Die suksesse van 'n dispuutaksie in 'n dorp is nie beperk tot een rassegroep of woon area nie,  al die inwoners van daardie gebied geniet die voordele van die sukses.  Die grootste probleem van enige munisipale bestuur is die politieke betrokkenheid wat belangriker word as die werklike funksie van die munisipaliteit.  Die enorme bedrae geld wat na munisipaliteite vloei van regeringskant, die onvermoë van effektiewe bestuur deur verantwoordelike en bekwame personeel, skep hier die siening dat 'n betrekking by die munisipaliteit jou onmiddellik in staat stel om finansieël voortvarend te kan leef ongeag enige kwalilfikasies.
Op Sannieshof, is ons aktief betrokke om op 'n positiewe manier ons dorp weer op te bou, sonder dat ons enigsins voel dat ons enige wet oortree het.  Ons is nie wanbetalers nie, ons betaal ons rekenings net in 'n fondsrekening in en ons herstel net dit wat noodsaaklik is vir die funksionering van ons dorp.  Ons glo dat as enige een van hierdie geleerde professors in Sannieshof gewoon het en met sy voete deur lopende rou riool water moes loop om 'n brood of 'n koerant te koop of wou water drink, skeer of bad en die kraan leeg is as jy dit oopdraai, sou selfs hulle besluit het om deel te wees van die aksie in Sannieshof.  Die verskil tussen hulle en ons is, dat hulle tussen boeke na oplossings soek en ons staar die probleem prakties in die gesig en spook vir die beste oplossing vir ons probleme – en dit werk.


Carin Visser
Voorsitter:  SANNIESOF SAKEKAMER, en
                   SANNIESHOF INWONERS EN BELASTINGBETALERS UNIE
                   (SIBU)

No comments: