Saturday, August 16, 2008

Samewerking teen Onteieningswet bring nuwe hoop

Kallie Kriel

"As ons maar net vir ʼn slag kan saamstaan teen die magsvergrype in die
land, kan ons dalk iets regkry!" Hierdie versugting word met
eentonige reëlmaat geopper deur diegene wat by AfriForum klagtes
indien weens die skending van hulle regte deur ʼn owerheid wat
getalle-gewys stewig in die politieke saal sit.

Natuurlik besef die meeste van diegene wat hierdie versugting
uitspreek dat eendersdenkendheid onder Suid-Afrikaners buite die
ANC-dampkring, nie net menslik onmoontlik is nie, maar selfs
onwenslik. Die beste oplossings word immers gevind wanneer mense uit
verskillende denkraamwerke konstruktief met mekaar oor ʼn saak in
gesprek tree. Die versugting is daarom na groter samewerking oor
gemeenskaplike sake, eerder as eendersdenkendheid.

Ironies genoeg is dit die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op
Onteiening wat die versugting na groter samewerking nou verby die
mislukte "eenheids-gesprekke" van die afgelope dekade laat beweeg het,
na ʼn punt waar burgerlike organisasies buite die ANC-dampkring oor
gemeenskaplike sake kan saamwerk. Dit ten spyte van verskille wat
tussen die burgerlike organisasies bestaan en waarskynlik nog lank sal
bly bestaan.

Een gemeenskaplike punt is geïdentifiseer, naamlik kommer oor die feit
dat die Onteieningswetsontwerp ʼn ernstige bedreiging vir die belange
van almal in die land inhou – ongeag wat hulle politieke oortuiging
is. Die wetsontwerp behels onder meer dat die owerheid énige eiendom
sal kan onteien teen ʼn bedrag wat die staat self bepaal. Die howe sal
slegs die onteieningsproses wat gevolg is, kan hersien, maar nie die
bedrag waarop die owerheid besluit het nie. Die absurditeit hiervan
is dat die staat dus enige item of eiendom (soos ʼn huis of motor) sal
kan onteien om dit aan iemand te gee wat nie oor so ʼn item beskik nie.
Die staat kan dan boonop self die prys bepaal, solank die "regte
prosedures" net gevolg word. Die wetsontwerp se bepaling dat die
onteieningsbedrag laer as die markwaarde van die eiendom mag wees en
dat markwaarde nie die bepalende faktor sal wees nie, sal binnelandse,
sowel as buitelandse beleggers afskrik. Waarom sal iemand in eiendom
belê – roerend of onroerend, indien die persoon weet dat die staat by
magte is om sodanige eiendom enige tyd teen ʼn verlaagde en
eensydig-bepaalde bedrag te onteien? Ook diegene wat nie oor eiendom
beskik nie, maar vir werksgeleenthede afhanklik van beleggings in die
ekonomie is, sal gevolglik benadeel word.

Die wete dat die respek vir eiendomsreg – as hoeksteen van enige
suksesvolle samelewing – beskerm moet word, het swaarder geweeg as
politieke verskille. Vyftien organisasies en politieke partye wat nie
normaalweg langs dieselfde vuur sit nie, kon daarom met groot vrug die
Tussentydse Komitee vir die Verdediging van Eiendomsreg tot stand
bring om die Wetsontwerp op Onteiening teen te staan. Die komitee
sluit tans die volgende organisasies in: AfriForum, die Afrikanerbond,
die Afrikanerfront, Agri SA, TLU SA, ATKV, FAK, die ACDP, die DA, die
VF+, die FW de Klerk Stigting, die Landbou Werkgewersorganisasie
(LWO), die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), die Solidariteit
Instituut vir Grondwetlike en Arbeidsregtelike Aangeleenthede en
Regslui vir Afrikaans. Verskeie ander organisasies is ook besig om
hulle steun aan hierdie groep toe te sê. Die deelnemers besef dat die
net nog wyer gesprei moet word.

Die struikelblokke wat kon verhoed dat organisasies wat vir lank nie
met mekaar gepraat het nie, kon saamwerk, is oorkom deurdat alle
partye gefokus gebly het op die groter prentjie. Die Tussentydse
Komitee kon daarom reeds twee suksesvolle konferensies aanbied om die
gevare wat die Onteieningswetsontwerp inhou, duidelik uit te wys en
die openbare mening daarteen te monster. ʼn Werkswinkel word binnekort
gehou waar al die betrokke groeperings sake soos onder meer
gesamentlike regstappe teen die wetsontwerp en ander aksies sal
bespreek.

Die eerste vrugte van hierdie samewerking is reeds sigbaar! Waar die
ANC beplan het om die Wetsontwerp op Onteiening gedurende Julie
vanjaar in die Parlement te laat goedkeur, het die groeiende openbare
weerstand hulle genoop om van die plan af te sien. Die geskeduleerde
debatte oor die wetsontwerp in die parlementêre portefeuljekomitee is
gekanselleer sonder dat enige nuwe datums vasgestel is. Natuurlik kan
die ANC die debat weer skeduleer, maar die feit is dat indien daar nie
wye samewerking vanuit die burgerlike samelewing was nie, ons nou
reeds met ʼn wet op die wetboeke sou gesit het wat die potensiaal inhou
om die Zimbabwe-ellende hier in Suid-Afrika te herhaal. Die kuns is
nou om die druk voort te sit sodat die huidige weergawe van die
Onteieningswetsontwerp permanent van die wetboeke af bly.

Die slotsom is dat samewerking werk. Sonder om beginsels en
standpunte in te boet, kan ons met sukses met mekaar in gemeenskaplike
belang meewerk. Hierdie wenresep bring hoop in omstandighede waar
baie mense uit moedeloosheid tou opgooi en die land verlaat. Kom ons
bly hier en stry saam vir ʼn beter toekoms ... al verskil ons so
gereeld van mekaar.

No comments: