Thursday, July 3, 2008

Bejaarde egpaar vir niks vermoor

'NOU'S EK 'N WEESKIND' Me. Marthie Potgieter vertel van die moorde op
haar ouers nadat hulle gekaap en op 'n hoofweg aan die Oos-Rand
doodgeskiet is. Foto: Mary-Ann Palmer

Mev. Yvonne en mnr. Willem Ras saam met hul enigste kleinkinders,
Carmen (7, links) en Corli (10).

Jul 01 2008 10:36:55:240PM - (SA)

Gloria Edwards

'n Bejaarde kankerlyer en sy vrou is op die N12 aan die Oos-Rand
geskiet – sonder dat hul aanvallers hul motor of enige besittings
geroof het.

Mnr. Willem Ras (66), wat aan kanker en Parkinson se siekte gely het,
en sy vrou, Yvonne (64), is Saterdagaand gekaap, geskiet en naby
Eldoradopark vir dood gelaat.

Mnr. Ras is eers in die rug geskiet en toe uit die bewegende motor
gestamp. Hy is op die toneel dood. Sy vrou is in die nek geskiet en
vir dood in die motor gelos.

Sy het gister in die Garden City-hospitaal in die weste van
Johannesburg aan haar wonde beswyk. Die aanvallers het sonder die
motor, 'n Toyota Corolla, of enige van die egpaar se besittings
gevlug.

Die Rasse was omstreeks 22:00 op pad terug na hul woonstel in Alberton
nadat hulle in Randfontein by hul enigste kind, me. Marthie Potgieter
(37), en twee kleinkinders gaan kuier het.

Volgens die polisie het die moordenaars die egpaar vermoedelik iewers
van die pad afgetrek en saam met hulle in hul motor gespring. Die
verdagtes het hulle waarskynlik gedwing om op die N12-hoofweg na
Eldoradopark te ry, waar hulle mnr. Ras naby die Boundary Road-brug in
die rug geskiet en uit die motor gegooi het.

Kapt. Philemon Khorombi, Eldoradopark-polisiewoordvoerder, het gesê
die polisie het die motor omstreeks 12:35 Sondag gevind. "Mev. Ras is
met 'n skietwond in die nek gevind. Sy het nog asemgehaal en is na die
hospitaal geneem. Mnr. Ras se lyk is 'n entjie van die motor gevind.
Dit lyk nie of enigiets gesteel is nie."

'n Moordsaak word ondersoek.

Potgieter, 'n enkelma, sê dit gaan haar "verstand te bowe" dat haar
ouers "so vir niks" vermoor is. Hul juwele, kontant en ander
besittings is in die motor gevind en vir haar gegee. "Tot my pa se
kruis-hangertjie van egte goud wat my ma 25 jaar gelede vir hom gegee
het, was nog om sy nek."

Sy het eers Sondagoggend vermoed iets skort nadat haar ouma, me.
Corrie Wijnbeek (95), haar laat weet het haar ouers het nie by hul
woonstel opgedaag nie.

Potgieter beskryf haar ouers as "liefdevolle kerkmense".

Sy het gister, kort ná haar ma se dood, vertel sy is bitter teenoor
die moordenaars, wat haar nou " 'n weeskind" gemaak het. Haar dogters,
Corli (10) en Carmen (7), is erg getraumatiseer. "Hulle het gister
briefies aan Oupa geskryf vir sy begrafnisblaadjie, nou moet hulle vir
ouma ook.

"Hierdie land moet wakker skrik en weer die Here leer ken. Wit, swart,
groen en geel moet weer die kerke volsit."

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2350363,00.html

No comments: