Wednesday, July 30, 2008

Rugbyspeler sterf toe hy sy ouers te hulp snel

Raak geskiet: Mnr. Chris Bam (57).

Jul 29 2008 10:32:50:303PM - (SA)

Virginia Keppler

'n Pretorianer wat vir die Griffons se o.19- en o.21-rugbyspanne
gespeel het, is tydens 'n mislukte rooftog in Pretoria in sy ouerhuis
doodgeskiet.

Mnr. André Bam (26) het vermoedelik sy ouers te hulp gesnel.

Mnr. Chris Bam (57), sy pa en 'n bekende fietsryer en voormalige
melkboer van Koppies in die Vrystaat, is drie keer raak geskiet.

Die voorval het in Doornpoort in die noorde van Pretoria plaasgevind.

Mev. Veronica Bam (54) het oor die foon vir haar buurman geskreeu:
"Hulle val ons aan! Kom help!" nadat haar seun doodgeskiet en haar man
raak geskiet is.

Die Bam-egpaar is gister om 02:10 in hul slaap oorval. Hulle het in
Februarie na Pretoria verhuis om naby hul vier kinders te wees.

Die aanvallers het 'n venster aan die agterkant van hul huis gebreek
en die diefwering oopgebuig.

Mnr. Raymond Harris (39), wat met die egpaar se oudste dogter, Adél
(32), getroud is, het gesê sy skoonouers het wakker geskrik toe die
aanvallers in hul kamer ingegaan het.

"Hulle het my skoonpa met die vuis geslaan terwyl hy in die bed gelê
het. Hy het vir hulle gesê: 'Moenie skiet nie, moenie skiet nie. Vat
alles wat julle wil hê'."

Volgens Harris het sy skoonpa probeer opstaan toe die aanvallers hom
skiet. "Hulle het hom in die linkerbobeen, heup en lies geskiet. My
skoonpa het toe net op die bed gaan sit terwyl hulle flitsligte in sy
oë geflits het. Daar was niks wat hy kon doen nie."

Harris het vertel Bam jr. het wakker geskrik van die skote. "Hy slaap
in die kamer reg langs sy ouers en toe hy hardloop om waarskynlik te
gaan help, het hulle hom 'n kopwond toegedien."

Bam jr. is op die toneel dood. Sy pa is kort daarna in die
Akasia-hospitaal in Pretoria opgeneem, waar hy gister 'n operasie
ondergaan het.

Mnr. Herbie de Wet, die egpaar se buurman, het gesê net ná die voorval
het mev. Bam hom gebel.

"Ek het dadelik gereageer en oor hul muur gespring om toegang tot hul
erf te kry, maar die aanvallers was reeds weg.

"Die tannie was vreeslik geskok. Om te dink hulle het niks gesteel
nie, nie eens 'n teelepel nie, maar nou is iemand dood," het De Wet
gesê.

Harris het gesê die aanvallers wou sy skoonouers se motor steel, "maar
ek dink hul planne het só skeefgeloop dat hulle net so moes vlug".

Bam sr. het Noord-Vrystaatse kleure in fietsry verwerf.

"My skoonpa het moeg geword om te boer en het sy boerdery verkoop. Hy
het ook gesê die Vrystaat is nou op sy oudag vir hom te koud."

Me. Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie
ondersoek die voorval en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Begrafnisreëlings is nog nie vir Bam jr. getref nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2366451,00.html

No comments: