____________________________________________________________________________
AFRIKANER VRYHEIDSBULLETIN NR 20
JULIE / AUGUSTUS 2008
DIE DAGBESTUUR VERSKAF GRAAG DIE VOLGENDE INLIGTING AAN ALLE ONDER-TEKENARE VAN DIE VRYHEIDSBELOFTE. ELKE PERSOON WAT HIERDIE NUUSBRIEF ONTVANG, MOET SO GOU MOONTLIK AFSKRIFTE DAARVAN POS OF FAKS AAN AL DIE PERSONE WAT HY AS ONDERTEKENARE GEWERF HET. INGELIGTHEID EN GEREELDE ONDERLINGE KONTAK IS TWEE VAN DIE FONDAMENTSTENE VAN DIE BVI.
-IN HIERDIE UITGAWE
In hierdie uitgawe word die twee hooftemas van die vergadering van die Sentrale Vryheidskomitee van die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief wat op 5 April te Laingsburg plaasgevind het, gedek.
-VRYHEID : ONS TOEKOMS
In hierdie artikel gee die Dagbestuur van die BVI sy mening oor die aksies wat die huidige fase van ons vryheidstryd verg. Vir leiding en inspirasie word baie sterk uit ons historiese ervaring geput Die Dagbestuur is oortuig dat die herlewing van die vryheidsideaal in die harte van ons volksgenote tans die hoogste prioriteit moet geniet en maak 'n praktiese voorstel daaroor.
-BOEREGROND VIR DIE BOEREVOLK
In hierdie artikel word die ANC se grondonteieningswetgewing in oënskou geneem. Bestaande en beplande teenoffensiewe word binne die raamwerk die totale aanslag op Boeregrond beoordeel en gemeet aan 'n aantal vereistes om suksesvol te wees. Laastens word besonderhede verstrek van die BVI se teenoffensief en hoe Afrikaners daarby betrokke kan raak.
-------------------------------
VRYHEID : ONS TOEKOMS
HERLEWING VAN VRYHEIDSIDEAAL TANS DIE HOOGSTE PRIORITEIT
-AGTERGROND
Met al duideliker wordende tekens van die dreigende ineenstorting van die huidige politieke bestel in Suid-Afrika verskyn die moontlikheid van die herwinning van ons vryheid vir al meer Afrikaners op die horison. Saam daarmee ontstaan daar ook vrae oor strategieë en metodes waarvolgens ons weer vry kan word. Dit is hierdie vrae waarmee die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief hom besig gehou het sedert sy stigting in Oktober 2002. In hierdie artikel gee die Dagbestuur van die BVI sy mening oor die aksies wat die huidige fase van ons vryheidstryd verg.
-DIE BESTE UIT ONS EIE GESKIEDENIS
In die aanloop tot die sitgting van die BVI is daar navorsing gedoen oor die verskillende metodes waardeur verskillende volke op verskillende stadia in die wêreldgeskiedenis vry geword het van vreemde oorheersers. Uiteindelik is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die strategie wat die Transvalers na Britse anneksasie in 1877 gevolg het om Britse heerskappy te beëindig die heel beste voorbeeld vir ons is om te volg, natuurlik met die nodige aanpassings vir die huidige omstandighede. Die verhaal is kortliks soos volg: Toe Theophilus Shepstone op 12 April 1877 Britse gesag oor Transvaal uitgeroep het, was daar dadelik teenreaksie. By verskeie vergaderings van Transvaalse burgers is Britse heerskappy verwerp en 'n afvaardiging is na Brittanje gestuur om daarteen beswaar te maak. Die Britse regering het hulle besware verwerp en onder andere aangevoer dat die meeste Transvaalse burgers volgens hulle inligting met die Britse anneksasie tevrede was. Daarop is 'n volkstemming, waarin anneksasie met 6 591 stemme teen 587 verwerp is, gehou en gewapen met hierdie inligting is 'n tweede deputasie na Brittanje gestuur. Die Britte het hierna nog steeds geweier om onafhanklikheid aan Transvaal toe te staan en op 11 Desember 1880 is daar op 'n groot volksvergadering besluit om die ou Transvaalse Volksraad weer in te stel en 'n plegtige gelofte is afgelê om die onafhanklikheid te herwin. Toe Genl Piet Cronje met 'n kommando Potchefstroom toe gery het om die onafhanklikheidsproklamasie te laat druk, het Britse troepe op hulle geskiet. Dit was die begin van die Eerste Vryheidsoorlog, wat ongeveer agt weke later in die skitterende oorwinning by Majuba op 27 Februarie 1881 geëindig het. Daarna het die Britte Transvaalse onafhanklikheid erken.
By 'n vergelyking tussen die situasie destyds en die huidige situasie met die oog op die toepassing van die historiese ervaring kan verskeie ooreenkomste en verskille geïdentifiseer word.
-DIE HUIDIGE UITDAGING
Sover dit die politieke klimaat betref, is daar drie dinge wat opval. Destyds was daar 'n feitlik eenparige verwerping van Britse gesag, daar was 'n allesoorheersende begeerte om die verlore vryheid te herwin en daar was bykans volkome eenheid onder die burgers. As ons die huidige situasie daarmee vergelyk, sien ons die volgende:
- Onder Afrikaners in Suid-Afrika is daar vandag ook 'n byna eenparige verwerping van die ANC-bewind. Nog nooit in die geskiedenis van die Suid-Afrika soos hy tans daar uitsien, het Afrikaners 'n regering so eenparig verwerp nie. Dit het nie eers met die Botha/Smutsregering na Uniewording en die Smutsregering van die veertigerjare gebeur nie, terwyl hulle optrede lynreg in stryd met Afrikanerideale en –sentimente was.
- Anders as in 1877 het Afrikaners in 1994 egter die verlies van hulle vryheid in hoofsaak gelate aanvaar en geen stappe geneem om dit te herwin nie. Alhoewel hulle die ANC bewind verwerp, is daar baie min Afrikaners wat die herwinning van ons vryheid en die instelling van 'n Afrikanerregering oor Afrikanerland as 'n haalbare alternatief vir die ANC-regering sien. En ofskoon daar seker by baie Afrikaners 'n diepe versugting na bevryding uit die vreemde heerskappy is, is daar bykans geen tekens van 'n duidelik-gedefinieërde vryheidsideaal en –visie nie.
- Ten spyte van die eenparige verwerping van ANC-bewind, is daar nie eenheid onder Afrikaners nie. Daar is ongeveer vyftien politieke partye en organisasies alleen. Nog nooit in ons geskiedenis was daar soveel organisatoriese verdeeldheid onder Afrikaners nie. Oor die oorsake daarvan kan baie gedebatteer word, maar die twee belangrikstes daarvan is waarskynlik die doelbewuste strategie van die saai van verdeeldheid onder regse Afrikaners gedurende die tagtigerjare en die infiltrasie van verraaiers in Afrikanergeledere. Dit, tesame met die selfsugtige verheffing van eiebelang bo volksbelang, het diepe onderlinge wantroue en vervreemding tussen Afrikaners veroorsaak.
Uit die ontleding hierbo is dit duidelik dat, as ons weer ons vryheid wil herwin, die vryheidsideaal en 'n visie vir die herwinning van ons vryheid tot op voetsoolvlak in die harte van Afrikaners moet herleef. Daaruit sal 'n vryheidstrategie gebore moet word. Dit alles sal moet gebeur te midde van die organisatoriese verdeeldheid tussen Afrikaners. Dit is die uitdaging wat die huidige geslag Afrikaners die hoof moet bied om vir ons nageslag 'n vrye Afrikanerland na te laat.
-WEEREENS ONS GESKIEDENIS
Om die uitdaging die hoof te bied kan ons weer leiding uit ons eie geskiedenis vind en twee grepe daaruit kan ons hiermee help.
- Tydens Die Groot Trek was geen organisatoriese eenheid onder die trekkers nie. Hulle het die kolonie in verskeie trekgeselskappe verlaat en daar was baie meningsverskille, persoonlike naywer en heethoofdigheid onder die leiersfigure. Tog was die Groot Trek 'n reuse sukses as politieke onderneming. Binne minder as 20 jaar nadat tussen 5 000 en 10 000 Afrikaners die kolonie verlaat het, het hulle twee selfstandige republieke in die binneland van Afrika gevestig en binne minder as 50 jaar het hulle op die slagveld afgereken met die drie grootste militêre bedreigings vir hulle voortbestaan, naamlik met Silkaats se Matebeles in 1836 en 1837, met Dingaan se Zoeloes in 1838 en met die room van Haar Majesteit se leër by Majuba in 1881. Waaraan kan hierdie unieke prestasies toegeskryf word? In die eerste instansie moet die hand van 'n genadige, lewende God daarin gesien word. In die tweede plek moet dit toegeskryf word aan die feit dat die Voortrekkers besiel was met een groot ideaal, naamlik vryheid van Britse heerskappy in hulle eie land. Die inspirasie wat hulle geput het uit die verwesenliking van hierdie ideaal was sterk genoeg om die negatiewe gevolge van die verdeeldheid te neutraliseer.
- Tydens die Tweede Vryheidsoorlog, na die val van Bloemfontein en Pretoria in Maart en Junie 1900, het die Boereleiers besef dat die suksesvolle voortsetting van die oorlog 'n nuwe strategie verg. In Oktober 1900 het hulle tydens 'n krygsberaad besluit om die bekende guerilla-taktiek te begin gebruik. Hiervolgens sou die Boeremagte opgebreek word in klein mobiele perdekommando's wat selfstandig sou opereer. Namate die oorlog ontwikkel het, het oorhoofse bevelstrukture feitlik geheel-en-al gedisintegreer en elke kommandant moes sy eie besluite neem. Ten spyte daarvan het hulle ongekende militêre suksesse behaal. Dit kan toegeskryf word aan die toepassing van 'n strategie waarop hulle saam besluit het en wat hulle elkeen goed verstaan het.
-DIE PAD VORENTOE
Uit 'n sintese van ons historiese en kontemporêre ervaring soos hierbo weergegee, word onder andere vyf dinge vir ons duidelik:
» Verbale aanvalle op die ANC het weinig waarde vir ons vryheidstryd. Dis net 'n verkwisting van energie en geld wat op 'n positiewe wyse vir die herwinning van ons vryheid aangewend kan word. Afrikaners het reeds die saak vir hulleself uitgemaak dat hulle klaar is met die ANC. Die eenparige negatief-gerigte verwerping van die ANC moet omskep word in 'n eenparige positief-gerigte strewe na vryheid. Ons moet begin om vir-mense in plaas van teen-mense te word. Ons politieke gesprekke rondom die braaivleisvure en debatte in briewekolomme van koerante moenie meer handel oor die misbaksels van die ANC nie. Die herwinning van ons vryheid en strategieë om dit te vermag, moet die hooftema daarvan word.
» Aksie sal geneem moet word om die vryheidsideaal tot op voetsoolvlak in die harte van Afrikaners te laat herleef, sodanig dat 'n beduidende getal Afrikaners bereid sal wees om hulle volkeregtelik-gebaseerde reg om hulleself te regeer in die openbaar te proklameer, iets soortgelyks aan die volkstemming wat in 1879 in Transvaal gehou is. Dit moet uiteindelik uitloop op die instelling van 'n Afrikanerregering oor Afrikanerland, soortgelyk aan die instelling van hulle Volksraad deur Transvaalse Afrikaners in 1880.
» Vryheidsgesinde Afrikaner-organisasies en individue sal 'n manier moet vind om 'n gesamentlike strategie uit te werk om die vryheidsideaal in die harte van Afrikaners te laat herleef. Wanneer daarop ooreengekom is, moet elkeen dit selfstandig in sy eie bedieningsgebied toepas, slegs met losse oorhoofse koördinering soos wat die kommando's tydens die guerilla-fase van die Tweede Vryheidsoorlog geopereer het.
» Daar moenie probeer word om Afrikaners in een organisasie of sambreelorganisasie saam te snoer nie. Vir doeleindes van die herlewing van die vryheidsideaal in die harte van Afrikaners is dit nie nodig nie. Dit is blootgestel aan allerlei risiko's waarvan die belangrikste is dat dit deur handlangers van die vyand ingesypel en van binne lamgelê kan word. Verder is dit 'n kontemporêre historiese feit dat nie een van die vele rade, fronte en alliansies wat die afgelope paar jaar gestig is tot dusver enige konkrete bydrae tot ons vryheidstryd kon maak of enige vorm van blywende en konkrete eenheid onder Afrikaners kon bewerk nie. Die meeste van hulle se bestaan was kortstondig van aard en in sommige gevalle het dit Afrikaners nog verder uitmekaar gedryf ook. Die bestaan van verskillende organisasies is ook nie noodwendig negatief nie. Dit is 'n bewys dat dinge in Afrikanerharte begin roer en die diversiteit van gawes, talente en kundighede wat so na vore kom, moet eerder benut en ontwikkel word. As die fonteine op die grond begin uitbreek, is dit 'n bewys dat die ondergrondse watertafel begin styg!
» Afrikanerorganisasies en individue wat reeds by die vryheidstryd betrokke is, moet dit onverwyld voortsit en nuwe vryheidsaksies aanpak. Ons moenie wag vir iets om te gebeur nie. Die Transvalers van 1877 het feitlik onmiddellik stappe geneem om hulle onafhanklikheid te herstel. Die Afrikaners van 1994 het egter die verlies van hulle vryheid in hoofsaak gelate aanvaar en geen stappe gedoen om die onreg reg te stel nie en nou, veertien jaar na die oorgawe, het daar ook nog niks daadwerkliks gebeur nie. Voortgesette passiwiteit hou twee ernstige gevare in. Dit kan eerstens vertolk word as 'n teken dat ons die 1994-oorgawe kondoneer en die huidige situasie aanvaar en tweedens kan ons so gewoond raak aan die nuwe bedeling dat nie meer bereid sal wees om enige opofferinge te maak om onsself daaraan te ontruk nie, al keur ons dit ook ten sterkste af. Spoedige aksie is dus dringend noodsaaklik
VOORSTELLE VIR 'N VOLKSKONGRES / VRYHEIDSKONFERENSIE
Voortvloeiend uit die BVI se Sentrale Vryheidskomitee-vergadering van 5 April op Laingsburg het die Dagbestuur besluit om breë riglyne vir 'n volkskongres/ vryheidskonferensie vir kommentaar aan Afrikaner-organisasies en individue voor te lê. 'n Aantal persone het reeds daarop gereageer en oor die algemeen is daar wye ondersteuning vir die gedagte. Die voorstelle verskyn hieronder en lesers van hierdie Vryheidsbulletin word versoek om kommentaar daarop te lewer by een van die kontaknommers hierbo, verkieslik per e-pos. Eerstens sal ons wil weet hoe lesers oor die wenslikheid (beginsel) van so'n byeenkoms voel en tweedens hoe hulle oor die spesifieke voorstelle (praktiese implimentering) voel. Ons sal verkies om redelik volledige kommentaar op elkeen van die voorstelle te ontvang. ONS WIL VRIENDELIK VERSOEK DAT KOMMENTAAR TEEN EINDE JULIE INGESTUUR WORD WANT ONS WIL GRAAG DIE RAADPLEGINGSPROSES TEEN MIDDEL AUGUSTUS AFSLUIT. Ons beplan om die kommentaar in opgesomde vorm te stuur aan almal wat op die voorstelle gereageer het, met die oog op verdere beplanning.
-Doel
Daar is 'n groeiende getal Afrikaners by wie die strewe na vryheid vir ons volk in ons eie land al sterker begin word. Hulle is egter versprei oor die lengte en breedte van ons land en bevind hulleself in 'n verskeidenheid van organisasies. Daar is ook verskillende sieninge oor 'n strategie vir vryheid. Teen hierdie agtergrond sien ons die volgende as doelstellings vir so'n byeenkoms:
- Vryheidsgesinde Afrikaners moet mekaar persoonlik ontmoet en beter leer ken.
- Gedagtes oor bestaande en beplande vryheidsaksies kan uitgeruil word.
- Daar kan besin word oor 'n gesamentlike strategie vir die herwinning van ons vryheid.
- Deelname en aard
- Verteenwoordigers van organisasies sowel as persone in hulle privaathoedanighede moet kan deelneem aan die byeenkoms. Dit moet oop wees vir enige organisasie of individu wat voel dat hy een of ander bydrae tot ons vryheidstryd lewer of wil lewer.
- Elke organisasie wat die byeenkoms bywoon, moet die geleentheid kry om in die bestek van (sê) 'n kwartier die aanwesiges in te lig oor sy bestaande bydrae tot die vryheidstryd sowel as sy siening oor die pad vorentoe.
- 'n Sessie waarin 'n aantal individue vir (sê) 5-minute voorleggings kan deelneem, moet ingepas word.
- Ruim geleentheid vir vrae en besprekings tydens die sessies en vir informele ontmoetings en gesprekke tussen die sessies moet gebied word.
- Toesprake en besprekings oor politieke opvattinge en godsdienstige leerstellinge wat nie met die vryheidstryd verband hou nie, moet vermy word maar daar moet tafels wees waar organisasies hulle literatuur aan bywoners van die byeenkoms beskikbaar kan stel. Die oprigting van 'n nuwe sambreelorganisasie moet ook vermy word.
- Aan die einde van die byeenkoms moet die belangrikste sake waaroor daar ooreengekom is in 'n dokument saamgevat word.
- Die byeenkoms moet deur 'n onafhanklike fasiliteerder gelei word ten einde te verhoed dat die konferensie deur enige organisasie of organisasies vir eie belang ingespan word. Elke persoon wat die byeenkoms bywoon, moet die gerustheid hê dat sy siening dieselfde kans het om aangehoor te word as enige ander persoon of organisasie s'n.
- Die hele onderneming moet plaasvind in 'n gees van persoonlike offervaardigheid en selfverloëning en in die besef van ons totale afhanklikheid van God.
- Plek
Dit moet verkieslik op 'n sentrale plek gehou word om dit vir die grootste getal moontlike persone toeganklik te maak. Daarvoor sal Bloemfontein baie geskik wees. Verreweg die meeste organisasies wat moontlik so'n byeenkoms sal bywoon se leiers en hoofkantore is egter in Pretoria en omgewing en daarom sal Pretoria waarskynlik die aangewese plek wees.
- Datum en tyd
Ons moet vir onsself genoeg tyd toelaat om die reëlings te tref en dit sal goed wees as die byeenkoms gereël kan word op 'n dag wat 'n historiese verbintenis met ons vryheidstryd het. Indien daar goed gevorder word met die proses van onderlinge raadpleging tussen voornemende deelnemers kan die byeenkoms moontlik oor die naweek van 10 tot 12 Oktober gehou word. Dit kan beperk word tot Saterdag 11 Oktober of dit kan reeds die Vrydagaand begin en uitgebrei word tot Sondag 12 Oktober om 'n verootmoedigings-geleentheid daarby in te sluit. Andersinds sal 'n datum rondom die herdenking van die slag van Majuba op 27 Februarie volgende jaar dalk geskik wees en 'n beplanningsvergadering kan op die Oktoberdatum gehou word.
- Reëlings
Indien daar voldoende belangstelling vir die byeenkoms is, kan daar uit die geledere van die belangstellendes 'n reëlingskomitee saamgestel word.
- Finansies
Die koste vir die byeenkoms moet tot die minimum beperk word. Vir die onvermydelike kostes sal bydraes van die voornemende deelnemers gevra moet word.
- Benaming
Van die twee benamings wat reeds genoem is, naamlik 'n volkskongres en 'n vryheidskonferensie verkies ons laasgenoemde. Dit weerspieël die doel van die byeenkoms beter en 'n konferensie word normaalweg beskou as 'n meer informele byeenkoms as 'n kongres.
- Algemeen
Die BVI wil dit graag beklemtoon dat bogenoemde slegs voorstelle is om 'n gesprek oor die saak aan die gang te sit. Ons sal nie probeer om enigsins druk uit te oefen vir die aanvaarding daarvan nie. Die vorm wat die byeenkoms uiteindelik aanneem, moet die resultaat wees van 'n oop en objektiewe besluitnemingsproses. Indien daar ander inisiatiewe vir die reël van so'n byeenkoms ontstaan, moet alles moontlik gedoen word om samewerking en sinkronisasie te verkry.
'N STRATEGIE VIR DIE HERWINNING VAN AFRIKANERVRYHEID
Soos aan die begin van hierdie artikel gesê, is die herwinning van ons vryheid die saak waarmee die BVI hom sedert sy stigting besig hou. Ons denke daaroor is saamgevat in 'n dokument getiteld 'n Strategie vir die herwinning van Afrikanervryheid, wat op ons webtuiste by vryheidenreg.com verskyn. Lesers van hierdie Vryheidsbulletin word aangemoedig om dit te lees.
BOEREGROND VIR DIE BOEREVOLK
PERSPEKTIEWE OP GRONDONTEIENING
Die beoogde onteieningswet het wydverspreide teenstand uitgelok. Dit bestaan tans hoofsaaklik uit wetgewende aksie en regsoptredes word ook beoog. Tydens 'n vergadering van verskeie rolspelers in Johannesburg aan die begin van Junie is burgerlike weerstand in vooruitsig gestel en 'n sogenaamde Ad hoc komitee vir die Beskerming van Eiendomsregte is in die lewe geroep. In die lig van die bedreiging wat die beoogde wetgewing vir die behoud van Boeregrond inhou, is dit 'n vraag hoe doeltreffend die bestaande en beoogde aksies kan wees. Om die vraag te beantwoord, verg antwoorde op twee verdere vrae, naamlik: Wat is die ware aard van die aanslag op Boeregrond en Wat is die vereistes vir 'n suksesvolle teenoffensief? In hierdie stuk word die woorde Boerevolk, Afrikanervolk en Boere-Afrikaner as wisselterme vir dieselfde begrip gebruik.
-ETNIESE AANSLAG OP BOEREGROND
Die onteieningswetgewing is deel van die ANC se grondhervormingsproses en die BVI het ál die bekende redes wat oor die jare daarvoor aangegee is aan die werklikheid getoets. Daar is bevind dat grondhervorming geen morele, staatkundige, ekonomiese of maatskaplike logika het nie. Gestroop van al sy fatsoenlike behangsels kom dit in sy diepste wese neer op die politieke verowering van die erfgrond van die Boerevolk. Dit is 'n suiwer polities-gedrewe, etnies-gerigte aanslag wat daarop gerig is om die Boerevolk van sy erfgrond te verdryf. Dit is ook hoe die beplande grondont-eieningswetgewing beskou moet word en enige teenoffensief wat nie daarmee rekening hou nie, is op 'n syspoor.
-PRIMÊRE VEREISTES VIR DOELTREFFENDE TEENOFFENSIEF
'n Suksesvolle teenoffensief teen hierdie aanslag moet aan vier primêre vereistes voldoen, naamlik:
» Boeregrond moet beskou word as die kulturele eiendomlike van die Boerevolk as geheel, grond wat deur die kollektiewe offers van ons voorouers aan ons as hulle nageslag oorgelewer is. Die feit dat indivuele Afrikaners die kaart en transport daarvan hou, is 'n blote ordereëling en verleen nie aan hulle 'n arbitrêre reg om dit aan vreemdes te verkwansel nie.
» Die aanslag op Boeregrond moet op beginsel teengestaan word. Die heel beste prys en voorwaardes vir die vervreemding daarvan behoort vir ons onaanvaarbaar te wees.
» Aangesien die aanslag van politieke aard is sal die primêre teenoffensief op die politieke terrein en nie op die landbou-ekonomiese of regsterrein gevoer moet word nie.
» Die behoud van Boeregrond is nie net die verantwoordelikheid van landbouers nie maar die verantwoordelikheid van die volk as geheel. Die volk moet in die openbaar sy besliste teenkanting teen enige vorm van vervreemding daarvan te kenne gee.
-BESTAANDE AKSIES SKEP NIE VERTROUE NIE
Die bestaande teenoffensief teen grondonteiening kan nou aan die hand van hierdie eise beoordeel word, met verwysing na die metodes en argumente wat gebruik word
Die metodes bestaan hoofsaaklik uit parlementêre en regsprosesse en die uitoefening van openbare druk. Met die ANC se getalle-oorwig in die Parlement en die duidelike gebrek aan onpartydigheid by die howe (soos onder andere weerspieël word in die Hlope-debakel) moet eersgenoemde twee metodes as blote formaliteite beskou word. Die laasgenoemde metode sal staan of val by die aard van die drukgroepe en die getalle wat hulle kan monster, maar veral die argumente wat gebruik word. Alhoewel heelwat Afrikanerboere by die "roadshow" van openbare verhore opgedaag het was dit relatief gesproke 'n onbenulligheid en die ANC kan bekostig om dit te ignoreer. Die waarde van die "roadshow" is nie geleë in die getuienis van grondeienaars nie maar in die demonstratiewe gelykstelling van regmatige eiendomsreg met politieke eise van swart kiesers wat bevredig moet word. Dis bloot 'n voortsetting van die gelykstelling van regmatige kaart en transport teenoor swart stameise.
Dit is verder te betwyfel of die Ad hoc komitee met hulle argumente sukses sal behaal. Eerstens ondersteun hulle grondonteiening en grondhervorming in beginsel. Onder die item Goals van die sogenaamde Draft Strategy in response to the Expropriation Bill staan die volgende: "1. To have the Bill withdrawn in its present form or amended to comply with the Constitution. 2. To promote fair, effective and sustainable land reform in accordance with the Constitution." Hierdie konsepstrategie is volgens die notule van die vergadering deur Dave Steward van die F W de Klerk Stigting aan die aanwesiges voorgehou en in beginsel deur hulle aanvaar. Die volgende instansies was verteenwoordig: F W de Klerk Stigting, Agri SA se Grondsakekomitee, TLU SA, Solidariteit se Instituut vir Grondwetlike en Arbeidsregtelike aangeleenthede, Landbou Werkgewersorganisasie, Nasionale Belastingbetalersunie, VF+, DA, Afrikanerbond, AfriForum, Regslui vir Afrikaans, Afrikanerfront.
Deur hulle aanvaarding van die konsepstrategie laat al hierdie organisasies, sowel as dié wat by hulle geaffilieër is, hulleself effektief ontmagtig om in die toekoms enige betekenisvolle weerstand teen die ANC se grondroofagenda te bied. Hulle kan hoogstens met die ANC oor sy metodes verskil. As twee persone met mekaar verskil oor die roete waarmee hulle van Kaapstad of Pretoria moet ry, het hulle by implikasie reeds besluit dat hulle twee saam Pretoria toe ry!
Tweedens, behalwe dat die komitee homself prinsipieël ontmagtig het, is die praktiese oorwegings wat hy teen grondonteiening aanvoer, in die huidige politieke bedeling betekenisloos. Hulle sê dat die wetsontwerp negatiewe implikasies inhou vir die ekonomie, voedselsekuriteit, besigheidsvertroue en eiendomsreg. Vir hierdie argumente om enigsins gewig te dra moet daar noodwendig veronderstel word dat dit vir Afrikane soos die ANC-regering belangrik is om 'n Westers-gefundeerde staatshuishouding en regsomgewing in stand te hou. Dit is 'n illusie, soos dit elke dag in Zimbabwe voor ons oë afspeel. Die swart regering sal hom nie in sy angstige en gulsige rooftog op Boeregrond deur hierdie argumente en waarskuwings laat stuit nie. Daarteenoor word die enigste geldige en doeltreffende argument teen grondonteiening oor die hoof gesien. Nêrens vind ons dat enige organisasie 'n standpunt inneem vir die generiese beskerming van die Boerevolk se grond as historiese erfenis waarop ons 'n onvervreembare reg het en as kulturele bestaansruimte vir ons volk nie.
Derdens figureer die Afrikanervolk nêrens as 'n groep in hierdie versetaksie nie. Die konglomorasie van organisasies wat die komitee gestig het, sal kwalik as verteenwoordigend van die Afrikanervolk beskou kan word. Van sommige van hulle sal 'n mens die spreekwoordelike vraag kan vra: Is Saul dan ook onder die profete!
-ONTMOET GRONDUITDAGING OP VASTE BASIS
Terwyl die bestaande en beplande aksies kwalik enige vertroue by enige regdenkende Afrikaner kan inboesem, sal die vraag onmiddellik opkom:
Hoe moet ons dan die uitdaging vir die behoud van Boeregrond vir die Boerevolk die hoof bied? Hierop wil die BVI, in beskeidenheid en erkenning van ons afhanklikheid van die God van die Bybel die volgende antwoorde gee:
» Vanweë die gebrekkige beginselbasis van die genoemde teenonteieningsaksie sal Afrikanerorganisasies wat daarby betrokke is hulle óf daaraan moet onttrek óf die uitgangspunte van die aksie fundamenteel moet wysig. Na die mening van die BVI behoort die uitgangspunte van die aksie die vier primêre vereistes hierbo te weerspieël. Dit sal aan hulle 'n kragtige operasionele basis bied vanwaar nie nét grondonteiening teengestaan kan word nie, maar die hele grondaanslag van die ANC.
» Afrikaners sal een ding moet besef. Die swartes het een absolute kriterium vir hulle grondeise. Hulle wil al die grond hê wat op die oomblik aan die Boerevolk behoort, ongeag of dit reg of verkeerd of goed of sleg is vir Suid-Afrika. Volgens 'n berig in die koerant, Daily Sun het die leier van 'n swart kultuurbeweging op menseregtedag gesê: "Go and steal from the whites, because it is right. You (only) repossess what belongs to you." Die voetwerkies van prominente organisasies om hulle binne die sogenaamde polities aanvaarbare arena te beroep op die behoud van voedselsekerheid en beleggersvertroue is 'n tema waaraan die reeds selfversekerde en aggressiewe swart regering hom weinig sal steur. Hierdie is relatiewe begrippe wat in Afrika skaars begryp word wanneer krisistoestande bereik word. Dit bied geen beskerming teen die uitwissing van die Boerevolk as kultuurgroep se erfgoed nie. Die swart regering sal hom nie in sy angstige en gulsige rooftog laat stuit deur hierdie argumente en waarskuwings nie.
Hierdie ingesteldheid is duidelik weerspieël in getuienis wat tydens die openbare verhore gelewer is. Volgens 'n verslag daaroor, opgestel deur Annalize Crosby van Agri SA het die Association for Community and Rural Advancement gesê dat die Portefeuljekomitee hulle nie behoort te laat intimideer deur blanke grondeienaars se dreigemente oor die negatiewe impak wat die wet op investering en voedselsekuriteit kan hê nie, aangesien die groep slegs hul gevestigde belange probeer beskerm. Blanke boere voed in elk geval nie die bevolking nie, want mense ly honger en voedsel moet ingevoer word, aldus hul getuienis.
Hierteenoor het ons net een absolute verweer: Ons wil al die grond wat ons van ons voorouers ontvang het vir ons nageslag behou, ongeag al die liberale vroompraatjies daarteen. Uiteindelik sal die uitslag van hierdie konflik nie deur allerlei slim teenargumente bepaal word nie, maar deur ons wil om ons grond te behou en die bereidwilligheid om die offers te bring wat dit verg. Die huidige rooftog teen ons grond oorskrei dié aan die destydse Oosgrens by verre. Nou het ons egter nêrens heen om te trek nie en die saak sal dus hier uitgemaak moet word.
» Die Boerevolk as geheel sal 'n openbare standpunt teen grondroof moet inneem. Dit moet duidelik aan die ANC en die wêreld daarbuite gekommunikeer word dat die volk nie gaan toelaat dat hy van sy erfgrond beroof word nie en dat alle gesprekke en onderhandelinge daaroor summier gestaak word.
» Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief is reeds vir bykans vier jaar aktief betrokke by die stryd om die behoud van Boeregrond vir die Boerevolk en beplan om die stryd aktief voort te sit. Die BVI voer die stryd op die politieke terrein, gebaseer op fundamentele beginsels en historiese ervaring. Die stryd word nie op 'n ad hoc wyse gevoer nie maar op 'n wyse wat daarop gerig om langtermyn, blywende resultate behaal. Die hele saak word op 'n positiewe, konstruktiewe en toekomsgerigte wyse benader, met duidelike strategiese doelwitte. Afrikaners wat by hierdie stryd betrokke wil raak, word uitgenooi om hulle gewig by die BVI in te gooi. Die BVI voer 'n intensiewe inligtingsaksie wat daarop gerig is om die Boerevolk tot op voetsoolvlak te bemagtig om sy duurverworwe erfenis te verdedig. Talle openbare vergaderings is al gehou en ongeveer 'n half miljoen pamflette is versprei. Meer besonderhede oor die BVI se aktiwiteite kan verkry word op ons webtuiste by vryheidenreg.com of kan van bostaande kontaknommers aangevra word.
Ten slotte 'n laaste opmerking: As as ons die ANC se grondaanslag kan stuit, vernietig ons een van hulle belangrikste gevegsfronte teen ons. Dit beteken egter nog nie dat ons buite gevaar is nie. Solank die Boerevolk deur die vreemde ANC-regime regeer word, sal die aanslag voortduur. Daarom moet die oog van die Boere-Afrikaner nou dringend gerig word op soewereine vryheid binne 'n teokratiese stelsel waarin Jesus Christus as Koning geproklameer word en ons as Boerevolk sy land sal bestuur ooreenkomstig sy Woord. Alleenlik hierdie hartsbinding sal effektiewe verset en toekomshoop by ons mense vestig. Slegs dit sal die Boerevolk saamsnoer op pad na volkome vryheid en rus in die land wat die HERE aan ons vaders gegee het.
Dagbestuur
No comments:
Post a Comment