Monday, August 25, 2008

Petisies teen Regstellende Aksie

Solidariteit beplan om met so 'n omvattende veldtog vir 'n einddatum
vir regstellende aksie te begin dat die aantal petisies nie net
normaal oorhandig sal kan word nie, maar met kruiwaens aangestoot sal
moet word. Die harde onderhandeling oor regstellende aksie gaan nou
begin en wat ons nou nodig het is derduisende Suid-Afrikaners se
steun.

Hierdie planne van Solidariteit volg op mnr. Kgalema Motlanthe,
visepresident van die ANC en minister in die presidensie, se
opmerkings die afgelope week in Stellenbosch dat die ANC 'n
uitfaseringsklousule vir regstellende aksie sal oorweeg.

Mnr Motlanthe het nie gesê regstellende aksie gaan volgende jaar
verdwyn nie, maar hy het die ANC se bereidwilligheid om daaroor te
praat aangetoon. Dit is 'n reuse stap vorentoe van die huidige
Minister van Arbeid, Membathisi Mdladlana, se vorige uitsprake dat
regstellende aksie nie in sy leeftyd uitgefaseer sal word nie.

Motlanthe maak nou die deur vir onderhandeling oop. Solidariteit
verstaan die wêreld van kollektiewe bedinging. As 'n punt oop is vir
onderhandeling begin magspel en dit is nou vir diegene wat
voorstanders is vir die uitfasering van regstellende aksie om hulle
steun te toon en te begin mobiliseer sodat hulle 'n magsbasis kan
bewys as die onderhandeling in volle swang is. Hoe sterker jy is hoe
beter onderhandel jy. Indien jy nie jou krag kan toon nie is jy besig
met kollektiewe bedelary en nie kollektiewe bedinging nie.

Solidariteit beplan 'n reuse veldtog om steun te mobiliseer vir die
uitfasering van regstellende aksie. Die kerndeel van die veldtog gaan
'n omvangryke petisieveldtog wees. Ons wil tienduisende handtekening
in kruiwaens na die regering stoot om die steun vir die uitfasering
van regstellende aksie te toon. Skikkings tydens onderhandeling word
nie afgesmeek nie, maar beding. Ons oproep tot voorstanders vir die
uitfasering van regstellende aksie is om aktivisties oor hulle saak te
raak.

Solidariteit het reeds verlede jaar met Motlanthe gesprekke gevoer oor
regstellende aksie. Dit is opgevolg met gesprekke met mnr Jacob Zuma,
leier van die ANC. Ons het twee kernpunte op Zuma se tafel geplaas.
Die eerste was dat regstellende aksie uitgefaseer moet word deur
jongmense van regstellende aksie vry te stel en die tweede is 'n
moratorium op regstellende aksie waar skaars en kritiese poste ter
sprake is. Zuma het daarop gereageer deur te sê dat Solidariteit se
idees verfrissend is.

Tydens die laaste gesprekke met mnr Zuma is op 'n gesprekskomitee
tussen die ANC en Solidariteit ooreengekom om die kwessie verder te
neem. Daar is dus 'n kanaal tot gesprekke geskep en die kwessie oor
regstellende aksie is op die tafel. Die volgende fase van gesprek is
nou om steun te mobiliseer.

Ons gaan egter beslis ook nie die druk op die ANC verlig om 'n klimaat
vir mooi praatjies te skep nie. Ons gaan die druk verskerp sodat 'n
klimaat vir harde onderhandeling geskep word. Behalwe die
petisieveldtog gaan druk ook internasionale steunwerwing behels en
veral steunwerwing by die Verenigde Nasies se Internasionale
Arbeidsorganisasie, wat eis dat regstellende aksie tydelik moet wees.

Dirk Hermann
Adjunk uitvoerende hoof: Solidariteit

No comments: