Sunday, July 20, 2008

Lulu moet waai

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Rapport/Hoofartikels/0,,752-800_2360320,00.html

Lulu moet waai

Jul 19 2008 04:01:35:097PM

Die straffeloosheid waarmee die rol van me. Lulu Xingwana, minister
van landbou en grondsake, in die hantering van die Land Bank-fiasko
gehanteer is, is net nóg 'n voorbeeld van regeringslui en hoë
amptenare wat sonder vrees vir tugstappe na hartelus die bates van die
land verkwis...

Die straffeloosheid waarmee die rol van me. Lulu Xingwana, minister
van landbou en grondsake, in die hantering van die Land Bank-fiasko
gehanteer is, is net nóg 'n voorbeeld van regeringslui en hoë
amptenare wat sonder vrees vir tugstappe na hartelus die bates van die
land verkwis of toelaat dat dit geplunder word.

Die verantwoordelikheid vir die Land Bank is die afgelope week bruut
van haar weggeneem en aan min. Trevor Manuel toegeken. Die tesourie is
nou verantwoordelik vir die bank en moet hom weer funksioneel maak.

Dit wil gedoen wees: in die landbousektor word van die algehele
ineenstorting van die Land Bank gepraat. Sy hoë persentasie slegte
skuld sou enige kommersiële bank lankal vernietig het. As voorbeeld
word genoem dat onlangs in net een projek R700 miljoen verloor is. 'n
Verstommende R2 miljard is verkwis sedert die "transformasie" van die
bank begin het.

Die bank gaan al sedert die middel 1990's agteruit, maar dis veral die
afgelope vyf jaar en toenemend sedert Xingwana minister geword het dat
hy aanhoudend verliese ly.

Nie net moet sy as politieke hoof van die bank tot verantwoording
geroep word nie. Sy was regstreeks betrokke by die algehele fiasko en
die ongerymdhede wat verder strek as net verliese. Xingwana is 'n
sentrale figuur in twis op twis by die bank en word van onstatutêre
politieke inmenging beskuldig weens swak aanstellings sowel as
leningsbesluite.

Dis te verwelkom dat sy onthef is van haar verpligtinge by die bank,
maar die vraag is hoekom nou eers ingegryp word nadat die bank op sy
knieë gedwing is.

En intussen bly sy minister. Soos talle ander wat hul
verantwoordelikhede met verstommende onbekwaamheid "nakom". Soos die
minister van gesondheid. En die minister van veiligheid en sekuriteit.
Soos etlike premiers. Soos die geskorste nasionale polisiehoof. Soos
talle burgemeesters.

Die verdraagsaamheid jeens Xingwana en ander se skromelike
pligsversuim is een van die waarmerke van Thabo Mbeki se
presidentskap. Gelukkig word sy politieke lewe nou gemeet in maande en
nie meer in jare nie. Suid-Afrika kan nie wag om die laaste van hom en
sy galery van onbekwame ampsdraers en lakeie te sien nie.

Al positiewe wat uit dié tragiese sage geneem kan word, is dat die
lesse hopelik geleer is. Al is 'n eens trotse instelling in die proses
byna vernietig.

No comments: