Tuesday, July 29, 2008

Man amper dood geskiet

Mnr. Hans Coetzee wys een van die drie skietwonde wat hy opgedoen het.

Jul 28 2008 10:56:39:160PM - (SA)

Buks Viljoen

Klik!

Dis al wat mnr. Hans Coetzee (53) eergisteroggend gehoor het toe 'n
rower wydsbeen bo-oor hom gestaan, 'n 9 mm-pistool op hom gerig en die
sneller getrek het.

Ten spyte daarvan dat dieselfde rower hom oomblikke vantevore drie
keer geskiet het, het dié skoot nie afgegaan nie.

Minute later is Coetzee se 57-jarige broer, Frik – 'n
oudpolisieoffisier van Phalaborwa – dood toe hy twee keer met
dieselfde pistool in die bors geskiet is.

"Die Here is aan my kant," het Coetzee jr., wat twee weke gelede 'n
ernstige motorongeluk oorleef het, gister uit sy hospitaalbed in die
Barberton Medi-Clinic aan Beeld gesê.

Die Coetzee-broers werk albei op die groenteplaas Ayerton, Barberton,
van mnr. Blikkies Blignaut.

Frik het sedert Januarie, toe hy as afleweringsbestuurder daar begin
werk het, in die woonwapark op Barberton gebly.

"Ons het elke Sondag by my huis gebraai," sê Hans, wat die afgelope 18
maande as plaasbestuurder op Ayerton werk. Die twee broers is
omstreeks 10:00 na die lande om groente te gaan pluk.

By hul terugkeer het hulle gesien daar is by die huis ingebreek.

"Toe ek na die gastebadkamer loop, het ek die twee gemaskerde rowers
in 'n inloop-linnekas gekry waar hulle wegkruip," vertel Hans.

Een rower was met 'n 12-boor-haelgeweer gewapen.

Dis vermoedelik dieselfde haelgeweer wat drie weke gelede tydens 'n
inbraak uit Hans se huis gesteel is.

"Toe hy die geweer oplig, het ek die loop weggeklap. 'n Skoot het in
die badkamer se plafon vasgeslaan."

Hy en die ander rower, wat 'n pistool gehad het, het begin stoei. In
die proses is die pistool verskeie kere gevuur. Hans is drie keer in
die sy getref.

"Ek het vir Frik geskree om te vlug, maar hy het in die gang
afgehardloop om my te kom help."

Die rower het twee skote met die pistool geskiet en hom in die bors getref.

"Hy is op slag dood. Hy het net op sy rug in die gangdeur gelê," het
Hans gesê. Die rowers het gevlug sonder dat iets gesteel is.

Frik se seun, Nelius, werk in die DRK en kom vandag hier aan.

Hy laat ook twee dogters, Dianna en Talita, agter.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2365776,00.html

No comments: