Thursday, July 31, 2008

Mediaverklaring ACDP spreek kommer uit oor wetteloosheid in Colesberg

From: Jaap Kelder [mailto:jaap@zanli.co.za]
Sent: 31 Julie 2008 05:28 nm
Subject: FW: Mediaverklaring ACDP spreek kommer uit oor wetteloosheid in
Colesberg

Geagte vriende,

Onderstaande vir u almal se kennisname.

Die NBU is totaal a-polities maar tog is dit 'n riem onder die hart dat
tenminste een party hom duidelik oor die optrede van die NBU lid dorpe
uit spreek. Die stilte van die ander politieke partye is oorverdowend !

Groete

Jaap Kelder

-----Original Message-----
From: Johan Matthee [mailto:jmatthee@oldmutualpfa.com]
Sent: 30 Julie 2008 01:53 nm
To: Jaap Kelder
Subject: FW: Mediaverklaring ACDP spreek kommer uit oor wetteloosheid in
Colesberg

Jaap, vir julle kennisname asseblief.

_____

From: svanniekerk [mailto:svanniekerk@leg.ncape.gov.za]
Sent: 30 July 2008 1:26 PM
To: Johan Matthee
Subject: Fw: Mediaverklaring ACDP spreek kommer uit oor wetteloosheid in
Colesberg
ACDP MEDIAVERKLARING

30/07/2008

Die ACDP van die Noord-Kaap spreek sy kommer uit oor die ANC en sy
vennote se wettelose optrede in Colesberg

"Suid-Afrika se grondwet beskerm die reg van individue en groepe om te
organiseer en saam te staan om aangeleenthede wat hul raak, te bevorder
of te beskerm, volgens Francois van Wyk, ACDP Noord-Kaap leier in
reaksie op die ANC en sy vennote se wettelose optog in Colesberg.

"So ook het inwoners van dorpe die reg om as inwoners-,
belastingbetalers- en ander forums te organiseer om hul belange as
inwoners te bevorder en te beskerm."

"Die feit dat inwoners van dorpe en stede landwyd organiseer om
verbeterde dienslewering en verantwoordelike finansiële bestuur af te
dwing, is grondwetlik en ook in lyn met munisipale wette soos die
M.F.M.A. (Municipal Finance Management Act). Die wette maak ook
voorsiening dat so 'n vereniging 'n dispuut met 'n munisipaliteit mag
verklaar indien nie aan wettige en billike versoeke voldoen word nie.
Dispute handel gewoonlik oor die begrotingsproses, finansiële
administrasie, die amptenary en dienslewering. Die doel is ook om as 'n
reël die prosesse tot alle inwoners se voordeel te verbeter. Dus 'n
wettige en geordende proses om beter dienslewering en administrasie te
bevorder."

Volgens van Wyk stel die ANC en sy vennote soos die jeugliga, Sanco en
andere skynbaar nie in 'n wettige en onderhandelde proses belang nie.
"Die metode om na die strate te gaan en geweld en misdaad te ondersteun,
is totaal onaanvaarbaar en gevaarlik. Volgens berigte was die
burgemeester en sekere amptenare van die voorbokke met die betogings in
Colesberg. 'n Verantwoordelike politieke party wat in regering is, is
veronderstel om die wette wat dit self op die wetboek geplaas het, te
gebruik om dispute op te los en billik en regverdig te regeer."

"Die algemene publiek vra die ANC om op te hou om teen homself te
betoog, om die verantwoordelikheid om te regeer ernstig op te neem en
die probleme met dienslewering, finansiële administrasie en algemene
munisipale bestuur aan te spreek en op te los."

Die vraag kan tereg gevra word of chaos, wanorde, misdaad , vandalisme
en lewensverlies die oogmerke van die Nasionale Demokratiese Revolusie
(N.D.R.) is, wat die ANC sedert Polokwane propageer, en of ordelike en
voorspoedige regering vir alle inwoners die doelwit is?

"Revolusie, chaos, misdaad en wanorde sal tot niemand se voordeel wees
nie en sal die getal armes laat toeneem en verder laat verarm."

Francois van Wyk, ACDP Provinsiale leier
083 461 8952

ANCJL maak amok in Colesberg se strate
Jul 29 2008 10:32:59:163PM - (SA)
Frans Coetzee
COLESBERG. – Vullisdromme is in die hoofstraat omgekeer, klippe is na 'n
onderneming gegooi, 'n gat is in 'n vrieskamer se muur gebreek en
bevrore hoenders is glo gesteel toe honderde jeugdiges van die
ANC-jeugliga Maandagaand hier amok gemaak het.
Die polisie moes rubberkoeëls afvuur en twee skokgranate gooi in 'n
poging om die oproeriges uitmekaar te jaag.
Dit is die jongste voorval van intimidasie in die middedorp sedert die
plaaslike belastingbetalersvereniging 'n dispuut met die
Umsobomvu-munisipaliteit weens swak dienslewering verklaar het.
Gistermiddag laat het nog 'n onwettige optog hier plaasgevind.
Mnr. Johan Matthee, voorsitter van die inwoners- en
belastingbetalersvereniging (IBBV), sê briewe gaan nou aan me. Dipuo
Peters, Noord-Kaapse premier, en mnr. Sydney Mufamadi, minister van
plaaslike regering en behuising, gerig word waarin die afdanking van me.
Lilian Hermans, burgemeester, en mnr. Amos Mpela, munisipale bestuurder,
geëis word.
"Alle sameprekings met die stadsraad en die munisipaliteit is opgeskort
totdat reg en orde weer op die dorp ingestel word."
Die onwettige optog in die hoofstraat het plaasgevind kort voordat die
IBBV met sakelui vergader het om 'n verbruikersboikot te bespreek.
Sanco het die verbruikersboikot Maandag teen blanke ondernemers
ingestel, want hy is teen die dispuutverklaring van die IBBV teen die
munisipaliteit gekant.
Matthee sê dorpenaars het Maandagaand spontaan straat skoongemaak toe
die oproeriges uiteindelik weg is.
"Tot oumatjies van 80 jaar oud het die sypaadjies met hul harke gehark
en besems gevee."
Op die vergadering met die sakelui is besluit dat die IBBV met sy
dispuut teen die munisipaliteit voortgaan ondanks die verbruikersboikot.
Supt. Mashay Gamieldien van die polisie sê klagte van openbare geweld,
'n onwettige optog en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek nadat
sowat 700 lede van die ANC-jeugliga Maandag van 17:00 tot 21:00 na
bewering by die grootskaalse onrus betrokke was.
Die groep het glo van die Kuyasa-gemeenskapsaal tot by die N1 Stop Shop
in die hoofstraat gestap.
Klippe is na bewering na die gebou gegooi. Die eienaar se Toyota-bakkie
is glo erg beskadig.
Die polisie het rubberkoeëls afgevuur toe die onrusstokers nie na leiers
van die ANC, SACP, Cosatu en Sanco wou luister nie.
Van die jeugdiges het toe probeer om die onderneming te plunder deur
sakke bevrore hoenders in 'n vrieskamer te steel.
Geen beserings is aangemeld nie.
Polisiebeamptes van die dorp, Kuyasa, Noupoort, Norvalspont en Hanover
is in die gebied ontplooi om die toestand dop te hou.

No comments: