Sunday, July 20, 2008

Ouma vir niks Vermoor !!

'n Oumagrootjie van 81 is vermoor in die huis wat haar man twee dekades gelede gekoop het sodat sy nie "hoef te swerf" nie.

Mev. Yvonne Ribeiro, die buurvrou wat onraad vermoed het, vertel voor die huis in Limpopostraat hoe daar op Opperman se lyk afgekom is. Foto: Linda de Beer

Jul 18 2008 10:07:13:243PM - (SA)

Linda de Beer

Klerksdorp. – 'n Oumagrootjie van 81 is Woensdagaand in Randlespark in dié stad vermoor in die huis wat haar man twee dekades gelede gekoop het sodat sy nie "hoef te swerf" nie.

Mev. Mollie Opperman se lyk is eergisteraand eers ontdek nadat 'n bekommerde buurvrou haar oudste seun, Fanie, gebel en hy haar gevra het om te gaan ondersoek instel.

Nog net 'n TV-stel, 'n handsak en sleutels word uit die huis in Limpopostraat vermis, het kapt. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê. Die diefwering van 'n sitkamervenster is weggebuig om toegang tot die huis te kry.

Opperman het op haar maag op haar bed, met haar hande agter haar rug gelê toe sy gekry is. Haar kop was in haar kussing, met 'n bloedkol by haar mond. Sy was toegegooi met beddegoed. Sy is vermoedelik versmoor, het Fanie Opperman, wat in Stilfontein bly, gesê.

"Hoekom het hulle haar doodgemaak? Sy was oud. Kon hulle haar maar nie net geblinddoek en in die kamer toegesluit het nie?" het hy gevra. Sy ma was 'n "klein, fyn mensie".

Myburgh het gesê 'n lykskouing sal gedoen word om die presiese oorsaak van Opperman se dood te bepaal.

Mev. Yvonne Ribeiro, Opperman se buurvrou, het gesê sy het die bejaarde vrou nog Woensdagmiddag in haar tuin gesien. Sy was besig om dit nat te lei. Ribeiro het die eerste keer onraad vermoed nadat 'n lid van Opperman se kerk laatoggend warm sop by haar wou aflewer. Sy het nie op die geklop aan haar deur gereageer nie.

"As dit nie vir die kerk was nie, het ons haar nou nog nie gekry nie. Ek het uitgeloop en oor die muur gekyk. Toe sien ek die buitelug by die agterdeur brand. Sy het dit elke oggend afgesit," het Ribeiro gesê.

Teen 20:00 Woensdag het die Ribeiros se bekommernis die oorhand gekry. Sy het Fanie Opperman gebel om te hoor of hy weet waar sy ma is. Hy het hulle gevra om ondersoek in te stel omdat sy tuis moes wees.

"My seun het aan haar slaapkamervenster gaan klop. Daar was nie antwoord nie. Toe loop hy om die huis en sien die gebuigde diefwering." Die polisie is ontbied.

Volgens Ribeiro het Opperman altyd op 'n vraag of sy nie bang is om so alleen te bly nie, geantwoord: "Die Here is met my. Ek is nie alleen nie."

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2360120,00.html







No comments: