Friday, July 11, 2008

Zimbabwe Volksgenote

Verwante berig het betrekking : http://ourvoice-elo.blogspot.com/2008/07/un-foodaid-only-for-selective-sufferers.html

Artikel uit Rapport van 11 Mei 2008
God se lorriedrywer' help gryses in Zim
Gerhard de Bruin  
Durban  



Vir sowat 650 arm en verhongerde bejaardes in vyftien aftreeoorde in Zimbabwe maak 'n Suid-Afrikaner se goedhartigheid die verskil tussen lewe en dood.

Dié groep verstote bejaardes se enigste ligpunt is dat die groen-en-wit vragmotor van mnr. Hannes Botha (55) elke maand vir hulle kospakkies bring. En dis kospakkies bestaande uit net die noodsaaklikste basiese produkte om hulle aan die lewe te hou.

Botha, van Malelane in Limpopo, sorg sedert 2002 feitlik eiehandig vir dié bejaardes in Zimbabwe.

Met 'n afgeleefde vierton-vragmotor en 'n sleepwa ry hy elke maand byna 3 500 km ver om sowat ses ton kospakkies by vyftien ouetehuise in Zimbabwe te gaan aflaai.

In Zimbabwe noem hulle hom glo "God se lorriedrywer".

Botha, wat self in 1980 uit dié land padgegee het, sê nederig hy doen maar net wat hy glo reg is.

"Ek glo nie mense het enige benul van hoe swaar bejaardes daar kry nie. Van hulle is al letterlik dood van die honger. En baie ly aan wanvoeding of is sterwend.

"Die oudste is 'n ou tannie van 102 jaar, ander is in die sewentig en ouer.

"Hulle lot is tragies. Jare se swaarverdiende pensioene en uitbetaalde polisse kan vandag nie eens 'n brood vir hulle koop nie, en die meeste se familie is dood of weg.

"Hulle is ook te arm of te oud om te trek. En glo my, die regering van Robert Mugabe voel vir hulle niks nie.

"Die mense is aan die genade van ander se gawes oorgelaat. Ek het net besluit ek moet probeer help."

Botha sê hy het aanvanklik self kos bymekaar gemaak. Hy het dan op eie koste maandeliks na die ouetehuise gery om kospakkies te gaan aflaai.

Hy sê dit is hartroerend om te sien hoe die mense vir sy lorrie wag.

"Hulle staan daar soos opgewonde kinders. Daarna loop die trane as ek elkeen se pakkie met sy naam daarop uitdeel.

"Dinge soos 'n bietjie toiletpapier, kookolie, rys, meel, vars groente, koffie, kerse en tandepasta beteken vir hulle alles.

"Een ou oom, wat batterye vir sy flits gekry het, het later soos 'n kleuter daaraan vasgeklou. Dit is werklik hartseer."

Botha sê die werk het egter gou te veel vir hom geraak.

Hy het intussen nog vrywilligers bymekaar gekry en ook kerke en andere welsynsorganisasies betrek.

Uiteindelik het hy die Zimbabwe Pensioners Support Fund, 'n artikel 21-maatskappy, wat nie op wins ingestel is nie, gestig.

Hy sê tot dusver was daar nie probleme met die Zimbabwiese regering oor sy pogings nie.

Hy sê die organisasie is dringend op soek na 'n ander voertuig omdat syne al baie oud is.

Mense wat wil help, kan hom bel by +2713 900 934 of +2784 589 3221.
Stuur asb. vir so veel as moontlik mense...hierdie boodskap bereik dalk iemand wat in 'n posisie is om te help.
Dankie


SOLIDARITEIT HELPENDE HAND FONDS
Wie is ons?
Identiteit

Die Helpende Hand Fonds is ʼn maatskaplike verantwoordelikheidfunksie wat deur Solidariteit op die been gebring is. Helpende Hand is ʼn onafhanklike entiteit wat afsonderlik van die vakbond funksioneer, hoewel dit finansiële ondersteuning van die vakbond se lede ontvang. Helpende Hand is by die Registrasiekantoor vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPRO) as ʼn Artikel 21-maatskappy geregistreer en by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as ʼn organisasie sonder winsbejag (OSW).

Geskiedenis

   * Met die verloop van baie jare is daar spontane ondersteuningsaksies deur vakbondlede onderneem. Dié aksies het mettertyd as die Solidariteit Helpende Hand bekend geword.
   * In November 2004 het die vakbond se bestuur besluit:
         o Dat die Helpende Hand as ʼn Artikel 21-maatskappy en OSW geformaliseer moes word.
         o Dat al die vakbond se lede ʼn maandelikse bydrae tot die organisasie sou maak.
   * Dit het aan die begin van 2005 tot die formalisering van die organisasie gelei.

Missie

Om armoede te voorkom en maatskaplike nood te verlig, hoofsaaklik in gemeenskappe waar staatshulp nie algemeen beskikbaar is nie; en om te verseker dat goeie sorgstandaarde gehandhaaf word.


Wat doen ons?

Beurse

Meer as 100 studente het tydens 2007 beurse ter waarde van R1 miljoen ontvang. Studente kan in aanmerking kom vir ʼn Helpende Hand Beurs as hy/ sy of ʼn ouer lid van Solidariteit is. Studente se persoonlike situasie en behoefte word in ag geneem vir beurstoekennings. Besoek die webwerf by www.beursweb.co.za

Lewensmiddele skenkings

Duisende rande se skenkings word maandeliks by Helpende Hand se kantore afgelewer. Die skenkings sluit onder meer klere, kos en huishoudelike goedere in. ʼn Uitstekende stelsel is ontwikkel waarvolgens behoeftes identifiseer word sodat die regte goedere aan die unieke behoeftes van mense voldoen.

Kinderprojekte

Helpende Hand se kinderprojekte het veral gedurende 2007 ʼn sentrale punt van die Fonds se werk gevorm. Die projekte poog om kinders toe te rus om eendag suksesvol die werkmark te betree. Projekte soos die beskerming van kinders teen misdaad vorm ook deel van die Fonds se kinderprojekte.

Beroepsvoorbereiding

Een van Helpende Hand se primêre funksies is om jongmense vir die werkplek voor te berei. Deurdat jongmense die regte beroepskeuses maak sal die siklus van armoede verbreek kan word.

Ac hoc-projekte

Helpende Hand pak gedurig nuwe kort termyn projekte aan om sekere kwessies te takel. Probleme soos kinderontvoering, die beskerming van straatkinders en die opgradering van kinderondervragingskantore by polisiestasies het in 2007 deel gevorm van dié projekte.

Noodfonds

Helpende Hand se Noodfonds word uitsluitlik gebruik vir die uitbetaling van tot R1 000 aan hulpbehoewende persone. Uitbetalings kan nie gemaak word vir kroniese kwessies nie. Skenking word befonds deur aftrekorders van skenkers en bydraes van Solidariteit-lede.

Webtuiste :  http://www.helpendehand.co.za

Skenkings kan aanlyn by bg. webtuiste gedoen word of deur bank , bank besonderhede is ook op webtuiste beskikbaar.







No comments: