Saturday, July 12, 2008

Swak infrastruktuur

Beeld-forum: Twee ½ uur vir 'n taak van 6 minute

Jul 10 2008 05:04:30:020PM

'n Onlangse ekskursie na die lisensiekantoor naby my in die ooste van
Johannesburg het my insig gegee in hoekom ons land so sukkel om
behoorlik aan die gang te kom.

Ferdi Greyling

'n Onlangse ekskursie na die lisensiekantoor naby my in die ooste van
Johannesburg het my insig gegee in hoekom ons land so sukkel om
behoorlik aan die gang te kom.

Dit lyk vir my of dinge struktureel swak georganiseer is.

Die mense in die strukture werk hard en probeer hul bes, maar die
struktuur is teen hulle.

Die rede vir die besoek was om my rybewys te hernieu.

In die ou bedeling het 'n mens lewenslank 'n rybewys gekry.

Sedert 1997 moet jy dit elke vyf jaar hernieu.

Dit veroorsaak natuurlik 'n herhaling van besoekers aan die
lisensiekantore en vandeesweek was dit duidelik dié effek het
ingeskop. In die verlede was die betrokke kantoor heel rustig.

'n Mens kon net buite die kantoor parkeer en binne was die tou soms
lank, maar nie by die deur uit die.

Dié week moes ek buite die terrein parkeer omdat daar te veel mense
was en teen 09:00 al het die tou mense by die deur uit gestaan – dis
nou die tou van mense wat hul lisensies wil hernieu.

Toe wonder ek of iemand gedink het: As daar argumentsonthalwe 10
miljoen aktiewe rybewyse in die land is en daar is genoeg strukture
(kantore, amptenare, rekenaars en so meer) om dit uit te reik en jy
verwag hulle moet almal hul rybewyse elke paar jaar hernieu, dan gaan
jy mos in die volgende dekade infrastruktuur vir iets soos 30 miljoen
mense nodig hê?

Maar toemaar, wat ook al die rede – die stelsel is verstop.

Waarvoor ek tougestaan het, is eintlik net die volgende: Dat die mense
kan sien ek leef nog en om my oë gou te toets en my vingerafdrukke
weer te neem.

En op die einde natuurlik wat siniese mense seker die "kern?sake" sal
noem – om my R147 oor te betaal aan die staat sodat 'n nuwe kaart
uitgereik kan word.

Die oggend se gewag het om 08:50 begin met sowat 20 mense in die tou
buite die gebou. 09:50 is ons toegelaat om binne te gaan sit en wag.
Daar kon 'n mens op stoele sit. 13 mense was voor my in dié tou.

Ook in die tou was die man wat vroeër vertel het hy was die vorige dag
tot twee uur daar toe aangekondig is die "stelsel is af" en geen sake
word daardie dag meer gedoen nie.

10:30 was ek aan die beurt vir die oogtoets en die vingerafdrukke.
Klaar daarmee en die gewag by die toonbank het begin.

Dit was net ná 10:30 en daar was 34 mense voor my.

Tydens hierdie wagsessie het 'n metropolisielid in uniform ook sy
verskyning gemaak. Hy het eenvoudig tot by die voorkant van die tou
gestap en ingedruk met sy vorm. Hy is dadelik bedien.

Iemand in die tou het (met instemming van heelwat van die mense in die
tou) na hom toe gegaan en aan hom verduidelik dat ons almal al lank
staan en wag.

Sy reaksie was om bloot te sê: "I am on duty" en voort te gaan om sy
sake af te handel.

Om 11:10 kon ek uiteindelik betaal en nou moet ek net agt weke wag tot
die gelamineerde rybewyskaartjie reg is.

Dit is 'n proses van amper twee en 'n half uur, maar al wat ek eintlik
daar gedoen het, was om my oë te laat toets en my vingerafdrukke te
laat neem – en dit het twee minute en 52 sekondes gevat om te doen.

Voeg hier by die betaal by die kassier. Dit was ook in onder drie
minute afgehandel.

Sowat ses minute dus, is wat nodig is om 'n rybewys te hernieu, maar
dit vat 'n hele oggend omdat die struktuur swak georganiseer is.

Dit is vol wurgplekke – van parkering tot by betaal. En dit lyk nie of
iemand probeer om dit te verwyder nie.

Al wat ons kry, is mnr. Paul Mashatile, LUR vir ekonomiese
aangeleenthede in Gauteng, wat in die wetgewer sê die agterstand met
aansoeke vir rybewyse is eintlik 'n bewys van hoe suksesvol die
regering is: "Ons moet erken ons is hier die slagoffers van ons eie
sukses. Deur swart ekonomiese bemagtiging se suksesvolle
inwerkingstelling kan meer mense nou motors bekostig."

Dit is nasionale ekonomiese sukses. Die soort sukses waaraan hy as LUR
eintlik gemeet moet word, is natuurlik hoe suksesvol die samelewing
waarin hierdie ekonomiese sukses gebeur, bestuur word.

En swak bestuur beteken belastingbetalers moet twee en 'n half uur wag
voordat 'n taak van ses minute uitgevoer kan word.

Ferdi Greyling is 'n redaksielid van Beeld.

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2355608,00.html

No comments: