Wednesday, August 6, 2008

Beeld-forum : 'n Maatstaf vir goeie moraliteit

Beeld-forum: 'n Maatstaf vir goeie moraliteit

Aug 05 2008 07:57:02:393PM

Die Beweging vir Morele Herlewing het verlede week 'n handves van nege
positiewe waardes bekend gestel.

Neels Jackson

Die Beweging vir Morele Herlewing het verlede week 'n handves van nege
positiewe waardes bekend gestel.

Adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka het tydens die plegtigheid in
Pretoria onder meer gesê dié stel waardes is 'n spieël waarin
Suid-Afrikaners hul eie moraliteit in oënskou kan neem.

Dis natuurlik ook 'n spieël waarin ons mekaar se waardes kan beskou,
spesifiek waardeur 'n koerantman die regerende party se vlak van
moraliteit 'n bietjie van nader kan beskou.

Die tweede waarde sê byvoorbeeld: "Bevorder vryheid, die oppergesag
van die reg en demokrasie."

Nou klink dit my asof die ANC by tye op dun ys beweeg in die manier
waarop hulle oor die regsproses in die vervolging van hul president,
mnr. Jacob Zuma, praat.

Hulle sê hulle respekteer die howe, maar dan praat me. Jessie Duarte
byvoorbeeld oor die saak op 'n manier wat 'n mens laat wonder.

As hulle so oortuig is van hul leier se onskuld en as hulle die howe
dan werklik respekteer, dan sou ek dink hulle behoort daarna uit te
sien dat die saak voortgaan en afgehandel word.

Dán kan Zuma se onskuld, soos in die verkragtingsaak teen hom, bo alle
twyfel bewys word.

As die saak nou net laat vaar word, soos daar in ANC-kringe gevra
word, sal die agterdog oor Zuma nooit gaan lê nie.

Een van die ander waardes in die handves lui: "Betoon respek en
besorgdheid aan alle mense."

Ek wens Mlambo-Ngcuka gaan wys dit 'n bietjie vir die ANC se jeugliga.
Hulle het immers by hul konferensie gewys dat hulle nie eens respek
aan mekaar kan betoon nie, wat nog te sê van aan die res van ons.

En 'n mens wonder hoe uitsprake soos mnr. Julius Malema s'n dat hy
bereid is om vir Zuma te moor, te rym is met so 'n waarde, of met die
eerste waarde van die handves wat lui: "Respekteer menswaardigheid en
gelykheid."

Die respek vir menswaardigheid is natuurlik iets wat baie, baie implikasies het.

As die ANC op verskillende vlakke van regering werklik die mense van
die land gerespekteer het, sou hulle byvoorbeeld lankal maatreëls
getref het dat mense nie so moet tou staan om net 'n rybewys te
hernieu nie.

Die vierde waarde van die handves lui: "Versterk familie- en
gemeenskapswaardes."

In die brosjure wat by die bekendstelling uitgedeel is en waarin daar
verder uitgewei word oor elke waarde, word daar in dié geval onder
meer van getrouheid gepraat. Hoe dít rym met kondome wat oral verniet
uitgedeel word, gaan my verstand te bowe.

Toe ek onlangs vir 'n naweek in Swaziland was, het ons 'n groot
buitelugreklamebord gesien wat die verspreiding van vigs wou bekamp.
Die strekking van die boodskap was dat die huwelik heilig is.

Toe ons terugkom in Suid-Afrika, kry ons sommer in die doeanekantoor
'n bak met gratis kondome op die toonbank.

Dit verkondig – subtiel miskien, maar onmiskenbaar – 'n ander boodskap
as dié wat ons in Swaziland gesien het.

'n Ander waarde verkondig: "Verbeter materiële welsyn en ekonomiese
geregtigheid."

Met ons armoedeprobleem is dit 'n uiters belangrike waarde om na te
streef – net jammer Mlambo- Ngcuka het dit in haar toespraak
gekwalifiseer met die frase "van die meerderheid".

Daarby laat die ANC se hantering van die beoogde onteieningswetgewing
'n mens ook oor hul verbintenis tot ekonomiese geregtigheid vir almal
wonder. Jy kan immers nie een onreg regstel deur 'n ander onreg te
pleeg nie.

'n Mens sou nog oor baie van die waardes kon uitwei, maar ek wil by
die laaste een uitkom: " Beskerm die omgewing ."

Luister ek na omgewingsaktiviste, hoor ek 'n klomp kommer oor veral
Suid-Afrika se waterbronne wat deur myne besoedel word – en die
kernprobleem is dat mynwese in die ANC-regering se denke en wetgewing
meer gewig as omgewingsake dra.

As hulle dit nie gou regmaak nie, gaan ons almal die prys daarvoor
betaal – as ons dit nie reeds doen nie.

Die positiewe waardes lyk op sigself goed. As Suid-Afrika daarby kon
uitkom, sou dit wonderlik wees. As 'n mens egter deur dié waardes na
die ANC kyk, lyk die prentjie, helaas, glad nie meer so mooi nie . . .

Neels Jackson is 'n senior redaksielid van Beeld.

njackson@beeld.com


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2370401,00.html

No comments: