Wednesday, July 16, 2008

Vrou in eie huis verkrag

Jul 14 2008 10:26:19:703PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – 'n Vrou is eergisteraand in die vierde
gewelddadige huisrooftog in drie weke in gegoede woonbuurte in dié
stad verkrag.

Die vrou (21) en haar man is in hul huis in Sterpark deur twee
gewapende mans met skoenveters vasgebind. Die egpaar se vierjarige
dogter was in die huis tydens die rooftog.

Die polisie vermoed dieselfde twee rowers was by al dié huisrooftogte,
verkragtings en 'n moord die afgelope drie weke betrokke.

In die jongste voorval het twee gewapende mans eergisteraand tussen
20:00 en 21:00 toegeslaan.

Insp. Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder, sê die rowers het by 'n
skuifdeur van die huis ingebreek. Die egpaar is vasgebind terwyl die
booswigte die huis geplunder het.

Ramoshaba sê die vrou is glo deur die rowers na 'n spaarkamer gesleep
en verkrag.

Haar man en dogter het nie seergekry nie.

Volgens Ramoshaba is die egpaar se selfone en van hul klere gesteel.
Twee TV-stelle is ook gebuit.

Die rowers het daarna in die egpaar se swart Volkswagen Polo gevlug.
Die registrasienommer is FHV 122 N. Enigiemand met inligting word
versoek om die Polokwane-polisie by 0 015 290 6577/8 of die polisie se
noodnommer 0 10111 te skakel.

Dié voorval se modus operandi stem ooreen met ander twee huisrooftogte
en verkragtings.

Tydens die eerste voorval op Donderdag 26 Junie is 'n vrou (38) in
Florapark in haar huis oorval. Twee gewapende mans het omstreeks 20:00
die diefwering van 'n venster oopgebreek. Die vrou, haar twee dogters
van onderskeidelik vier en sewe jaar en hul huiswerker is vasgebind.
Juwele is onder meer gesteel.

Vermoedelik dieselfde twee mans het te voet na die nabygeleë
McDonaldstraat gevlug en by die huis van mnr. Piet Venter (56), 'n
bekende sakeman, ingebreek. Venter is doodgeskiet en sy vrou, Wilma
(54), is in haar been gewond. Geld, juwele en bankkaarte is hier
gesteel.

Op Vrydag 4 Julie is 'n vrou (27) in haar huis in Sterpark verkrag.
Twee mans het ná 20:00 by die agterdeur ingebreek waarna hulle die
vrou en haar 39-jarige man met pistole aangehou het.

Hul hande is vasgebind en lappe is in hul monde gedruk.

Die rowers het juwele, selfone, 'n rekenaar en die egpaar se Mazda
3-reeks motor gesteel.

Ramoshaba sê die rowers is steeds soek en niemand is nog weens die
vlaag van huisrooftogte gearresteer nie.

Intussen wys die polisie se jongste misdaadstatistieke dat
huisrooftogte skerp in Limpopo se hoofstad gestyg het.

Tussen April 2006 en Maart 2007 is slegs twee huisrooftogte by die
Polokwane-polisiekantoor aangemeld.

In dieselfde tydperk 'n jaar later het die syfer tot 32 gestyg.

Huisrooftogte het in Limpopo met 96,9% gestyg. In 2007-'08 is 319
huisrooftogte aangemeld, teenoor 162 voorvalle in 2006-'07.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2357523,00.html

No comments: