Saturday, August 30, 2008

Polisie maak weer droog...

Polisie skiet slagoffers
Aug 29 2008 09:52:25:883PM - (SA)

Gloria Edwards


'N Egpaar van die Oos-Rand veg om hul lewe nadat hulle per ongeluk
deur die polisie geskiet is tydens 'n mislukte huisrooftog in
Meyersdal, Alberton.

Mnr. Jan Kotzé (48) en sy vrou, Millie (50), eienaars van die
onderneming Manhattan Ice Tea, is gewond terwyl hul seun, Stephan
(21), en dogter, Janine (30), eergisteraand ure lank deur vyf rowers
in hul huis in Izak de Villiersstraat aangehou is.

Stephan het gister vertel hoe hy en sy suster aangehou is voordat die
polisie op sy ouers losgebrand het. "Ons het net heeltyd hardop gebid
en toe in tale met God gepraat . . . "

Mnr. Josie Raath (45), uitvoerende regisseur van Radiokansel en Millie
se broer, het gesê sy suster en swaer het net by die huis gekom van 'n
vakansie toe die voorval gebeur het.

"Toe hulle by die huis intrek, het die rowers van die balkon af op
hulle begin skiet. Hulle het toe uitgejaag om weg te kom en reg in die
vuurlinie van die polisie, wat hulle seker vir die rowers misgis het,
beland. Daar is van albei kante af op hul Land Cruiser losgebrand. Ek
het 43 koeëlgate in dié motor getel."

Volgens Raath is sy suster vyf keer in die maag en sy swaer tien keer
in die bolyf getref.

Albei is na die Unie-hospitaal geneem, waar hulle in die
hoësorgeenheid behandel word.

'n Bewoë Stephan het gesê hy is omstreeks 20:00 in die gesin se huis
oorrompel. "Ek was besig om vir my vlieënierslisensie te swot toe een
van hulle 'n pistool teen my kop druk. Hy het my met 'n spanner
geslaan, my hande en voete vasgebind en na 'n kamer gesleep. Hulle wou
juwele en geld hê."

Janine het toe glo by die huis aangekom en is deur die rowers oorval
en vasgebind.

Omstreeks 23:00 het hul ouers by die huis aangekom en het die
skietgeveg uitgebreek.

Stephan het sy suster op die balkon gevind waar sy vasgebind gelê het.
"Ek het probeer om die toue om haar los te byt totdat iemand ons kom
help het."

Die rowers, wat Stephan se RunX-motor met die gesin se juwele, wapens,
skootrekenaars, kluise en ander items volgepak het, het met leë hande
gevlug.

Tussen meer as 100 patroondoppies wat gister die straat voor die
Kotzés se huis vol gelê het, het bure vertel hoe hulle nou vir hul
lewens vrees.

Mnr. Coenie Strydom, 'n buurman, het beweer dat dié voorval die agtste
in dieselfde straat die afgelope jaar is.

Die Kotzés se ander dogter, mev. Adelle Sinden (25), het gister die
polisie geblameer dat haar ouers om hul lewe veg.

"Hulle kon waarskuwingskote geskiet het. Dit was nie nodig om die
motor flenters te skiet nie."

Supt. Eugene Opperman, provinsiale polisiewoordvoerder, het egter gesê
die voorval word as 'n ongeluk beskou.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


Oorsprong:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2385135,00.html

No comments: