Monday, July 28, 2008

'Die kamer was vol bloed soos hulle my ma geslaan het'

Me. Elsje Mulder (76) in die hospitaal. Foto: Elsabe Coetzee

Marietie Louw-Carstens

Polokwane. –'n Bejaarde vrou van Levubu in Limpopo is ernstig beseer
toe drie rowers haar in haar plaashuis oorval, vasgebind en
herhaaldelik oor die kop en in die gesig geslaan het.

Me. Elsje Mulder (76) se aanvallers het ook op haar getrap waar sy
vasgebind op die mat in haar slaapkamer gelê het.

Mulder het eers etlike ure nadat sy vasgebind is, daarin geslaag om
haar seun, Johan, wat naby haar woon, te bel.

Mulder is gisteroggend uit die Soutpansberg-kliniek ontslaan ná die
gru-aanval verlede Donderdagaand.

Sy was gister nog op sterk pynmedikasie en sterk aan by haar dogter,
me. Elsabé Coetzee, wat ook op 'n plaas in die Levubu-gebied woon.

"Die kamer was vol bloed soos hulle my ma geslaan het," het Coetzee
gesê. "Dit is verskriklik." Hulle vermoed haar ma het in 'n stadium
haar bewussyn verloor.

Die aanval het Donderdagaand plaasgevind. Mulder het haar honde buite
die huis hoor blaf en het 'n houtdeur vir hulle oopgemaak.

"My ma het toe ook die staalhek voor die houtdeur oopgemaak. Dit is
toe dat sy die drie rowers gesien het. Hulle was te vinnig op haar
voordat sy die staalhek kon toedruk," het Coetzee gesê.

Die drie mans het Mulder na haar slaapkamer gevat en haar hande met 'n
stuk rek vasgebind. Sy het op die mat gelê.

Die rowers het haar toe aangerand en daarna die huis geplunder. Hulle
het met Mulder se bankkaarte, 'n selfoon en kontant gevlug.

Mulder het eers omstreeks 02:00 die oggend kombuis toe gestrompel en
met 'n gesukkel 'n mes gekry om haar hande mee los te sny. Sy het
daarna haar seun gebel en is na die hospitaal geneem.

Die polisie het intussen vyf verdagtes vir ondervraging in hegtenis geneem.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2365133,00.html

No comments: