Thursday, July 10, 2008

Colesberg

Interdik teen munisipaliteit toegestaan
Moet elektrisiteit aanskakel

Frans Coetzee Volksblad 10:07:08
COLESBERG. – 'n Dringende interdik van die
Umsobomvu-belastingbetalersvereniging om die elektrisiteit van tientalle
inwoners weer aan te skakel, is gistermiddag laat hier in die
landdroshof toegestaan.

Ingevolge die tussentydse bevel moes die Umsobomvu-munispaliteit die
elektrisiteit gisteraand teen 20:00 aangeskakel het, anders sal
strafregtelik teen hom opgetree word.

Tientalle sake-ondernemings en huishoudings op die dorp was gister in
bittere koue en skemerdonker gedompel nadat die munisipaliteit
elektrisiteit hier "wild en wakker" afgesny het.

Dit volg op 'n "dreigbrief" van mnr. A.C. Mpela, munisipale bestuurder
van die Umsobomvu-munisipaliteit (Colesberg, Norvalspont en Noupoort),
gedateer 23 Junie.

Hierin word onder meer geskryf indien uitstaande dienstegeld nie op 4
Julie betaal word nie, die dienste gestaak sou word.

Mnr. Johan Matthee, voorsitter van die
Umsobomvu-belastingbetalersvereniging, sê hy is heeldag deur
telefoonoproepe oorval van lede wat kla dat hul elektrisiteit afgesny
is.

"Ons regsverteenwoordigers het onmiddellik 'n brief aan Mpela, mnr. D.
Visagie, finansiële bestuurder, en mev. L. Hermans, burgemeester, gerig
waarin die onwettige afskakeling van die krag veroordeel word."

Aangeheg by die brief is 'n lys van sowat 30 ondernemings en private
wonings wie se elektrisiteits-rekenings op 4 Julie deur die
belastingbetalersvereniging betaal is, maar tog afgesny is.

Luidens die prokureursbrief sal dié optrede die inwoners erge skade
berokken.

"U aandag word daarop gevestig dat lede van die gemeenskap wat afhanklik
is van mediese apparaat kan sterf indien dit nie werk nie.

"Dit sal aanklagte van strafbare manslag en selfs poging tot moord tot
gevolg hê."

Volgens die brief is die munisipaliteit se optrede 'n verbreking van die
munisipale stelselwet en die elektrisiteitreguleringswet.

Die munisipaliteit se optrede volg op 'n dispuut wat die
Umsobomvu-belastingbetalersvereniging met die munsipaliteit weens swak
dienslewering verklaar het.

Hiervolgens betaal lede van die vereniging sedert 1 Julie nie meer geld
vir dienste gelewer aan hul onderskeie munisipaliteite nie.

Dit is een van talle dorpe en stede in die land wat hul dienstegeld in
'n trustrekening betaal waaruit selektief net vir sekere dienste, soos
byvoorbeeld elektrisiteitsverbruik, aan die betrokke munisipaliteit
betaal word.

Die prokureursfirma Döhne & Fourie op die dorp tree namens die
belastingbetalersvereniging op.

No comments: