Thursday, July 24, 2008

Oud polisieman se selhel

Oudpolisieman se sel-hel

Jul 23 2008 10:27:36:783PM

'n Jaguitstappie het in 'n nagmerrie ontaard vir 'n oudpolisieman toe
hy 'n naweek lank in 'n vol sel aangehou is...

Linda de Beer


'n Jaguitstappie het in 'n nagmerrie ontaard vir 'n oudpolisieman toe
hy weens crimen injuria 'n naweek lank in 'n vol sel aangehou is met
mense wat hom aangerand het en wou verkrag.

Mnr. Sakkie van der Mescht (37) van Rustenburg, Noordwes, is na
bewering herhaaldelik in die selle aangerand. Hy beweer hy is onder
meer met 'n mes en nog 'n skerp voorwerp in die kop gesteek. Sy
selmaats het hom ook probeer verkrag, maar hy het met al sy krag
baklei om dié vernedering vry te spring.

'n Mes is wel teen sy geslagsdele gehou, terwyl sy medegevangenes
gedreig het om dit af te sny. Hy moes hierna lank kaal op die koue
selvloer sit voordat sy klere aan hom teruggegee is, het Van der
Mescht Maandag gesê.

Dié pa van twee het die hele naweek niks geëet of gedrink nie. Sy
selmaats het glo geëjakuleer in die water wat hom aangebied is. Hy
beweer die polisie het net een keer soggens en een keer saans
selbesoek gedoen.

Sedert dié ondervinding einde Junie hou nagmerries Van der Mescht uit
die slaap. Mnr. Carl Arnold, sy prokureur, het gesê hulle wag op die
uitslag van toetse vir MIV en ander seksueel oordraagbare siektes
weens die vuil mes wat op hom gebruik is.

Van der Mescht was op 27 Junie deel van 'n geselskap wat in die
Madikwe-trustgebied gejag het. Hy was by hul kamp toe twee medejagters
in 'n bakkie deur die polisie voorgekeer is. Hulle kon glo nie die
wapenlisensie toon van 'n ander jagter wie se wapen by hulle in die
bakkie was nie.

Ná 'n onderneming dat iemand vir hulle die lisensie sou gaan toon, is
die polisie daar weg sonder enige optrede.

Arnold het gesê Van der Mescht het met dié jagter se lisensie en ID
agter die polisie aangery, maar hulle het hom herhaaldelik geïgnoreer
as hy dit aan hulle wou toon," het Arnold gesê.

Van der Mescht was tot Maart die polisie se aangewese vuurwapenbeampte
in Rustenburg. Hy werk tans as veiligheidsbestuurder vir 'n
hotelgroep.

Op 'n plek waar 'n paar polisievoertuie langs die pad gestaan het, het
Van der Mescht en die bestuurder van die bakkie waarin hy gery het,
stilgehou. Van die polisiemanne het glo op Van der Mescht afgestorm.
Die bakkiedeur is oopgeruk en hy is aan die arm geruk. Van der Mescht
sê hy het sy misnoeë hiermee te kenne gegee. Hy is hierop summier
agter in 'n vangwa gegooi. Daar is glo langer as 'n uur met hom
rondgery voordat hy na die Madikwe-polisiestasie geneem is. "Ek is
weens crimen injuria en intimidasie gearresteer."

Van der Mescht se vrou is die Saterdag glo by die polisiestasie
weggejaag toe sy haar man wou besoek. Sy is na bewering ook met
arrestasie gedreig.

Op 30 Junie het Van der Mescht in die Madikwe-landdroshof skuld beken
op 'n aanklag van crimen injuria nadat hy glo met nóg sewe dae in die
selle gedreig is. Arnold het gesê hulle is besig om teen dié
skuldigbevinding te appelleer.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het by navraag
gesê Van der Mescht het die polisieman glo gedreig en gevloek toe
hulle langs mekaar gery het. Sy het gesê hy is na 'n plaaslike kliniek
geneem sodat sy wonde behandel kon word.

Die polisie ontken dat hulle sy vrou weggehou het en beweer daar is
elke uur selbesoek gedoen. 'n Vraag van Beeld oor hoe 'n skerp
voorwerp in die selle was, is nie deur Botma beantwoord nie.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2362943,00.html

No comments: