Saturday, August 2, 2008

"Hy het ons wild en wakker gesteek"

Me. Juliana Vorster vertel hoe sy en me. Bekkie Cilliers aangeval is.
Foto: Theana Calitz

Aug 01 2008 10:00:26:270PM - (SA)

Hilda Fourie

'n Vrou het 'n vermomde plaaswerker aan sy stem herken voordat hy haar
en haar skoonsuster op 'n bed laat lê en hulle herhaaldelik met 'n
kombuismes gesteek het.

Hy het sy werkgewer se ma en skoonma eergister op 'n komkommerplaas
buite Brits aangeval.

"Ek het net die heeltyd gebid en gebid en gebid," het me. Juliana
Vorster (55) gister vanuit haar bed in 'n Pretoriase hospitaal gesê.

Vorster en me. Bekkie Cilliers (55) is eergistermiddag op die plaas
van Cilliers se seun, Jacques (35), aangeval.

Me. Cilliers, wat hartprobleme gehad het, het nie die aanval oorleef nie.

Insp. Brian Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is op
soek na 'n 42-jarige plaaswerker wat glo sowat twee jaar lank op die
plaas gewerk het.

Volgens Dlamini is R160 uit die huis geneem.

Vorster het gister gesê dat sy en Cilliers op die plaas by die kinders woon.

Die twee vroue het middagete gemaak toe 'n man met 'n trui oor sy kop
en 'n mes in sy hand die kombuis binnekom.

"Ek het sy stem herken as dié van een van die plaaswerkers," het Vorster gesê.

"Toe ek hom op sy naam noem, het hy die trui van sy kop gehaal en
gesê: 'Ouma, ek soek geld.'

"Ek het hom alles in my beursie gegee."

Die werker het die vroue eers na die studeerkamer geneem, waar hy in
laaie na geld gesoek het.

Hy het glo aan Vorster gesê hy soek die loongeld, want hy weet dit is
vroeër dié dag onttrek.

Daarna het hy hulle na die slaapkamer gedwing en hulle beveel om op
die bed te gaan lê.

"Hy het gesê ons moet slaap," het Vorster gesê. "Toe het hy ons net
wild en wakker begin steek."

Sy het aan Cilliers gewys sy moet stilbly.

"Hy het die kas oopgemaak waar die kluis is, teruggekom en ons weer
gesteek. Ek het hom geskop en geslaan en hom van my skoonsuster
probeer afhou."

Vorster is sewe keer gesteek in haar hande, boude, kop en nek.

Die aanvaller het gevlug voordat mnr. Cilliers se vrou, Janie, wat die
kinders by die skool gaan haal het, opgedaag het.

Dlamini het gesê Cilliers is op die toneel oorlede.

Klagte van moord, poging tot moord en huisroof word ondersoek.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2368608,00.html

No comments: