Tuesday, July 8, 2008

Chopper vreet grond

Valkoog stort neer
Jul 04 2008 10:20:47:403PM  - (SA)  




Die helikopter wat gister neergestort het. Die rotor voor het losgeruk. Die helikopter het die kragpaal op die agtergrond se drade getref. Foto: Felix Dlangamandla
Click here to find out more!











Herman Scholtz


Hy het nog probeer byhou in die jaagtog na die rowers, maar voordat hy op die mynhoop se kruin kon kom, het 'n kollega na hom gehardloop en geskree: "Chopper down, chopper down!"

Supt. André Liang, bevelvoerder van die Florida-polisiekantoor, het aan Beeld vertel hoe hulle twee mans te voet, in die lug en met 'n polisiemotor ?gejaag het, nét voordat 'n ?helikopter van die Johannesburgse lugvleuel gister neergestort het.

Die helikopter het in 'n oop stuk veld in Meadowlands, Soweto, wat as 'n sokkerveld gebruik word, neergestort.

Die verdagtes het weggekom.

Supt. Eugene Opperman, provinsiale polisiewoordvoerder, het op die toneel gesê drie polisielede is ernstig beseer.

"Die helikopter het omstreeks 08:30 tydens 'n soektog in hoogspanning-kragdrade vasgevlieg en neergestort."

Kapt. Carl Bernardo, vlieënier, kapt. Willie Steyn (44), mede-vlieënier, en sers. Paul Steyn (34) was in die helikopter.

Volgens Liang het twee mans 'n vrou sowat 15 min. vóór die ongeluk by die Fleurhofdam tussen Florida en Meadowlands beroof.

Die twee verdagtes, een met 'n grys baadjie en die ander met 'n bruinrooi hemp, het deur 'n riviertjie aan die westekant van 'n mynhoop geswem en vandaar op die polisie begin skiet.

"Ons het teruggeskiet, maar hulle het in verskillende rigtings gehardloop en in bosse weggekruip.

"Dis tóé dat ons die lugvleuel en die Roodepoortse honde-eenheid ingeroep het," het Liang gesê.

Die polisiemanne het gesien hoe die verdagte met die bruinrooi hemp oor die mynhoop na Meadowlands se kant gevlug het, waarna die helikopter oor die mynhoop en in die kragdrade vasgevlieg het.

"Toe ek by die ongelukstoneel kom, het die lewendige kragdrade nog gespring en die helikopter se enjins nog geloop, al was dit in twee stukke.

"Twee mense van die omgewing was besig om die polisielede uit die wrak te haal," het Liang gesê.

Mnr. Peter Sekwale was besig om iets by die kafee oorkant die veld te koop toe die ongeluk gebeur het.

"Ek het gesien hoe die helikopter tot op die grond spin en soontoe gehardloop. Toe het ek die ruite gebreek om die mense uit te haal, want ek was bang die ding ontplof."

Volgens Sekwale het die een man 'n diep sny in sy keel gehad. "Ek het vir 'n ander man geskree om handdoeke te bring om sy keel toe te maak."

Toe die polisielede op die toneel hom daaroor uitvra, wou hy benoud weet: "Het ek verkeerd gemaak?"

Liang, Sekwale en mnr. William Baepi, nog 'n inwoner, het die drie toe uitgehaal.

Volgens Liang het dit gelyk of kapt. Steyn die ?ergste beseer is. "Hy het erg gekreun en ons het vermoed sy voete is gebreek."

Mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, het gesê twee insittendes is met Netcare se helikopter na die Milpark-hospitaal gebring en die derde met 'n polisiehelikopter.

Nie Dollman of enige amptelike polisiewoordvoerder wou oor hul beserings uitwei nie.

Sers. Steyn se suster, me. Desiree van Niekerk, het gistermiddag by die Milpark-hospitaal aan Leané du Plessis gesê dit gaan baie beter met hom.

"Hy het al met ons gepraat. Daar is gelukkig nie frakture in sy rugwerwels nie, maar een long is erg gekneus."

Me. Amelda Swartz, hospitaalwoordvoerder, het gistermiddag gesê al drie is in 'n ernstige, maar stabiele toestand en is buite gevaar.

Die polisie ondersoek die voorval.

No comments: