Tuesday, July 29, 2008

Partytjiegangers oorval en aangerand

Dr. Wayne Truter (32) lê in pyn in die Pretoria-Oos-hospitaal nadat hy
deur rowers aangerand is. Foto: Leon Botha

Jul 28 2008 10:56:37:737PM - (SA)

Virginia Keppler

'n Motorwag is gewond en 'n dosent van Tukkies erg aangerand toe
minstens ses gewapende rowers die naweek op 'n verjaardagpartytjie in
Faerie Glen in die ooste van Pretoria toegeslaan het.

'n Rower het 'n vuurwapen op 'n dansende dr. Wayne Truter (32) gerig
en die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie.

Truter en sowat 15 gaste het Saterdagoggend omstreeks 02:30 die 30ste
verjaardag van sy verloofde, me. Minandi Mostert, gevier toe die
rowers hulle oorval het.

Truter (32), 'n dosent aan die Universiteit van Pretoria (UP) se
departement plantproduksie, is in die aanval erg aangerand en byna
doodgeskiet. "Een van hulle het sy vuurwapen op my gerig en die
sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. Ek was baie
gelukkig," het Truter gister gesê.

Volgens Truter het hy en nog vyf mense gedans toe 'n rower met 'n
vuurwapen die motorhuis ingestap en 'n wapen op hulle gerig het. "Toe
ek dit sien, het ek onmiddellik ge-hands up. Dit was soos 'n
cowboy-fliek."

Hy het uit die motorhuis na die huis gehardloop om sy sleutels – met
die noodknoppie daaraan – te kry.

Intussen het ander rowers sy verloofde en die res van die gaste
gedwing om op die stoep te lê. "Ek het weer uitgehardloop en wou agter
in die erf deur die tuin na die bure vlug om hulp te kry, toe drie van
die rowers my gegryp en tot agter in die erf sleep.

"Hulle het my aangerand, in my maag waar ek onlangs 'n breukoperasie
gehad het, geskop en my met 'n baksteen of pyp teen die linkerbeen
geslaan. Ek het geval en toe het die een my probeer skiet."

Die skoot het nie afgegaan nie, waarna die rowers oor die muur
gespring en gevlug het. Hy het toe besef sy been is ernstig beseer en
dat die motorwag in die arm geskiet is. Truter en die wag is in die
Pretoria-Oos-hospitaal opgeneem, waarna die wag na die Pretoriase
Akademiese Hospitaal oorgeplaas is. Die wag is gehuur om die gaste se
motors op te pas. Die wag, wie se naam nie bekend gemaak is nie, is in
'n stabiele toestand.

Mostert het gister gesê sy hou nie weer partytjie by die huis nie.

"Dit is te gevaarlik. Volgende jaar gaan ons Spur toe."

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie
ondersoek klagte van poging tot moord, gewapende roof en aanranding
met die doel om ernstig te beseer. Niemand is nog in hegtenis geneem
nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2365779,00.html

No comments: