Monday, August 4, 2008

Ou man keel af gesny soos skaap

Aug 03 2008 09:36:39:677PM - (SA)

Virginia Keppler en Leané du Plessis

"Hulle het hom soos 'n skaap keel-af gesny."

Só het 'n buurman 'n gru-aanval gisteroggend op 'n bejaarde egpaar van
Phalaborwa, Limpopo, beskryf.

Mnr. Robert (Bob) Julyan (70) en sy vrou, Rhoda (65) is in die vroeë
oggendure deur drie aanvallers in hul huis in Essenhoutstraat oorval.
Julyan is herhaaldelik gesteek en sy keel afgesny, terwyl mev. Julyan
vasgebind en aangerand is.

Die drie aanvallers het glo herhaaldelik gevra waar die egpaar se seun
is, het supt. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens hom het mev. Julyan die aand honde hoor blaf en uitgegaan om
ondersoek in te stel.

Terwyl sy buite was, het die aanvallers by die huis ingehardloop
sonder dat sy hulle gesien het. Hulle het haar toe in die huis oorval,
het Ramatseba gesê.

"Die verdagtes het gevlug sonder om 'n ding uit die huis te steel. Die
polisie weet in dié stadium nie wat die motief vir die aanval was
nie," het Ramatseba gesê.

Volgens me. Maude Steyl, mev. Julyan se niggie wat haar gister
ondersteun het, was die seun, Steven (40), in Pretoria waar hy 'n
doktersafspraak gehad het.

Steyl het gesê die seun het gister teruggekeer nadat hy van die aanval
gehoor het.

Die drie aanvallers het mev. Julyan glo teen die kop "geklap en
geklap", het Steyl vertel.

"Sy arme ma is erg geskok en nie in staat om nou met die media te
praat nie. Die dokter het haar iets gegee om haar 'n bietjie te laat
slaap," het sy gesê.

Volgens mnr. Boet van Staden, die egpaar se buurman, is mnr. Julyan 'n
paar dae tevore uit die hospitaal ontslaan nadat 'n spinnekop hom
gebyt het.

Die polisie ondersoek 'n saak van moord en aanranding, het Ramatseba gesê.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2369263,00.html

No comments: