Friday, July 11, 2008

Man vir NIKS !! Doodgeskiet !!

'Hardloop, liefie! Hardloop!'
Jul 10 2008 09:34:04:243PM  - (SA)  






Dries Liebenberg

Durban. – "Hardloop, liefie! Hardloop!"

Met dié woorde het 'n tophengelaar van Zoeloeland waarskynlik sy vrou se lewe gered oomblikke voordat 'n rowerkoeël sy longe en hart deurboor het.

Mnr. Clive Hunter (35) en sy vrou, Zelda (34), het Dinsdag kort voor 18:00 op Alkantstrand, Richardsbaai se hoofstrand, gehengel toe vier jong mans hulle uit die bosse genader het.

Die egpaar was besig om op te pak nadat die res van die hengelaars wat saam met hulle by Pipeline, 'n gewilde visvangplek, was al vroeër vertrek het. Toe Hunter die mans sien, het hy vir sy vrou gesê sy moet die see inhardloop as hy die teken gee.

Volgens mnr. Errol Hunter, die oorledene se pa, het die rowers die egpaar waarskynlik vooraf dopgehou. Die Hunters is van twee kante genader, waarna die mans 'n geselsie aangeknoop het. Toe die mans na Zoeloe oorslaan, kon sy skoondogter aanvoel haar man raak gespanne, het Hunter sr. gesê.

Toe een van die mans 'n pistool uithaal, het hy vir sy vrou geskreeu om te hardloop.

Mev. Hunter het tot kniediep die water ingehardloop en daarna parallel aan die strand na die naaste pier om hulp te kry.

Terwyl sy "soos nog nooit tevore nie" gehardloop het, het sy agter haar 'n skoot hoor klap, het Hunter sr. gister vertel.

Sy skoondogter het sowat 300 m verder ander hengelaars teëgekom wat saam met haar terug is en in die donker na haar man gesoek het. Sy lyk is later op die strand gekry.

Die aanvallers het net met Hunter jr. se hengelgereikis ter waarde van sowat R60 gevlug.

"Dank die Vader hul kinders was nie saam met hulle nie, want ek weet nie wat dan sou gebeur het nie," het Hunter sr. gesê. Sy kleinkinders, Brandon (13) en Megan (6), het tydens die tragedie by hom op Scottburgh gekuier.

Hunter was die vise-president van Zoeloeland se strandhengelvereniging en is onlangs aangewys as die beste hengelaar in die streek die afgelope jaar. Sy vrou sou die naweek aan haar eerste hengelkompetisie deelgeneem het. Hunter jr. was 'n vriendelike mens wat uit sy pad sou gaan om mense te help, het sy pa gesê.

'n Gedenkdiens word oormôre 11:30 op Alkantstrand gehou.

No comments: