Tuesday, August 5, 2008

Ons laat toe dat die ANC ons verwoes

'Ons laat toe dat ANC ons verwoes'

Aug 04 2008 05:01:17:610PM

"Terwyl die regters teen mekaar baklei en die polisie aan wanbestuur
onderworpe en wetteloos is, regeer die land homself en 'transformasie
het die lugruim in verdwyn', soos een ontnugterde 'comrade' dit
onlangs gestel het."

Rhoda Kadalie

Die land is ontstig oor die venynigheid waarmee mnre. Julius Malema en
Zwelinzima Vavi so moorddadig hul lojaliteit aan mnr. Jacob Zuma
verklaar, asook oor mnr. Gwede Mantashe se aanvalle op die regbank.

Hul optrede is 'n waarskuwing aan die ANC-leiers wat Thabo Mbeki gaan
opvolg: Hulle moet ophou om die staatsmasjinerie te gebruik om hul
politieke belange te dien.

Dié instellings is daar om teen verkose leiers se gierigheid te waak.
Politieke partydigheid verwoes demokratiese toerekenbaarheid en die
instellings wat reg en orde moet beskerm.

Die bloeddorstigheid en half senuweeagtige selfgeldendheid wat ons
hier uit die Zuma-kamp sien kom, is die gevolg van die diepe wantroue
wat ons geërf het weens Mbeki se misbruik van die staat en sy
instellings sedert 1999.

Dit is 'n histerie wat oortuig is daar is 'n komplot teen Zuma omdat
ander ANC-skelms wat na aan die president is, skotvry daarvan afgekom
het en die meeste steeds op hul hoë kantoorstoele sit. ?

En wie kan hulle kwalik neem?

Hierdie misbruik is nou al so algemeen dat niemand meer die parlement,
die regbank, die Regterlike Dienskommissie, die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, die Menseregtekommissie, die Skerpioene, die SAUK, die
openbare beskermer ?– om maar net 'n paar te noem – vertrou nie.

Een van die belangrikste lesse wat ek as 'n menseregtekommissaris
geleer het, was om sonder vrees of voordeel my taak te verrig en om
die outonomiteit en onafhanklikheid van die art. 9-instellings te
respekteer, soos die opdrag in die Grondwet lui.

Met die verreikende magte wat aan hulle verleen is, was dit vir die
Menseregtekommissie belangrik dat die publiek hul optrede as regmatig
en regverdig beskou, anders sou ons magteloos gewees het nog voordat
ons begin het.

Ooreenkomstig die Grondwet is die kommissie die mag gegee om vry van
die uitvoerende mag se inmenging op te tree, maar ook sodat daar teen
húlle opgetree kon word indien nodig. Ongelukkig is sy onafhanklikheid
met minagting behandel deur mense wat veronderstel is om dit te
beskerm.

Vandag is die Menseregtekommissie 'n onheilige gemors wat
voetjie-voetjie speel met die regerende party. Toe Jody Kollapen die
leisels by Barney Pityana oorgeneem het, was hy so verheug om
voorsitter te word dat hy sy vryery met die magtiges voortgesit het,
dikwels ten koste van die basies beginsels van sy taak.

Hoewel ek die histerie om Zuma en sy verhoor verstaan, is die
frenetiese gespartel vir mag uit daardie kwartiere erg kommerwekkend.
Die ongrondwetlike afdanking van premiers uit hul ampte, die slim
bewimpelde groepstemmery, die onverdraagsaamheid teenoor teenstand en
die regbank, die oprigting van Chancellor House – dit is alles pogings
van die ANC om die land te beheer asof dit aan hulle behoort.

Terwyl die regters teen mekaar baklei en die polisie aan wanbestuur
onderworpe en wetteloos is, regeer die land homself en "transformasie
het die lugruim in verdwyn", soos een ontnugterde "comrade" dit
onlangs gestel het.

Wat moet 'n mens doen/ wat moet gedoen word?

Suid-Afrika is méér as net die ANC. Dit behoort aan almal van ons. Dit
is 'n grootse land met uiteenlopende mense met enorme potensiaal; daar
is 'n hele leërskare nie-regeringsorganisasies en vrywilligers wat
besig is om te doen wat die regering veronderstel is om te doen.

En tog laat ons toe dat 'n politieke party wat daarop ingestel is om
elke hefboom van mag te beheer, die saad van ons verwoesting saai.

Ons behoort die mag te neem deur burgerlike optrede, soos wat die
sakeman Hugh Glenister so goed doen. Hy is 'n uitnemende voorbeeld van
verantwoordelike burgerskap met sy skerp leierskap van 'n openbare
veldtog om die ontbinding van die Skerpioene te probeer verhoed.

Geïnspireer deur art. 8 van die Grondwet, neem hy die saak hof toe.
Vir hom dit 'n poging om die openbare en nasionale belang te beskerm
en raak die kwessie die kern van ons grondwetlike demokrasie.

As die regering daarin misluk het om verantwoordelikheid te neem vir
die nasie, moet die nasie verantwoordelikheid neem vir die regering.
Andersins is die toekoms te gruwelik om aan te dink of voor te stel.

Kadalie is 'n menseregte-aktivis. Haar rubriek verskyn tweeweekliks in
Business Day.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2369792,00.html

No comments: