Monday, August 11, 2008

Minki weier om te emmigreer

Minki van der Westhuizen, 'n familielid van die vermoorde egpaar, en
haar man, Constant Visser, by die gedenkdiens in Kleinmond. (Foto:
Nasief Manie)

09/08/2008 20:56 - (SA)

Julian Jansen

Kleinmond

Sy is woedend, want dit was geliefde familie wat sy aan die dood moes
afstaan, maar Minki van der West-huizen, model en TV-aanbieder, sê sy
weier om uit die land pad te gee.

'n Hartseer, maar dapper Van der Westhuizen het gisteroggend in
Kleinmond die gedenkdiens van haar oom Schalk (73) en tannie Marie
(73) van der Westhuizen bygewoon. Die bejaarde egpaar is Maandag wreed
in dié Overbergse kusdorpie vermoor.

"Ek weier om uit ons land pad te gee, die misdadigers moet.
Suid-Afrika is 'n stunning land en ek is woedend dat wonderlike mense
soos oom Schalk en tannie Marie aan sulke boewery blootgestel moes
word."

Hul lyke is Maandagoggend deur hul buurman, mnr. George Sutter, gevind
toe hy wou gaan vasstel hoekom 'n telefoonoproep van hul dogter van
Namibië, mev. Elsabé Strauss, nie beantwoord word nie.

Hy het haar pa se bebloede lyk in die spens aangetref en sy vrou, wat
die vorige dag haar 73ste verjaardag gevier het, bebloed onder 'n
duvet gevind.

Die polisie vermoed die egpaar is Sondagaand al vermoor.

Hul lyke is erg vermink.

Enkele huishoudelike artikels word vermis.

Bronne na aan die ondersoek meen die moordenaar(s) was erg onder die
invloed van dwelms.

Enkele sigaretstompies is ook in die huis gevind.

Schalk van der Westhuizen het Marie in Kitwe, Zambië (haar
geboorteland), ontmoet en later 'n motorhawe in Riebeek-Kasteel in die
Swartland bedryf. In 1962 het hy as elektrisiën en sy as boekhouer op
die plaas Die Eike in die Ceresvallei gewerk.

Volgens hul predidant, ds. Schalk van Wyk, het die moord op die
egpaar, wat in 1995 hier afgetree het, dié rustige kusdorpie geruk,
want hulle was allerweë bekend as twee van die sagste en nederigste
mense.

Sutter, 'n afgetrede polisieman, sê die moordtoneel het hom "'n helse
skok gegee. Ek is 'n hartlyer en moes doktersbehandeling kry."

Sedert vroegdag gister het die gemeenskap ruikers by die egpaar se
beskeie huis, Negende Laan 51, neergesit.

Mev. Van der Westhuizen was betrokke by gemeente- en welsynswerk. Haar
man het houtspeelgoed gemaak.

Hulle word oorleef deur dr. Herman van der Westhuizen (53) van Rosh
Pinah (Namibië), mevv. Amanda Ellis (49) van Somerset-Wes, Elsabé
Strauss (43) van Karasburg, Namibië, en Maryna van der Westhuizen (48)
van Durbanville, en elf kleinkinders.

In sy boodskap het ds. Van Wyk gesê: "Die lyn tussen boosheid en
geregtigheid loop nie deur state en politieke partye nie, dit loop
deur die hart.

"Ons moet die boosheid oorwin in harte. Ons moenie wraak soek nie."

Niemand is nog in hegtenis geneem weens die moorde nie.

Oorsprong:Rapport

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2372895,00.html

No comments: