Sunday, August 3, 2008

Skerpioene wys angel

Omgekrapte Sperpioene wys angel

Aug 02 2008 07:38:22:207PM

Lizel Steenkamp

Bitter min, indien enige, van die Skerpioene se ondersoekbeamptes is
bereid om in 'n nuwe direktoraat onder die Suid-Afrikaanse
Polisiediens en sy nasionale kommissaris te dien.

Parlementêre Beriggewer

Bittermin, indien enige, van die Skerpioene se ondersoekbeamptes is
bereid om in 'n nuwe direktoraat onder die Suid-Afrikaanse
Polisiediens en sy nasionale kommissaris te dien.

Deur die Skerpioene te vervang met 'n direktoraat wat sonder aanklaers
se leiding moet klaarkom, word misdaadbestryding ook "met 20 jaar
teruggesit".

Só lui die voorlegging wat besorgde personeel van die direktoraat vir
spesiale ondersoeke (DSO) die afgelope week by die parlement ingedien
het.

Rapport is in besit van dié geskrewe voorlegging wat oormôre mondeling
in die parlement voorgehou sal word.

Dié elite-eenheid se ondersoekers en aanklaers het afgelope Maandag
die eerste keer amptelik stelling ingeneem teen die ANC-resolusie dat
die DSO moet ontbind.

Minstens twintig groepe sal tydens openbare verhore voorleggings doen
oor die wysigingswetsontwerpe wat die Skerpioene moet ontbind om dit
met 'n polisie-direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade te
vervang.

Bykans 100?000 mense het teen verlede Maandag se sperdatum met
e-posse, petisies, SMS'e en geskrewe voorleggings aan die parlement
aangedui dat hulle gekant is teen die Skerpioene se ontbinding.

Ongeag dié openbare verset, het mnr. Yunus Carrim, voorsitter van die
parlementêre portefeuljekomitee oor justisie, die ANC se onversetlike
houding dat die Skerpioene geskiedenis is, op 'n perskonferensie
herhaal.

Volgens hom vorm dit deel van die hersiening van die hele
strafregstelsel "om te verseker misdaad daal".

Die DSO-personeel sê dit sal juis die teendeel doen.

Luidens hul voorlegging sal die verlies aan kundigheid die staat se
vermoë om misdaad te bestry eerder belemmer.

Die Skerpioene se ondersoekers sal ingevolge die wysigingswetsontwerp
op die Polisiewet aan die nasionale polisiehoof se genade oorgelaat
word.

Soos die wetsontwerp nou lyk, sal die polisiehoof besluit watter
Skerpioene by die nuwe direktoraat mag werk en het hy die volmag om
hulle elders in die polisiediens te ontplooi of te verplaas.

"Dit is juis weens dié onsekerheid dat ondersoekers nie na die nuwe
direktoraat verplaas wil word nie en na groener weivelde sal uitwyk.
Die wetsontwerp gee die nasionale kommissaris net te veel mag en
diskresie."

Die wetsontwerp gee die nasionale polisiehoof ook "veto-reg" want hy
sal besluit watter sake deur die direktoraat ondersoek moet word.

Meer as 60% van die Skerpioene se ondersoeke behels ernstige
ekonomiese misdade. Die DSO-personeel sê in hul voorlegging
ingewikkelde korrupsie kan nie sonder die kundigheid van spesialiste
ontrafel word nie.

"Só iets is nie moontlik binne die normale polisiestrukture nie. Die
Travelgate-ondersoek staaf dit. Dis juis op versoek van die parlement
dat die DSO die ondersoek moes oorneem omdat die polisie ná 'n jaar
steeds nie vordering kon maak nie."

Die Skerpioene se sukses word veral toegeskryf aan die troika-aanslag
waar ondersoekers, aanklaers en analiste saamwerk.

"Die punt is dieselfde professionele werksomgewing kan nie gewaarborg
word binne die polisie nie."

Luidens die voorlegging maak die polisie nie merkbare vordering teen
georganiseerde misdaad nie. Van die redes is:

* die polisiebestuur fokus net op statistiek en het 'n "obsessie met
vinnige en korttermyn resultate";

* daar word op arrestasies gefokus, pleks van deeglike ondersoeke om
sindikaatleiers vas te trek;

* inligting word nie beskerm nie en lek uit en

* korrupsie "op alle vlakke".

Laastens ontken die DSO-personeel dat hulle óf die nasionale direkteur
van openbare vervolging toegelaat is om insette te lewer of geken is
in die opstel van die twee wysigingswetsontwerpe.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2368954,00.html

No comments: