Saturday, July 12, 2008

Bejaarde dood in sel gevind

Bejaarde dood in sel gevind

Jul 11 2008 09:17:31:947PM

'n Man met Alzheimer se siekte is Dinsdagaand in die polisieselle dood
'n paar uur nadat hy van winkeldiefstal beskuldig is.

Arisja Jacobs

Kriel. – 'n Man met Alzheimer se siekte is Dinsdagaand hier in die
polisieselle dood 'n paar uur nadat hy van winkeldiefstal beskuldig
is.

'n Veiligheidswag het mnr. James Frederick Brown (69) glo
Dinsdagmiddag in Shoprite gegryp omdat hy nie vir 'n Top
Deck-sjokolade van R8,50 betaal het nie.

'n Bejaarde ooggetuie, wat anoniem wil bly uit vrees vir weerwraak,
het gesien hoe 'n groep mense in die winkel saamdrom en Brown dra.
"Klein kinders het onderdeur die man gewoel en hom geslaan terwyl die
ander mense hom bo gehou het. Dit was afgryslik. Selfs die kassiere
het saam geskree dat hulle die ou man moet doodmaak as hy chocolates
wil steel."

Volgens Brown se dogter, mev. Rose-Marie Steyn, het hy omstreeks 12:30
die middag van hul huis in Springboksingel na die dorp se sakesentrum
gestap en het almal op die dorp van sy siekte geweet. "Ons het
bekommerd geraak toe hy omstreeks 13:30 nog nie tuis was nie."

Intussen het 'n haarstilis mev. Steyn se man, Willie, laat weet dat
mnr. Brown vir winkeldiefstal in hegtenis geneem is.

"Ons het die hele middag by die polisiestasie gesukkel om hom te sien,
maar die polisie het geweier. Hulle het gesê hy is aggressief en moet
liewer slaap."

"Ons het vir die polisie verduidelik dat my man Alzheimer se siekte
het, maar hulle het nie geluister nie," het Brown se vrou, Rosa, gesê.
" 'n Polisieman het aan my gesê hy het sy rewolwer op my man gerig
omdat James so wild was." Die polisie het glo aangedring dat Brown tot
18:00 in die selle aangehou word.

"Toe hulle hom uiteindelik wou gaan haal, het Willie saamgegaan om my
pa te kalmeer," het mev. Steyn gesê.

Brown het op sy rug op die grond met sy kop in 'n plas bloed gelê.
Volgens die polisie het Brown vermoedelik in die sel agteroor geval en
sy kop gestamp.

Dr. Leon Pelser het Brown in die sel ondersoek.

"Die sel was so donker dat ek 'n polisieman moes vra om sy flitslig
aan te sit sodat ek kon sien wat ek doen. Ek het in die haglikste
omstandighede 'n lugpyp in mnr. Brown se keel gedruk en sy hart
gemasseer, maar vergeefs. Ek het 'onnatuurlike dood' op die
doodsertifikaat geskryf. Ek het alles deeglik nagegaan, want ek het
besef hier kom 'n geregtelike doodsondersoek."

Volgens supt. Abie Khoabane, die polisie se provinsiale woordvoerder,
het Brown bloed aan sy gesig en op sy klere gehad toe die
veiligheidsbeamptes hom aan die polisie oorhandig het.

Brown het wonde aan sy regteroogbank, neus en ken, sowel as 'n gat in
sy agterkop gehad.

Volgens Khoabane wag hulle nog op die uitslag van die lykskouing, wat
laat gistermiddag gehou is. Me. Sonto Mlotshwa, Shoprite se
bestuurder, het gister bevestig Brown is vir winkeldiefstal aangekeer.
Sy het egter geen kennis gedra van 'n aanranding nie. Die
veiligheidswagte wou nie met Beeld praat nie.

'n Woordvoerder van die Shoprite-groep het bevestig daar was Dinsdag
'n insident in die winkel met 'n vermeende winkeldief.

"Die polisie ondersoek die voorval en die supermarkgroep is dus nie in
'n posisie om in hierdie stadium verdere kommentaar te lewer nie."

Brown se gesin is woedend.

"Hoe kan hulle dit aan 'n ou man doen? Al was hy soms moeilik, het hy
dit nie verdien nie. Hy het dalk net vergeet om vir die lekkerny te
betaal," het mev. Brown gehuil.

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2356252,00.html

No comments: