Sunday, July 27, 2008

Samewerking na despuut verklaring

Groepe vat na dispuut hande
18:07:08 Volksblad
Marisa Phillips

WELKOM. – Die Hennenmanse belastingbetalersvereniging het besluit om met
die Matjhabeng-munisipaliteit hande te vat en saam te werk om
dienslewering in hul gemeenskap te verbeter.

Dit kom nadat dié vereniging onlangs 'n dispuut met die munisipaliteit
verklaar het.

Op wat as 'n baie suksesvolle vergadering beskryf word, het die
vereniging met die uitvoerende burgemeester, burgemeesterskomiteelede en
munisipale beamptes vergader om hul probleme oor swak dienslewering op
Hennenman en Phomolong te bespreek.

Mnr. Jimmy Kemp, voorsitter van die vereniging, sê hulle het nie oorlog
teen die munisipaliteit verklaar nie, maar hulle wil verandering hê.

"Ons weet baie kan gedoen word om 'n verskil op ons dorp te maak en ons
is oortuig daarvan dat die munisipaliteit 'n beter diens kan lewer."

Me. Mathabo Leeto, uitvoerende burgemeester, sê die munisipaliteit is
baie dankbaar vir die vereniging se ondernemingsgees in die verlede om
Hennenman self skoon te maak.

"Ons waardeer jul toewyding en sal in die toekoms bly wees as julle take
wat julle op die dorp gedoen wil hê met die munisipale bestuurder
bespreek."

Sy erken dat die munisipaliteit beperkte hulpmiddels het om gehaltediens
aan die gemeenskap te lewer. "Ons wag op tien vullisverwyderingsvoertuie
wat ons bestel het.

Dit sal reeds baie met dienslewering help. Ons is ook besig om asblikke
aan inwoners uit te deel. In die eerste fase het ons reeds 5 000
asblikke in Thabong uitgedeel.

Eenheidbestuurders is ook op die dorpe aangestel sodat inwoners nie elke
keer na Welkom moet gaan as hulle klagtes het nie."

Van die vereniging se probleme is straatligte wat nie behoorlik werk nie
en Leeto sê dit is waar dat hulle langer as voorheen vat om stukkende
ligte te vervang. "Ons het onlangs twee kontrakteurs aangestel en is vol
vertroue dat die onderhoud van straatligte nou sal verbeter."

Leeto het haarself daartoe verbind dat die munisipaliteit so gou as
moontlik aan die ander probleme sal aandag gee.

In 'n ligter luim het Kemp gesê hulle gaan die vereniging se naam
verander na die Impimpi- (fluitjieblaser) vereniging. "Ons gaan
definitief elke amptenaar wat nie sy werk doen nie, by die burgemeester
verkla."

No comments: