Saturday, August 30, 2008

Vrou sterf , man gewond

Huisrooftog: Vrou (53) sterf, man gewond

Aug 29 2008 09:52:37:103PM

'Ek is geskiet en Marge is dood!"

Amanda Roestoff


amanda.roestoff@beeld.com

'Ek is geskiet en Marge is dood!"

So het 'n gewonde mnr. Dave Wilson (57), hoof van die
geologie-afdeling van die mynmaatskappy De Beers, gisteroggend glo op
sy selfoon aan sy swaer gesê nadat rowers met 9 mm-pistole op hom en
sy vrou, Marge (53), in hul huis in Drakenslaan, Quellerina aan die
Wes-Rand, geskiet het.

Mnr. Michael Brett, dieswaer, het gister gesê sy suster het
gisteroggend omstreeks 07:30 waarskynlik "uit roetine" die
veiligheidshek by die huis se ingangsportaal oopgemaak en na die
dubbelmotorhuis ge-stap om die elektriese hek vir die huiswerker oop
te maak.

Insp. Hein van Heerden, polisiewoordvoerder, het gesê hulle vermoed
die vier rowers het toe saam met die huiswerker die perseel
binnegestap.

"Hulle moes haar (Marge) binne oorval het, want albei is in die
voorkamer geskiet," het Brett gesê.

Een van die koeëls het mev. Wilson – steeds in haar blou nagklere – in
die linkerbors getref en is by haar rug uit voordat dit teen 'n muur
in die voorportaal vasgeslaan het.

Sy het inmekaargesak en is op die toneel dood.

Mnr. Wilson is regs in die bors, naby sy bo-arm, getref.

'n Buurman (47) wat nie sy naam wou noem nie, het gesê hy was in sy
slaapkamer besig om aan te trek toe hy twee skote, gevolg deur 'n gil,
gehoor het. Hy het 'n leer gebruik en oor die hoë muur geloer, waar hy
'n man in 'n blou oorpak saam met die huiswerker by die huis sien
uitstap het. Hy het later gesien dat mnr. Wilson ook bebloed uit die
huis kom en het met hom gepraat.

Die vier rowers en die vrou (35) is gesien waar hulle in 'n
koperkleurige Mercedes-Benz (HYF 252 GP) geklim en weggery het. Mnr.
Okkie Nel, bestuurder van die veiligheidsmaatskappy Best Secure, het
op die toneel bevestig dat 'n veiligheidswag (37) van dié maatskappy
die wegkommotor ingedwing en ontvoer is.

Die wag is later in Maraisburg langs die N1-hoofweg afgelaai, maar die
huiswerker is steeds soek.

Mnr. Wilson is tans in 'n ernstige maar stabiele toestand in die Flora-kliniek.

Mnr. Bruno Ragghianti, voorsitter van die Florida-polisiekantoor se
gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê slegs drie
misdaadvoorvalle het die afgelope vyf maande in dié gebied voorgekom.

"Die gebied was 'n groot brandpunt, maar het deur verbeterde
veiligheidsmaatreëls (kameras en bykomende veiligheidswagte in die
gebied) daarin geslaag om misdaad te minimaliseer," het Ragghianti
gesê.

"Die regering sal daadwerklik iets moet doen om wetgewing só aan te
pas dat inwoners en die polisie beskerm word. Dié misdaad is soos 'n
kanker," sê Ragghianti.

Die polisie het vasgestel dat die huiswerker die ontvoerde wag glo
vroeër gevra het hoekom hy "skielik ander skofte" werk.

Haar moontlike betrokkenheid in die misdaad word ondersoek. Beeld
verneem dat sy van Zimbabwe is. Die polisie het haar naam nog nie
bekend gemaak nie.

Net 'n bos huissleutels met 'n afstandbeheertoestel word vermis.

Familielede het mekaar op die toneel ondersteun.

Die egpaar se twee jonger kinders, Karen en Rodrick, albei in hul
twintigs, sal vermoedelik vandag van Engeland hier aankom.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, kan supt. Richard
Shibiri bel by 082 461 3325 of kapt. Hein Steyn by 082 412 2237.


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2385121,00.html

No comments: