Friday, July 18, 2008

Tandarts by skietbaan met eie wapen vermoor.

Dié foto van dr. Paul Mouton is sowat tien jaar gelede geneem. Foto: Verskaf

Jul 14 2008 10:51:08:070PM - (SA)

Leané du Plessis

'n Bekende tandarts van Johannesburg is gister koelbloedig van agter
af met sy eie pistool op 'n skietbaan doodgeskiet nadat rowers hom
vermoedelik bekruip het.

Dr. Paul Mouton (74) se kleinseun, Jonathan (22), 'n Netcare
911-paramedikus, het sy oupa vergeefs probeer red nadat hy op die
toneel aangekom het, het Mouton se seun, mnr. Paul Mouton jr. (45),
gister vanuit sy ouerhuis in Parkview vertel.

Mouton is minstens vier keer geskiet, waaronder twee keer in die rug
en een keer in die regterskouer.

Wát presies gistermiddag by die Durban Deep Rifle Club in Roodepoort
gebeur het, is nog onseker.

"Ons vermoed my pa het na die teiken toe geloop nadat hy 'n paar skote
daarop geskiet het.

"Die rowers het vermoedelik toe oor die heining (aan die agterkant van
die skietbaan) gespring en hom bekruip," het Paul jr. vertel.

Hulle het vermoedelik een van Mouton se handwapens van die tafel af
geneem en hom van agter af daarmee geskiet.

Ene David, die opsigter by dié klub, het kort daarna op Mouton
afgekom, het Paul jr. gesê.

"Lede van 'n mynveiligheidsmaatskappy het op die baan langsaan geoefen
en het David gehoor roep.

"My pa was toe nog by sy volle bewussyn en kon vertel wat gebeur het."

Volgens mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, het die
paramedici alles gedoen wat hulle kon, maar Mouton het op die toneel
aan sy wonde beswyk.

Niks is gesteel nie buiten Mouton se Colt Government 9 mm-parabellum,
een van die vier wapens waarmee hy dié dag gaan teiken-skiet het, het
kapt. Lydia Mtila-Dikolomela, polisiewoordvoerder, gesê.

Die ander handwapens is net so op die tafel gelos, tesame met Mouton se beursie.

Mouton het gistermiddag omstreeks 14:00 gaan skiet.

Dit was sy stokperdjie wat hy glo minstens een keer 'n week beoefen het.

Hy het dié liefde ook met ander lede van sy familie gedeel, het Paul
jr. se vrou, Erna, vertel.

"Dis verskriklik om te dink dat só iets juis gebeur het terwyl hy iets
gedoen het wat hy so geniet het."

Volgens Paul jr. is Mouton al twee keer vantevore aangeval. Sowat 16
jaar gelede het rowers hom in sy huis oorval en onder meer met 'n byl
oor die kop geslaan. Mouton het terugbaklei en kon dit regkry om die
rowers uit sy huis te jaag tot in die straat, waar hy sy bewussyn
verloor het.

Agt jaar later is hy in die Olivedale-praktyk in Pres. Fouchéweg –
waar hy tot nou toe gepraktiseer het – aangeval. "Gelukkig het hy het
daardie twee (aanvalle) oorleef, maar dié keer was hy nie so gelukkig
nie," het Paul jr. gesê.

Mouton se vrou, Galena, was gisteraand nog in erge skok.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2357616,00.html

No comments: