Sunday, July 27, 2008

Van 55 plase tot breë streekverval

Mnr. Kobie Cronjé is een van die 55 boere van die Levubu-vallei wat
hul grond aan die regering verkoop het. (Foto: Doug Lee)

26/07/2008 21:44 - (SA)

Willem Pelser

Levubu (Limpopo)

In Levubu kan jy nie met afstandbeheer in die plaashuis sit en boer nie.

Só sê die mense wat dié stuk vrugbare aarde oos van Louis Trichardt ken.

Híér moet jy intensief boer. Jy moet dag en nag by jou plaas wees.

Maar toe die regering 55 plase hier kom oorvat het, het hulle dit
anders gedoen. Hulle het meer as 50 boere vervang deur minder as 10
plaasbestuurders wat partykeer tot twee weke lank nie op elke plaas
uitkom nie.

Die titelaktes van die plase is nie aan die grondeisers oorgedra nie.
Hulle het net die vruggebruik.

En die gevolg is rampspoed vir die hele streek.

Produksie het in twee jaar drasties gedaal. Minstens 1 000
plaaswerkers het reeds hul werk verloor.

En die boere sê die gebied begin nou éérs die negatiewe ekonomiese
uitwerking voel. Die rede is dat die boere wat weg is, en hul
familielede, werkskeppers was, terwyl diegene wat die plase oorgeneem
het dit nie is nie, sê mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die TLU se
Soutpansbergdistrik-landbou-unie.

Die eiendomsmark, en veral die huurmark, het in duie gestort en meer
as een sakeonderneming moes al sluit omdat die koopkrag van die
distrik aansienlik afgeneem het.

Dit sluit in 'n groot vervoermaatskappy wat vars produkte vervoer het
en 'n algemene handelaar.

Saam met die ekonomiese agteruitgang het maatskaplike verval gekom, sê Hoffman.

Die NG kerk se hulpverlening aan behoeftige gemeentelede moes in 'n
paar maande vyfvoudig verhoog word, sê die voorsitter van die NG kerk
Levubu se finansiëledienste-kommissie, mnr. Lionel Hartman.

Die dalende produksie het reeds begin om groente en vrugtepryse in
veral Gauteng te beïnvloed.

"Agt jaar gelede het ons vallei R500 miljoen se produkte gelewer. Tot
tien vragmotors wat 30 ton kan dra was elke week nodig om die produkte
hier weg te ry markte toe," sê Hoffman.

"Nou kan ons nie eens twee sulke vragmotors in 'n week vol laai nie," sê hy.

Hartman is hoofbestuurder van die Mopani-pakhuis, waarin boere se
oeste gepak word. Hy sê die avokadoproduksie het van 230 000 kissies
per jaar tot 160 000 gedaal. Verlede jaar, sê Hartman, het van die
nuwe boere R1 miljoen se inkomste uit advokado's verloor omdat hulle
die oes te laat gepluk het.

Die lietsjie-oes is 38% minder sedert die 55 boere weg is, volgens 'n
omvattende verslag van mnr. Piet Muller, 'n landbou-ekonoom van die
gebied.

Volgens die verslag is 400 ton makadamia-neute verlede jaar by
fabrieke weggewys weens probleme met die gehalte. Die neute is deur
vragmotors in riviere en spruite in die omgewing gestort.

Mnr. Herman de Jager van die Levubu-boerevereniging het verlede jaar
skade van R400 000 gely weens peste en plae wat van sy buurplaas af
oorgewaai het omdat sy nuwe buurman nie onkruiddoder gespuit het nie.

Die meeste van die plase wat aan grondhervormig afgestaan is, word nou
deur South African Farm Management (SAFM), 'n maatskappy van Tzaneen,
bestuur.

SAFM gebruik baie minder mannekrag op bestuursvlak en op grondvlak as
wat die boere gebruik het, en dit is moeilikheid soek, sê boere van
die distrik.

Volgens Muller se verslag gebruik die nuwe boere een plaaswerker op
sowat 8 tot 10 ha terwyl die boere wat weg is, een werker op elke 2 ha
ingespan het.

Hy het uitgewerk dat "konserwatief bereken" minstens 1 000
plaaswerkers nou al hul werk verloor het nadat die 55 kommersiële
boere weg is.

Oorsprong:Rapport

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2364797,00.html

No comments: