Friday, July 18, 2008

Oupa veg met byl tot die dood toe

*Oupa veg met byl tot die dood toe*

Jul 16 2008 10:39:12:030PM

'n Oupa (82) het met 'n byl in die hand tot die dood toe baklei om sy
70-jarige vrou teen vyf gewapende aanvallers te beskerm.

Virginia Keppler en Elana Carstens

'n 82-jarige oupa van Lombardstraat in Wonderboom-Suid, Pretoria, het
eergisteraand met 'n byl in die hand tot die dood toe baklei om sy 70-jarige
vrou teen vyf gewapende aanvallers te beskerm.

Mnr. Andries Visser sr. (82) is gedurende die aanval ses keer in die maag,
bors en onder die ken geskiet. Dít nadat die aanvallers op sy vrou, Deborah
(70), gespring, haar geskop en geslaan het.

Visser sr. het op sy vrou se hulpkrete gereageer en met 'n byl op die
aanvallers toegesak. Nadat hy geskiet is, het hy in die huis se gang af
gestrompel en voor die badkamer se deur ineengesak waar hy "in 'n plas bloed
gesterf het".

Mev. Visser is in die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria waar sy
vir haar wonde en trauma behandel word.

Dié egpaar, organiseerders van die jaarlikse nasionale jukskeitoernooi vir
senior burgers in Kroonstad, is eergister om omstreeks 21:00 in hul kombuis
oorval.

Me. Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder, het gesê mev. Visser wou 'n
buitekamer se deur gaan sluit toe sy in haar kombuisdeur oorval is.

Die egpaar se seun, mnr. Dries Visser jr. (40) van Centurion, en sy kinders,
Juan (9) en Henning (5), het voor die aanval tussen 18:00 en 19:00 by sy
ouers gekuier. "Om 22:00 het ek 'n oproep van my ma gekry dat my pa geskiet
is," het hy hartseer gesê.

"Die rowers het my ma eerste oorval en haar geskop, geslaan en op haar
gespring. Hulle het op haar gespring," het hy in ongeloof herhaal.

Volgens hom het sy ma geskreeu en sy pa het uit die slaapkamer na die
kombuis gehardloop om haar te help.

"Ek weet nie waar my pa die byl gekry het nie, maar hy het probeer
terugbaklei en een van die rowers raak gekap. In die bakleiery het die
rowers hom ses keer raak geskiet."

Visser jr. het gesê verskeie koeëlgate in die gang se mure getuig dat meer
as ses keer op sy pa geskiet is.

Visser jr. het gesê die bure het sy ma se hulpkrete gehoor. "Toe hulle
ondersoek gaan instel, het hulle gesien hoe die rowers oor my pa-hulle se
hek spring en deur 'n gat in die heining oorkant die pad teen die koppie op
vlug.

"Die polisie het die berg by die reservoir met behulp van helikopters
gefynkam, maar die rowers het weggekom. My pa is dood en hulle het 'n
selfoon en my ma se handsak met minder as R200 daarin gesteel. Dit is
belaglik," het hy gesê.

Hy het gesê hy en sy suster, me. Zeldi van Straten (43), is diep bekommerd
oor hul ma omdat sy hartprobleme en hoë bloeddruk het.

Mev. Elna Lubbe (39), die Vissers se peetkind, het in trane vertel hoe
geskok sy is. Sy het gisteroggend haar peetma in die hospitaal besoek en het
gesê mev. Visser is baie deurmekaar van die skok.

"Ouma vertel herhaaldelik hoe Oupa in die gang in sy eie bloed gelê het."

Lubbe het gesê die Vissers se hond is 'n maand gelede vergiftig en dat mev.
Visser glo drie dae voor die aanval 'n groen motor voor die huis sien sirkel
het.

"Dit was asof hulle dit al maande lank beplan," het Lubbe gesê.

Mnr. Basie Smit (71), 'n jare lange vriend van die Vissers wat saam met
hulle jukskei gespeel het, was gister erg ontsteld: "Ek ken hulle al jare en
hy het in 1997 die eerste jukskeitoernooi vir senior burgers in Kroonstad
gereël.

"Andries het tot verlede jaar nog jukskei vir die klubliga gespeel," het
Smit, wat sowat twee strate van die Vissers woon, gesê.

Von Benecke het gesê die polisie ondersoek 'n klag van moord en huisroof.

Visser sr. laat nog twee kleinkinders, Zeldine (9) en Zandré (14), agter.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2358780,00.html

No comments: