Friday, July 18, 2008

Gewonde hond lê op dooie baas

Gewonde boerboel lê op dooie baas ná huisrooftog

Jul 15 2008 10:22:05:550PM - (SA)

Buks Viljoen


'n Gewonde boerboel het bo-op sy vermoorde jong baas gaan lê nadat dié eergisteraand op 'n plaas naby Komatipoort doodgeskiet is.

Mnr. Jan-Daniel Venter (21) is deur rowers op die plaas Blikkor op die Strydomblokpad naby Komatipoort, waar hy en sy pa, Jan (50), gewoon het, doodgeskiet.

Hulle het glo as kontrakteurs op 'n naburige plaas gewerk.

Jan-Daniel, wat deeltyds in die regte gestudeer het, is verskeie kere raak geskiet toe hy tydens die rooftog glo met 'n stoel in die hand op die rowers afgestorm het. Hy en sy pa het in die sitkamer 7de laan gekyk.

Volgens iemand wat kort ná die aanval op die toneel was, het Jan-Daniel se boerboel berserk begin blaf. Die volgende oomblik het drie rowers by die huis ingebars.

"Ons soek geld; ons soek geld," het hulle glo in gebroke Engels vir die twee geskreeu.

Venter is in die bolyf geskiet toe hy sy pa wou beskerm. Hy het in die sitkamer inmekaargesak en is kort daarna dood, sê konst. Richard Khumalo, woordvoerder van die polisie op Komatipoort.

Venter sr. is glo deur die rowers vasgebind. Hulle het verskeie huishoudelike items, asook 'n .38-rewolwer, gesteel en met sy Nissan-bakkie gevlug. Hy het hom losgewoel en sowat 2 km na die huis van 'n plaasvoorman gehardloop om hulp te gaan ontbied.

By die polisie se aankoms by die huis het die boerboel, wat ook deur die rowers raak geskiet is, glo bo-op Venter jr. se lyk gelê.

"Hy het skynbaar probeer om sy baas te beskerm," het Beeld se bron gesê.

Jan-Daniel se ma, supt. Elarda Venter, is die bevelvoerder van die Modjadjiskloof-polisiekantoor (Duiwelskloof) in Limpopo. Sy was Sondag op die plaas om haar ander seun, Elardus (17), te gaan haal nadat hy vir die skoolvakansie by sy broer en pa gekuier het.

Khumalo sê die moordenaars is vermoedelik Mosambiekers. "Hulle het 'n perfekte Mosambiekse Shangaan-dialek gepraat."

Vyf 9 mm-pistooldoppies is op die toneel opgetel. Die gesteelde bakkie is steeds soek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2358144,00.html

No comments: