Saturday, August 16, 2008

*Colesberg - Persvrystelling*

__________________________________________________

VOORAF:

Nie die NBU of enige van die geaffilieerde Verenigings/ Forums het enige
politieke doelstelling nie en ons beywer onsself om in die belang van
alle gemeenskappe op te tree, dus ons bedryf ook nie ons sake op 'n
rasse basis nie.


AGTERGROND:

Soos dit die geval is op soveel ander dorpe en stede dwars oor die land,
het dienslewering in Colesberg ook byna tot stilstand gekom. Openbare
gebiede het in rommelhope verander, die dorp het by geleentheid vir vyf
dae sonder enige drinkwater gesit, in die tradisionele swart gebiede was
daar gevalle waar rou riool in die strate afgeloop het en die kinders
daar het kaalvoet daardeur geloop. Die begrafplase van die dorp was
totaal met onkruid oorgroei en dit was 'n veiligheidsrisiko om dit te
besoek. Verdermeer was ons strate vol slaggate en geen poging was
aangewend om dit te herstel nie.

Die inwoners het genoeg gehad en 'n petisie was aan die Burgemeester,
me. Lilian Hermans, oorhandig waarin daar geeis is dat al die
voorafgenoemde sake binne drie maande aangespreek moes word. Aanvanklik
het die munisipaliteit hulle nie geerg aan die eise nie.

Nader aan die verstryking van die drie maande het die 2008/09 begroting
ook ter sprake gekom. Buitensporinge verhogings in die nuwe tariewe is
aangekondig. ('n 15% verhoging in alle tariewe). 'n 60% in die salaris
rekening van die Umsobomvu Munisipaliteit was in die vooruitsig gestel.
Dit was vir die inwoners totaal onaanvaarbaar en daar is op 4 Junie 2008
tydens 'n vergadering van die Colesberg Inwoners- en
Belastingbetalersvereniging (CIBBV) eenparig besluit om 'n dispuut te
verklaar.

Die Ouditeur-Generaal se verslag vir die 2006/07-boekjaar het in hierdie
tyd ook bekend geraak. In hierdie verslag is dit uitgewys dat daar op 30
Junie 2007 'n bedrag van R35,9 miljoen verskuldig was aan die
munisipaliteit ten opsigte van oningevorderde dienste geld. Min tot geen
kredietbeheer is toegepas nie. Dit is duidelik dat die kultuur van geen
betaling vir dienste van jare gelede steeds aan die orde van die dag. 'n
Opname is gemaak en daar was gevind dat die wit gemeenskap 98%
betalingrekord het terwyl die bruin gemeenskap 64% betalingsrekord het.
In die swart woonbuurte was die betalingskultuur tot so laag as 43%.
Steeds is elektrisiteitdienste aan hulle gelewer.

DIE DISPUUT

Die Munisipaliteit en die Raad is inkennis gestel dat 'n dispuut
verklaar is. 'n Trustrekening is geopen en die volle diensterekening is
deur deelnemende lede elke maand daarin betaal. Slegs die elektrisiteit
komponent van die rekenings is deur die CIBBV aan die munisipaliteit
oorbetaal terwyl die res van die geld in trust gehou is.

Hierdie reeling was vir die Munisipale Bestuurder, mnr. Amos Mpela,
skynbaar onaanvaarbaar en hy het opdrag gegee dat al die lede se
kragvoorsiening afgeskakel word. Die Munisipaliteit Stelsels Wet, Wet 32
van 2000 in seksie 102(2) verbied die munisipaliteit om so op te tree.
Die Elekrisiteit Voorsienings Wet verbied dit ook. Die CIBBV was toe
genoodsaak om hulle tot die Hof te wend om 'n dringende interdik te
bekom ten einde die Munisipale Bestuurder te verplig om die krag weer te
laat aanskakel. Dit is toe gedoen.

In 'n ander geval het die Munisipale Bestuurder ook opdrag gegee dat 'n
bruin vrou met 'n baba in die huis se kragvoorsiening ook beeindig word.
Hierdie vrou koop haar krag vooraf aan en weereens moes die CIBBV ingryp
en 'n interdik aanvrae om die situasie reg te stel.

Toe al mnr. Mpela se pogings tot niks kom nie het hy die hulp van SANCO
(SA National Civics Organisation) ingeroep om die CIBBV te dwing om die
dispuut te laat vaar. Op >>>>>> sou die Hof die tydelike interdikte
bekragtig het en SANCO het 'n protesoptog na die hofgebou gereel om 'n
versoekskrif aan die Landros te oorhandig. Dit alles om die hof te
intimideer. Die Landros het egter geweier om die dokument in ontvangs te
neem en het die optoggangers weggestuur. Die groep is deur die SAPD
begelei na die swart woonbuurt waar hulle die Polisie onder klippe
gesteek het. Die Polisie was genoodsaak om met rubber koeels die opstand
te onderdruk. Kort na hierdie voorval het die groep in twee verdeel en
mekaar begin aanval. Die groepe het hulle self geidentifiseer as die
Mbeki- en die Zuma-faksies. In die dae wat daarop gevolg het was
verskeie onwettige optogte gehou. Tydens een so 'n optog was 'n
Handelaar se winkelmuur oopgebreek en is die winkel geplunder.

In 'n poging om die wetteloosheid stop te sit het ek as Voorsitter van
die CIBBV alle samesprekings met die Raad en die Munisipaliteit
opgeskort. Ons sou samesprekings m.b.t. die dispuut voortsit sodra wet
en orde weer herstel was. Hierdie stap het die situasie net vereger en
'n noodvergadering is bele waartydens die Noord-Kaapse LUR vir
Veiligheid en Sekriteit persoonlik teenwoordig was.

SANCO was steeds nie tevrede nie en het toe 'n verbruikers boikot op die
dorp ingestel. Alle blanke besighede, of hulle aan die dispuut
deelgeneem het of nie, was geteiken. Inwoners wat inkopies wou gaan doen
het was geintimideer. Sodra hulle 'n winkel verlaat was hulle goedere
afgeneem en vernietig. Inwoners was gedreig dat hulle huise afgebrand
sou word indien hulle inkopies gaan doen en sommiges het selfs
doodsdreigemente ontvang. 'n Vyftal SANCO organiseerders het 'n hele
gemeenskap "gevange" gehou. Meeste van die Predikante van Colesberg het
ingegryp om die situasie te beredder omdat mense besig was om honger te
ly. Hulle kosvoorrade was uitgeput maar dit het SANCO skynbaar nie gepla
nie. Hulle politieke agendas was baie belangriker as die welsyn van die
gemeenskap.

Sakelui het groot verliese gely en sommige winkels was genoodsaak om
hulle deure tydelik te sluit. Op 'n vergadering Van die CIBBV, Dinsdag,
12 Augustus 2008 het die meeste van die CIBBV lede besluit om die
dispuut te laat vaar vir die behoud van die dorp te haar inwoners. Ek
het na afloop van die vergadering as Voorsitter van CIBBV bedank.

Op Donderdag, 14 Augustus 2008 het 'n nuwe organisasie by name die
Forum vir Colesberg Inwoners- en Belasting Betalers (FCIBB) tot stand
gekom. Daar word gevoel dat die oorspronklike doelwit van die dispuut
steeds nog nie te volle aangespreek is nie en dat al die gebeure die
saak sodanig vertroebel het dat fokus verloor is. Die nuut gestigte
Forum sal hulle nou daarop toespits om Colesberg weer in ere te herstel
en te sorg dat dienslewering, wat sedertdien al verbeter het, volhoubaar
voortgesit word. 'n Ander doelwit is om toe te sien dat al die
uitstaande skuld aan die munisipaliteit ingevorder word. As dit gebeur
sal dit nie nodig wees om tariewe so drasties te verhoog nie en sal die
munisipaliteit instaat wees om hulle eie skuld wat dreig om hand uit te
ruk, te betaal. Infrastuktuur kan dan ook verbeter word.

SLOTSOM:

Dienslewering op grondvlak is 'n groot probleem en onbevoegde politieke
aanstellings op die derde vlak van regering gaan nie die situasie
verbeter nie.

SANCO se optredes grens aan kriminaliteit. Instede daarvan om op te tree
in belang van die gemeenskap, word wetteloosheid aangewend om goedkoop
politieke agendas na te jaag. Namate volgende jaar se verkiesing en die
Zuma-verhoor nader kom gaan organisasies soos SANCO die geleentheid
aangryp om verdere anargie na te jaag.

Gemeenskappe sal moet opstaan en self beheer neem van hulle situasies om
te verhoed dat hulle dorpe en stede nie totaal verval nie. Ek doen 'n
beroep op inwoners om betrokke te raak by hulle munisipaliteite se sake.
Die amptenare is immers in die inwoners se diens en nie anders om nie. U
belasting geld betaal betaal die amptenare se salarisse, wat u die
werkgewer maak en nie onderdane nie.

Met al die negatiewe publisiteit rondom die gebeure in Colesberg die
afgelope weke, was daar 'n merkbare afname in toeriste getalle.
Colesberg is uit-en-uit aangewese op toerisme vir ons voortbestaan. Ek
wil die reisende publiek vra om nie Colesberg te vermy nie. Sake is weer
terug na normaal en ons pleit dat Colesberg weer u dorp sal wees as een
van die bestemmings waar u sal aandoen.

Johan Matthee
Voorsitter
Forum vir Colesberg
Inwoners- en Belastingbetalers

No comments: