Thursday, August 7, 2008

Afrikaans se Verjaarsdag

MEDIAVRYSTELLING

Uitgereik deur: Johan Willemse
Hoedanigheid: Pietersburg-Doornkraal Geloftefees voorsitter &
Afrikaner Kultuurleier
Kontaknommer: 015 297 0946
Onderwerp: AFRIKAANS; DIE TAAL MET 'n VERJAARSDAG
Datum: 6 Augustus 2008


Van al die erkende tale wêreldwyd, tel Afrikaans sekerlik onder die
mees unieke. Dit is, indien nie die jongste nie, dan sekerlik een van
die jongste amptelike tale op aarde. Dit is ook na my wete die enigste
taal wat daarop aanspraak kan maak dat hy oor 'n verjaarsdag beskik.
Op Saterdag 14 Augustus 1875 het agt manne in die huis van Gideon
Malherbe in Pastorielaan in die Paarl byeen gekom en die Genootskap
van Regte Afrikaners gestig. Hierdie datum word geag die begin van die
formalisering van Afrikaans te wees. Die geboortedag van 'n nuwe
taal!

Spoedig het verskeie boeke onder die vaandel van die GRA die lig
gesien; 'n koerant, [i]Die Afrikaanse Patriot[/i], het verskyn op 15
Januarie 1876 en kort daarna is Bybelgedeeltes vir publikasie aan die
Kerkbode voorgelê. Dit is egter nie gebruik nie en in 1878 het C.P.
Hoogenhout die hele boek Markus vertaal, maar ook dit is nie goed
genoeg geag nie. In 1889 het daar toe egter in opdrag van die GRA 'n
oorsetting van Die Bybel in Afrikaans: Drie Proewe, deur S.J. du Toit
in Afrikaans verskyn.

Afrikaans het gegroei en is vandag die mees ontwikkelde inheemse taal
van ons Vaderland. Uit amptelike gegewens van die PAN Suid-Afrikaanse
Taalraad (PANSAT) is dit ook merkbaar dat Afrikaans, naas Zoeloe, op
die oomblik die huistaal van die meeste mense in Suid-Afrika is. Die
statistieke toon dat, ongeag die ver-Engelsingsbeleid deur die
owerheid, Afrikaans 'n beduidende groei (2,1%) toon teenoor 'n geringe
afname van Engels (0,1%) as huistaal. Ander inheemse tale wat 'n groei
toon is Tswana (1,3%), Swazi (0,8%) en Zoeloe (0,9%).

Afrikaans se groei was onstuitbaar. Dit is as amptelike taal van die
Unie van Suid-Afrika aanvaar en na Republiekwording het hierdie jong
taal formidabel ontwikkel. Vandag word dit deur verskeie
Kultuurgemeenskappe as hul Moedertaal aanvaar, onder andere die
Afrikaners, die Bruinmense, die Boesmans (San), die Hottentotte
(Khoi-Khoi), die Griekwas, die Korannas asook verskeie Swart
gemeenskappe. Afrikaans, reeds 'n trotse wêreldtaal na slegs 133 jaar;
voorwaar 'n pêrel van groot waarde.

No comments: