Monday, July 21, 2008

Rou riool bedryg flaminke se toekoms

http://www.dieburger.com/Stories/News/Regions/18.0.684577347.aspx

'n Slang in voëlparadys
JORISNA BONTHUYS
21/07/2008 12:22:59 AM - (SA)

Die toekoms van Kimberley se "Pink Ladies" is in die weegskaal. Rou
rioolvloei, wat na bewering in die Kamfersdam beland, bedreig die
voortbestaan van dié stad se bekende flaminkkolonie wat toenemend as
'n trekpleister vir voëlkykers dien.


Só sê mense gemoeid met die veldtog Save the Flamingo, wat onder meer
deur BirdLife SA, die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, die Natuurlewe-
en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika (Wessa) en Ekapa Mining gesteun
word.


Dié vleiland, 'n groot vleilandgebied net noord van Kimberley, word
beskou as een van die vernaamste plekke wêreldwyd waar dié geveerdes
hou. Dit is een van net vier sulke broeiplekke op die vasteland.


Die Save the Flamingo-veldtog het in 'n onlangse skrywe aan die
burgemeesterskantoor van die Sol Plaatje-stadsraad dringende ingryping
by die Homevale-rioolwerke versoek. Mense gemoeid met dié veldtog vra
dat plaaslike owerhede dié situasie teen 28 Julie moet beredder of
regstappe trotseer.


Dié skrywe is onderteken deur mnr. Jahn Hohne, voorsitter van die
veldtog. Dit is onder meer gestuur aan Kimberley se voormalige
burgemeester, mnr. Patrick Lenyibi, asook aan mnr. Marthinus van
Schalkwyk, minister van omgewingsake, en me. Lindiwe Hendricks,
minister van waterwese. Lenyibi het verlede week as uitvoerende
burgemeester bedank.


Volgens mense gemoeid met dié flaminkveldtog was die grootste gedeelte
van die Homevale-rioolwerke op 25 Junie nie in 'n werkende toestand
nie. Ná mediadekking van dié situasie het die Sol
Plaatje-munisipaliteit ingegryp. Ekapa Mining en 'n handvol klein
kontrakteurs is gevra om te help om stukkende rioolpoele te herstel en
van die houdamme te help skoonmaak.


Op 9 Julie, terwyl van die rioolpoele en houdamme skoongemaak is, is
van die onbehandelde rioolslyk in die veld langs die rioolwerke
uitgepomp, waarvandaan dit glo deur 'n uitloop in die Kamfersdam
beland het. Só beweer Save the Flamingo op sy tuisblad
(savetheflamingo.co.za). Onbehandelde rioolwater het glo tot Vrydag, 4
Julie, direk vanaf die rioolwerke daar tot in die Kamfersdam geloop.


Dié situasie, wat verswakte watergehalte in die vleiland veroorsaak,
word as 'n groot bedreiding vir die voortbestaan van die flaminke
bestempel. Wetenskaplikes neem nou watermonsters en probeer vasstel of
daar 'n verband is tussen rioolbesoedeling en die groot aantal
flaminke wat die afgelope ruk met geswolle gewrigte en sere aan hul
bene by die Kamfersdam bespeur is.


Lenyibi het in 'n onderhoud met Carte Blanche gesê daar is geen
rioolprobleem nie en het teenstanders van 'n beoogde behuisingsprojek
by die dam as rassisties bestempel. Hy het sedertdien op 'n
mediakonferensie hieroor gesê mense wat teen die beplande nuwe
Northgate-ontwikkeling is, kan "hel toe gaan".


Die beoogde ontwikkeling van Group 1 Developments buite die stedelike
soom is strydig met Kimberley se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en
sy eie riglyne vir ontwikkelingsbeplanning, het Wessa (Noord-Kaap) in
skriftelike kommentaar hieroor aangevoer. Sedertdien is die grens van
die stad se stedelike soom glo gewysig.


Sonder 'n positiewe rekord van beslissing oor die beoogde
behuisingsontwikkeling, wat op 'n volledige omgewingsimpakstudie
gegrond is, kan die Sol Plaatje-munisipaliteit nie die grond vir die
Northgate-ontwikkeling laat hersoneer nie, word gesê.


Mense gemoeid met dié veldtog, waarvoor reeds 5 800 handtekeninge
aanlyn versamel is, vra geen nuwe ontwikkelings moet naby die
Kamfersdam toegelaat word voordat rioolwerke dáár behoorlik
opgegradeer is nie.


Die ontwikkelaars van die beoogde Northgate-ontwikkeling wil sowat 6
500 huise bou.


Probleme met die Homevale-rioolwerke duur glo reeds al vier jaar lank,
ondanks vertoë aan die munisipaliteit om in te gryp. In dié stadium
hanteer dié rioolwerke sowat 43 megaliter per dag, terwyl dit 'n
vermoë van 30 megaliter het.


Die kantoor van mnr. Pieter Saaiman, Noord-Kaapse minister van
toerisme, omgewing en bewaring, wou nie kommentaar lewer oor dié
herrie nie.

No comments: