Thursday, July 3, 2008

Mediaverklaring - Konferensie oor voorgestelde onteieningswet


Mediaverklaring


DIE OMSTREDE ONTEIENINGSWETSONTWERP

Konferensies oor die oorsprong van grond- en eiendomsbesit
en
die Implikasies van die Onteieningswetsontwerp

Die Onteieningswetsontwerp wat tans deur die parlement oorweeg word, is die mees ernstige afwyking tot dusvêr van die nasionale akkoord op grond waarvan die nuwe Suid-Afrika gestig is (vir verdere inligting besoek gerus www.cfcr.org.za).  Dit het verreikende negatiewe implikasies vir die ekonomie, tussengroepsverhoudings, voedselsekuriteit en die Grondwet, en sal Suid-Afrika ook uit pas met alle suksesvolle ekonomieë in die vinnig globaliserende wêreld bring.  Die wetsontwerp is gegrond op die wanpersepsie dat wit Suid-Afrikaners geen morele reg tot die eienaarskap van grond in die besonder, en eiendom in die algemeen het nie, omdat alles wat hulle besit die gevolg van die wederregtelike ontneming, uitbuiting en onderdrukking van die inheemse bevolking is.  Ingevolge hierdie denkwyse is die onteiening van wit eiendom benede markverwante pryse nie alleenlik moreel regverdigbaar nie, maar is dit ook noodsaaklik ten einde nasionale transformasie te bewerkstellig.

Die Tussentydse Komitee vir die Beskerming van Eiendomsregte is van plan om hierdie wanpersepsie en die implikasies van die wetsontwerp by die volgende konferensies aan te spreek, wat die byeenkoms wat vir 2 Julie 2008 in Kaapstad beplan is, vervang:

Konferensie oor Wanpersepsies oor Grond- en Eiendomsbesit
en die Ekonomiese gevolge daarvan
Maandag 28 Julie 2008, vanaf 10:30 in die Centurion Raadsaal, Centurion

Hierdie konferensie sal aan die publiek, die nasionale en internasionale gemeenskap die geleentheid bied om oor die oorsprong en geskiedenis van grond- en eiendomsbesit, asook die huidige verdeling van rykdom in Suid-Afrika en ekonomiese implikasies van die voorgestelde wetsontwerp te besin.  Kundiges sal betrek word om die mites en persepsies oor grondbesit en rykdomsverspreiding in Suid-Afrika finaal in die reine te bring.  Die sprekers sal onder meer die geskiedenis van grond- en eiendomsbesit in Suid-Afrika, geskiedkundige tendense in die verspreiding van inkomste en die ekonomiese gevolge wat die voorgestelde Onteieningswet sal hê, bespreek.

Konferensie oor Implikasies van die Onteieningswetsontwerp
Augustus (datum sal nog bekendgemaak word) in die Kaap

Ernstige kommer heers dat die regering hulle nie steur aan die openbare verhore wat oor die omstrede voorgestelde Onteieningswet plaasgevind het nie, en dat dié wet heel moontlik in sy huidige robuuste vorm, eenvoudig deur die ANC met sy groot meerderheid in die parlement deurgestoomroller gaan word.

Die groeiende aantal mense en instansies uit alle sektore van die gemeenskap wat die gevare besef, se insette moet in ag geneem word voordat enige besluit oor die aanvaarding van die wetsontwerp geneem word.

Die breë gemeenskap is nie ten volle ingelig en op hoogte van die inhoud en uitwerking van die voorgestelde wet nie.  Openbare bewusmaking is tans van die allergrootste belang, omdat dié wet alle eiendom, roerend sowel as onroerend, raak.  Die Tussentydse Komitee vir die Beskerming van Eiendomsreg is derhalwe van plan om ʼn konferensie in Augustus 2008 (datum sal nog bekendgemaak word) te reël, wat toegelig sal word deur kundiges oor die implikasies van die wetsontwerp vir die Suid-Afrikaanse Grondwet, ekonomie, tussengroepsverhoudings, voeselsekuriteit, asook die rol wat private besit in alle suksesvolle demokratiese bedelings speel.

Meer gedetailleerde programme vir die twee konferensies sal binnekort beskikbaar wees.  Alle lede van die media word uitgenooi om beide konferensies by te woon.

Vir verdere navrae, skakel:

Dave Steward           -           082 824 8875
Alana Bailey              -           072 728 4541
Jaco Schoeman       -           083 651 0739
Theo de Jager          -           082 332 2110
Bennie van Zyl          -           082 466 4470

*          Die Tussentydse (Ad-Hoc) Komitee vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies en politieke partye van regoor die politieke en maatskaplike spektrum wat teen die Wetsontwerp op Onteiening gekant is.  Dit sluit tans die volgende organisasies in: AfriForum, die Afrikanerbond, die FW de Klerk Stigting, die Afrikanerfront, Agri SA, die ACDP, die DA, die FAK, die LWO, die NBU, Solidariteit Instituut vir Grondwetlike en Arbeidsregtelike Aangeleenthede, TLU SA, die VF+ en VRA.  Verskeie ander organisasies is ook besig om hulle steun aan hierdie groep toe te sê.

No comments: