Tuesday, July 8, 2008

Onnodig om hom te skiet

'Onnodig om hom te skiet'
Jul 07 2008 10:22:27:910PM  - (SA)  



Mev. Frances McNamee, in wie se arms Kurt gesterf het.



Verwante Berigte
  • Leeupark-moord se 16 steeds soek
  • Man (27) in Leeupark doodgeskiet

  • Gloria Edwards

    'Ek het na hom gehardloop en hom gegryp waar hy inmekaar gesak het. Hy kon nie praat nie. Ek het probeer help, maar hy het so vinnig gesterf."

    Só het die vrou gister vertel in wie se arms 'n jong man gesterf het wat tydens 'n rooftog eergister by die Leeupark in Muldersdrift doodgeskiet is.

    "Hulle hoef hom nie dood te geskiet het nie. Hulle het dan reeds die geld gesteel en hy was nie gewapen nie," het mev. Frances McNamee (49) gesê oor die voorval waarin haar aanstaande skoonseun, mnr. Kurt Huppe (27), dood is.

    Huppe van Benoni aan die Oos-Rand is in die bors geskiet toe hy uit die badkamer waar hy sy hande gaan was het, by die restaurant in dié park ingestap het.

    Agt rowers het die restaurant se kassiere beroof en was besig om uit te hardloop toe Huppe niksvermoedend ingestap kom.

    Een van die rowers het hom geskiet.

    Sy verloofde, me. Stacey Wooley (23), wat vier maande swanger is met sy kind, haar dogter, Tyler (6), haar ma, McNamee, en McNamee se ander kleinkind (2) het onder tafels ingekruip toe die rowers op die restaurant toegeslaan het.

    Volgens insp. Odette van Staden, polisiewoordvoerder, het agt rowers omstreeks 14:30 by die restaurant ingebars. Vier van hulle was met 9 mm-pistole gewapen.

    "Ek het eers gedink 'n leeu het ontsnap toe almal begin skree, maar toe sien ek 'n rower met 'n pistool," het McNamee gister vertel.

    Sy wou haar aanstaande skoonseun gaan waarsku en het na die deur begin kruip toe sy 'n skoot hoor en sien hoe hy inmekaar sak.

    Sy het gesê Huppe was haar dogter se steunpilaar. Hy en Wooley was vyf jaar in 'n verhouding en het in Februarie verloof geraak. "Hy het so goed vir my dogter en kleinkind gesorg. Klein Tyler was mal oor hom en hy was so opgewonde oor hul baba wat op pad is."

    Sy het gesê Wooley is ontsettend geskok. "Sy weier om te glo hy is dood."

    Wooley wou gister nie met die media praat nie.

    Mnr. Dieter Huppe het sy seun, wat in die inligtingstegnologiesektor gewerk het, as 'n positiewe, hardwerkende mens en "wonderlike seun" beskryf. "Sy dood was absoluut sinloos."

    Die begrafnis is Vrydagoggend in Kempton Park.

    No comments: