Sunday, August 31, 2008

Vrystaat-rade gelooi

Wetgewer looi VS-rade
Aug 28 2008 Volksblad
DIRK KOK
Munisipale leiers van tien Vrystaatse munisipaliteite is in 'n
gesamentlike wetgewerkomiteesitting behoorlik die leviete voorgelees,
omdat hulle hulle nie aan bindende wetgewerbesluite oor hul geldprobleme
en bestuursprobleme steur nie.
Die provinsie se twee grootste munisipaliteite, Mangaung (Bloemfontein)
en Matjhabeng (Welkom), is onder die tien munisipaliteite wat die
swakste gevaar het met die toepassing van wetgewerbesluite om hul
bestuur en geldbestuur reg te ruk. Almal het 'n tiental voorskrifte nie
nagekom nie.
Van die voorskrifte, wat op grond van die ouditeur-generaal se verslae
oor munisipaliteite deur die wetgewer geneem is, is al drie jaar oud en
steeds nie deur die munisipaliteite nagekom nie.
Die punte wat die munisipaliteite vir die uitvoering van die
wetgewerbesluite gekry het, wil geen skoolkind of student in 'n toets of
eksamen kry nie. Vier van die munisipaliteite het almal 'n ronde nul
gekry, deurdat hulle die afgelope drie jaar nie 'n enkele besluit
uitgevoer het nie: Metsimaholo (Sasolburg en dorpe), Masilonyana
(Winburg en dorpe), Ngwathe (Parys en dorpe) en Mafube (Frankfort en
dorpe).
Die twee grotes, Mangaung en Matjhabeng, het onderskeidelik aan 7 uit 19
besluite (37%) en 5 uit 25 besluite (20%) gehoor gegee.
Phumelela (Vrede en dorpe) het 10 van 27 voorskrifte (37%) gevolg,
Maluti-a-Phofung (Harri-smith en dorpe) 6 uit 26 (23%), Nala
(Wesselsbron en Bothaville) 3 uit 26 (12%) en Tokologo (Hertzogville en
dorpe) 2 uit 25 (10%).
Die munisipale bestuurders is, as rekenpligtige amptenare, saam met hul
finansiële hoofde en die burgemeersters Dinsdag een ná die ander in 'n
spesiale gesamentlike sitting van die wetgewer se komitees oor
finansies, openbare rekeninge en plaaslike regering ingemarsjeer.
Van vroegdag tot donkeraand is hulle een ná die ander in die
teenwoordigheid van die provinsie se ouditeur-generaal, die tesourie
asook die LUR vir plaaslike regering, mnr. Joel Mafereka, en sy
departement, voor stok gekry.
Van die munisipale bestuurders en burgemeesters het gesê die syfers is
verkeerd. Hulle het meer van die besluite uitgevoer as wat gesê word.
Die tesourie en departement van plaaslike regering, wat die vordering
met die inwerkingstelling van die wetgewerbesluite vir die
wetgewerkomitee oor openbare rekeninge dophou, het egter voet
dwarsgesit: Die syfers is reg. Dit help nie munisipaliteite sê hulle het
besluite uitgevoer, maar hulle lewer nie bewys daarvan nie.
Mnr. Abrie Oosthuizen (VF+), voorsitter van die openbare
rekeningekomitee wat die gesamentlike sitting gelei het, asook
wetgewerlede van die ANC, DA en ACDP, het soos een man teen die
munisipale leiers saamgestaan en hulle die leviete voorgelees.
Die munisipale leiers is ingelig hul ongehoorsaamheid aan
wetgewerbesluite, wat geneem word om hulle te help om goeie munisipale
bestuur in die provinsie te bevorder, is 'n skande en swak vir
dienslewering.
Hulle moet teruggaan na hul munisipaliteite, sorg dat daar werk van
gemaak word en nie volgende jaar weer "dieselfde verskonings en
storietjies" aan die komitee kom vertel nie.
Die besluite is daarop gemik om probleme met onder meer bestuur,
begrotings, geldbestuur, skuld, beleid, aanstellings en bates reg te
ruk.

No comments: