Friday, August 8, 2008

Wat dryf Suid-Afrikaners

Beeld-forum: Wat presies dryf Suid-Afrikaners?

Aug 07 2008 04:46:37:620PM

Prof. Jonathan Jansen, die opvoedkundige, het een van die helderder
verstande in ons samelewing.

Ferdi Greyling

Prof. Jonathan Jansen, die opvoedkundige, het een van die helderder
verstande in ons samelewing.

Verder is hy ook daardie rare kombinasie van iemand wat nie alleen
weet waarvan hy praat nie, maar wat homself ook aangenaam kan uitdruk.

Hy het onlangs in 'n toespraak verwys na die jong geslag wit
Afrikaners en die "bittere kennis" wat hulle vanuit hul omgewing kry
oor rasseverhoudinge.

Hy het ook in die Sunday Times oor dié kwessie in 'n onderhoud diep
insigte geopenbaar.

Prof. Jansen het by Tukkies baie met jong Afrikaners gewerk en sy
kennis – so lyk dit – is gevorm uit ondervinding en sinryke
verhoudinge.

Wat hy sê, is kortliks dat die jong geslag Afrikaners 'n negatiewe
houding teenoor die Nuwe Suid-Afrika en swart politieke oorheersing
het en dat hulle dit vanuit hul omgewing en van hul ouers kry.

Sy hipotese is dat die ouer geslag Afrikaners verbitterd oor hul
verlies aan politieke mag en voordele is en dat daardie bitterheid
oorgedra word aan die jonger geslag – soms onbedoeld.

Verder sê hy ook dat die jong geslag ook in die Afrikaanse kerke en in
hul kulturele omgewings dié bitter ondertone kry.

Hulle eindig dan negatief teenoor die Nuwe Suid-Afrika omdat hulle
wantrouig oor swartmense raak, hoewel hulle op hul eie nie rassisties
is nie.

Dit is sekerlik waar van baie mense en iemand soos Jansen sal nie
ligtelik gevolgtrekkings soos dié maak nie, onder meer vanweë
intellektuele integriteit en 'n eie geskiedenis van ware
nie-rassigheid.

Maar sy visie van jong Afrikaners rym nie altyd en oral nie.

Dit sal interessant wees om sy reaksie op byvoorbeeld die volgende
stel feite te kry:

Die jong Afrikaner in die voorbeeld is na 'n Engelse universiteit
nadat sy uit 'n skool gekom het waar haar vriende swart, bruin en wit
was. Ditto vir die laerskool waarin sy was.

Aan dié universiteit was daar baie swart studente – iets wat geen
probleem vir haar was nie.

Maar stadig het 'n patroon na vore gekom.

Sy het agtergekom in die klasse (veral geskiedenis) was sekere vrae
nie gewild nie.

Byvoorbeeld: Kritiese vrae oor die konsep van 'n Afrika-renaissance
het veroorsaak dat sy as 'n rassis gebrandmerk is deur swart studente.
Sy wou daarop wys dat die konsep mank is vanweë 'n interne
kontradiksie – dit gryp na die verlede terwyl dit verkondig dit kyk na
die toekoms.

Swart stakende studente wat klasse ontwrig het en studente rondgeruk
het, het negatief op haar gemoed ingewerk.

Sy het dit nie van studente verwag nie. Of sy reg of verkeerd was om
dit nie te verwag nie, is nie ter sprake nie. Sy het dit nie verwag
nie.

Wat nie gehelp het nie, is die swart manlike student wat haar op die
trappe onder lagbuie betas het. Wat nog minder gehelp het, was
natuurlik die (ongelukkig ook swart) inbrekers wat haar in die huis
betrap het.

Sy het ongeskonde weggekom, maar 'n sekere soort skade is aangerig.

Ná so drie jaar van sulke dinge het sy die idee gevorm dat sy
uitgesluit is uit vandag se Suid-Afrikaanse samelewing.

Sekerlik is dit ook haar skuld omdat sy toegelaat het dat sy in
negatiwiteit indryf, maar in daardie hele tyd het nie een swartleier
enige ander indruk met optrede of uitsprake gelaat nie.

Die betrokke jongeling gaan nie kerk toe nie en woon nie Afrikaanse
kultuur-geleenthede by nie.

Die huis waarin sy gewoon het, was een waarin nie-rassigheid hoog
opgestel was en rassisme nie geduld was nie.

Dus: Sy was 'n lewende voorbeeld dat negatiewe houdings onder wit
Afrikaanse jongelinge vandag nie net van Jansen se "bittere kennis"
kom nie, maar ook van hedendaagse ervarings buite die huis – en
belangrik, van optredes deur jong swart Suid-Afrikaners.

Wat 'n mens met die vraag laat of dit nie ook logies is om te aanvaar
dat swart jongmense óók hul eie bittere kennis het of kry wat húlle
laat optree nie?

En, as dit inderdaad die geval is, is daar die vraag of dit nie
gevaarliker "bittere kennis" is nie omdat hulle by verre die
meerderheid in die land is én alle politieke mag in hul hande het?

Ferdi Greyling is 'n senior redaksielid van Beeld.

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2371847,00.html

1 comment:

Anonymous said...

Ja meneer. Ek is 'n jong Afrikaner. Ek gaan elke sondag kerk toe, ek gaan kultuurfeeste toe, ek is 'n trotse Afrikaner.

Ek lei af dat jy seker 'n HNP is? Ek sien dat die HNP 'n volksverkiesing wil hou? Ek mag verkeerd wees, maar ek glo dat die internasionale gemeenskap so 'n verkiesing sal diskrediteer omdat dit nie deur 'n onafhanklike nasionale verkiesingskommisie gereël is nie. Maar sterkte. O ja, hoekom is die Vryheidsfront plus nie in julle "lys" nie? Hulle is dan klaar internasionaal aanvaar as die verteenwoordigers van die Afrikaner?