Thursday, July 24, 2008

Eis teen onkunde van Staat

* Ma, seun eis van staat -

Jul 23 2008 11:00:13:897PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het 'n regsplig gehad om mnr.
Jan Andries Botha (57), wat dood is nadat hy by sy kantoor op die
destydse Johannesburgse Internasionale Lughawe geskiet is, te beskerm
teen geweldsmisdade wat mag voortspruit uit die gebruik van
vuurwapens.

Só word gesê in die hofstukke van Botha se weduwee, Rucille (56), en
haar seun, Ruan (24), in die Pretoriase hooggeregshof.

Mev. Botha en haar seun, albei van Beyerspark, Boksburg, doen weens
haar man se dood aansoek om summiere vonnis teen die minister van
veiligheid en sekuriteit van bykans R1,2 miljoen plus rente.

Hulle doen aansoek om summiere vonnis omdat die minister nie
verdediging aangeteken het nie nadat die Bothas se dagvaarding op 29
April vanjaar op hom beteken is. Die ma en seun sê hulle was albei van
die oorledene afhanklik vir hul onderhoud.

Luidens hofstukke is mnr. Botha sr., wat 'n bestuurder van Express Air
Services was, op 9 September 2005 doodgeskiet deur mnr. Justice Baloyi
(29), 'n werknemer van dié onderneming.

Baloyi het glo op 31 Augustus 2005 by Express Air Services se kantoor
op die lughawe gedreig dat hy Botha en mnr. Basson Piek, nog 'n
werknemer, sou doodskiet met sy (Baloyi se) vuurwapen. Baloyi het glo
gedreig dat hy homself daarna sou doodskiet.

Mnr. Botha sr. het dié voorval by die SAPD aangemeld en 'n klag teen
Baloyi ingedien, sê die eisers.

Die Bothas voer aan die polisie het versuim om behoorlike aandag te
gee aan die klag; versuim om Baloyi te arresteer en te deursoek vir 'n
vuurwapen; versuim om sy vuurwapen af te neem; en versuim om redelike
stappe te doen om te verhoed dat Baloyi vir Botha sr. skiet.

Weens die onregmatige en nalatige optrede van polisielede en die feit
dat Botha sr. dood is, het die eisers hul onderhoud verloor en skade
gely, word beweer. Die eisers sê elke mens het die reg tot lewe en die
reg tot veiligheid. Dit sluit die reg in om vry te wees van alle vorme
van geweld van óf openbare óf private oorsprong. Die Grondwet plaas 'n
plig op die staat om die regte in die Handves van Regte te beskerm, te
bevorder en te verwesenlik, "veral met inagneming van die feit dat die
toenemende beskikbaarheid en misbruik van vuurwapens en ammunisie
beduidend tot die hoë vlakke van geweldsmisdade bydra".

Mev. Botha eis R1 119 544 plus rente. Haar seun eis R79 795 plus rente.

Baloyi het homself in die kop geskiet ná hy Botha sr. geskiet het.
Volgens mev. Botha was Baloyi by diefstal betrokke en haar man het
besluit om hom af te dank, lui die verslag.

Botha sr. is toe na die Milpark-hospitaal gehaas waar hy later oorlede is.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2362910,00.html

No comments: