Thursday, July 3, 2008

Artikel in Beeld

Sake24
Volksblad
Donderdag
3 Julie 2008
Bl.18
Agter die nuus
Briewe

Sorg vir jou eie heil of snork op
Die artikel "Terughou van taks soos klip gooi" wat op 26 Junie verskyn
het, verwys.
Die artikel onderstreep 'n fundamentele ongebalanseerdheid wat grens aan
'n siekte van ons tyd: onvermoë deur onbetrokkenheid.
As individue dwing ons eenvoudig nie ons verbruikersreg, wat met ons
betalings ontstaan, produktief af nie en benut dit ook nie produktief
nie. Dit geld vir die goedere, dienste en geriewe waarvoor ons
belasting, heffings en pryse betaal.
Hierdie nalating veroorsaak 'n dilemma waarvan die negatiewe resultate
daagliks op alle vlakke en in alle sektore van ons samelewing
manifesteer.
Die rede vir hierdie dilemma is dat ons in die algemeen as individue,
individueel en/of gesamentlik, eenvoudig nie beskik oor die nodige wil,
betrokkenheid, geld, kundigheid, strukture, ens. om produktief daaraan
deel te neem nie.
Die pogings om aanvaarbare munisipale dienste deur die weerhouding van
betaling op te dwing, is positiewe en opbouende aksie. Dit kan net
verwelkom en aangemoedig word. Ek kan aan geen beter metode dink nie as
om net te betaal vir dit wat jy kry en te sorg dat jy kry waarvoor jy
betaal. Dit is 'n demokratiese en ekonomiese reg, maar geld net as ons
ons plig nakom om dit op te eis.
As daar gebreke in hierdie benadering bestaan, is dit eerder gebreke in
ons verskillende stelsels om die inwoners behoorlik te dien. Gebreke van
dié aard behoort eerder so gou moontlik reggestel te word. Positiewe
insette bly 'n vereiste om 'n positiewe lewensgehalte teweeg te bring en
dit volhoubaar te maak.
Om dit te kan verwesentlik, verg dat die volgende leemtes produktief
aangepak word:
As betalers moet ons besef dat ons altyd óf negatief óf positief bydra,
ons kan nie nie bydra nie, selfs al sou ons wou.
Die kernvraag is in watter mate is individue betrokke en dra hulle by om
hul saak uit eie perspektief te bevorder. Om positiewe pogings af te
kraak, dra slegs by tot ons elkeen se eie en gesamentlike nadeel. Dit
geld ook die draadsitters en niksdoeners.
Die belangrikste bron waaroor ons as betalers nie beskik nie is, ironies
genoeg, geld om ons eie optrede te finansier. Wanneer 'n kwessie
byvoorbeeld met 'n munisipaliteit ontstaan, word ons betalings bloot as
uitgawe/koste aangewend en vir optrede teen ons gebruik.
Enige land se owerhede, grondwet, instellings en aktiwiteite behoort in
die diens van sy mense te staan en die mense moet dit self as sodanig
ervaar. As dit nie die geval is nie, moet laasgenoemde dit regstel – dit
is hul reg en plig.
Deur onsself te mobiliseer en te bemagtig met die nodige kundigheid,
vaardighede en deelname, kan ons positief daartoe bydra dat ons
demokratiese en ekonomiese stelsels produktief funksioneer.
Dit is absoluut noodsaaklik vir ons mense om skouer aan die wiel te sit
om aan die hand van die gestelde voorbeeld hul eie heil uit te werk –
solank daar nog geleentheid is – andersins moet hulle maar genoeë neem
wat die elite vir en met hulle doen.
Ons kan slegs 'n beroep doen op en aandring by mense dat hulle betrokke
raak by plaaslike aksies deur hul aktiewe ondersteuning, deelname en eie
inisiatiewe.
Die noodsaak en dringendheid aan betrokkenheid en deelname word verhoog
in die lig van die algemene verkiesing aanstaande jaar.
Dit is nie nodig om politiek te speel nie, maar dit is ons reg en plig
as nie-politieke aksie om by elke politieke party aan te dring dat hulle
kennis neem en hulle verbind om toe te sien dat die owerhede voortaan
die inwoners ook op nie-politieke vlak moet dien en hul belange in die
geheel bevorder.
Raak betrokke. En as daar nie aksie kom nie, verdomp, sorg dat daar kom.
Johann Verheem
PRETORIA

No comments: