Tuesday, July 8, 2008

Man met een skoot dood geskiet

Man (27) in Leeupark doodgeskiet
Jul 06 2008 09:37:54:563PM  - (SA)  



Die ingang na die Leeupark by Muldersdrift waar mnr. Kurt Dieter Huppe (27) gistermiddag deur rowers doodgeskiet is. Foto: Nardus Engelbrecht





Liezel Joubert en Amanda Roestoff


Hy het sy hande in die badkamer gaan was.

Op pad om weer by sy swanger vriendin en haar sesjarige dogter in die restaurant in die Leeupark aan te sluit, is hy met een skoot in die bors doodgeskiet.

Mnr. Kurt Dieter Huppe (27) van Benoni was gister die derde persoon wat in ses maande by dié gewilde park in Muldersdrift sterf. Een van hulle was 'n man wat deur leeus verskeur is (sien inligting onderaan).

Insp. Odette van Staden, polisiewoordvoerder, het gesê agt rowers het gister omstreeks 14:30 ingebars by die Leeupark se restaurant. Vier van hulle was gewapen met 9 mm-pistole.

Sowat 1 600 mense het gister dié park besoek en bykans 100 mense was ten tyde van die voorval in die restaurant, het mnr. Ian Melass, die Leeupark se bestuurder, gesê.

Die rowers het volgens ooggetuies die mense beveel om plat te lê terwyl hulle die kassiere gedwing het om vir hulle geld te gee. Huppe is geskiet toe hy niksvermoedend uit die badkamer by die restaurant ingestap het, het sy vriendin, me. Stacey Wooley (23), gesê. Sy is vier maande swanger met Huppe se kind.

Wooley en Huppe het die afgelope vier jaar saam gewoon en hy was soos 'n pa vir haar dogter. Wooley en die meisie het in die restaurant se piekniekarea gesit toe Huppe na die badkamer is, het mnr. Dieter Huppe, sy pa, gisteraand gesê.

Dit was die laaste keer dat Wooley hom lewend gesien het.

Huppe sr. het gesê sy seun, wat in die inligtingstegnologiesektor gewerk het, het nog die oggend gebel om aanwysings na die Leeupark te kry.

"Dis verskriklik hartseer dat ons hom so vroeg in sy lewe moes verloor. Hy het hard gewerk," het 'n getraumatiseerde Huppe gesê.

Mnr. Karl Huppe (24), Huppe jr. se jonger broer, het gesê die gesinslede het almal traumaberading ontvang. Hulle het gisteraand by hul ouerhuis in Glen Marais in Kempton Park saamgetrek.

Melass was gister hartseer oor die voorval. "Ek sê altyd vir my personeel 'veiligheid eerste'. Gee eerder die geld as om jou lewe in gevaar te stel. Ek dink die rowers het paniekerig geraak en toe die man (Huppe) geskiet."

Hy het gesê al die geld van die dag is gesteel – die toegang-, restaurant- en kurio-winkel se geld.

"Van die mense se persoonlike besittings is ook geroof.

"Suid-Afrika het 'n probleemgebied geword."

Volgens Van Staden het die rowers 'n tweede skoot geskiet, maar niemand getref nie. Hulle het weggejaag in twee groen BMW's, 'n maroen Toyota Conquest en 'n wit Volkswagen Jetta. Geen verdagtes is nog aangekeer nie.

  • Mense met inligting oor die voorval kan die Muldersdrift-polisie se speurtak kontak by 011 957 2312.

    Misdaad in dié gebied

  • Volgens die jongste misdaadsyfers is die drie polisiekantore in die omgewing van die Leeupark (Sandton, Honeydew en Douglasdale) onder die 20 polisiekantoor-gebiede in die land met die hoogste huisrooftogsyfers.
  • In die kategorie van rooftogte by sakeondernemings is Sandton vyfde op die lys en Honeydew kort op sy hakke.
  • Die Honeydew-polisiekantoor is in die 13de plek onder die 20 kantore met die hoogste syfer vir poging tot moord.

    Voorige voorvalle

  • Mei 2008: Drie leeus verskeur 'n onbekende man wat by 'n kamp in die Leeupark instap.
  • Sowat ses maande gelede: 'n Veiligheidswag word doodgeskiet toe gewapende rowers ook toeslaan.
  • November 1993: Twee Taiwannese studente, mnr. Ming Theng Tsai en me. Tsjia Jen Tsai, sterf toe 'n trop leeus hulle aanval terwyl hulle 'n meter van die leeus vir 'n foto poseer.
  • No comments: