Saturday, June 28, 2008

Boere span saam om Kaper vas te trek

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2348440,00.html

Boere span saam om kaper vas te trek

Jun 27 2008 09:58:40:863PM

'n Ontstelde boer wat wou kla oor 'n vragmotorbestuurder "wat soos 'n
vark ry", het die vragmotor se eienaar gebel – net om uit te vind dit
is vroeër gekaap.

Hilda Fourie

'n Ontstelde boer wat wou kla oor 'n vragmotorbestuurder "wat soos 'n
vark ry", het die vragmotor se eienaar gebel – net om uit te vind dit
is vroeër gekaap.

Boere van Mogwadi (Dendron) in Limpopo het daarna saamgespan om dit
van die pad te trek en die kaper aan te keer.

Die vragmotor van mnr. Ernst Brits, van 'n plaveiselmaatskappy in
Meyerton in die Vaaldriehoek, is Dinsdagaand buite Tsakane aan die
Oos-Rand gekaap. Die volgende middag het hy 'n oproep uit Mogwadi van
mnr. Walter Slippers, die boer, gekry wat oor die vragmotorbestuurder
se padgedrag wou kla. Hy het onder meer amper 'n botsing met 'n ander
voertuig veroorsaak. Slippers het Brits se kontaknommer op 'n
advertensiebord op die vragmotor gekry.

Brits het Slippers ingelig dat die vragmotor gekaap is.

"Walter het gesê hy sal vir 'n rukkie agter die vragmotor aanry terwyl
ek die polisie in die hande kry," het Brits gesê.

"Terwyl ek my verhaal aan die polisie verduidelik het, het Walter ook
probeer om die polisie te kontak. Hy het later al die boere in die
omgewing op sy radio geroep waarna hulle die vragmotor afgetrek het."

Volgens Brits het die polisie op die toneel gekom net toe die boere
die vragmotor tot stilstand gebring het.

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het
bevestig dat 'n man in hegtenis geneem is en Maandag in die
landdroshof in Mogwadi op 'n aanklag van die besit van 'n gesteelde
vragmotor sal verskyn.

Daarna sal hy na Gauteng gebring word waar die oorspronklike
kapingsaak ondersoek word.

"Ek het nie gedink daar is nog mense in Suid-Afrika wat sulke dinge
doen nie," het Brits gesê. "Daar is nog mense wat ander sal help."

Brits het reeds sy vragmotor teruggekry.

No comments: