Tuesday, August 12, 2008

Leipoldt graf geskend

Bo: Die grafsteen van Leipoldt se ma word in veilige bewaring gehou by
De Vlei Diensstasie.

Clanwilliam: Grafskenders het Sondagnag 'n graf in die Blomkerkie op
Clanwilliam beskadig. Die geskiedkundige kerkie met grafte wat
honderde jare oud is, word elke jaar gebruik vir die jaarlikse
Blommeskou in Augustus en September. Mnr Flip Lochner het
Maandagoggend op die vernielde graf afgekom en die speurtak gekontak.
'n Kerkgroep wat die kerkie Sondagaande huur vir hul eredienste het
vermoedelik vergeet om die hekke te sluit, wat die plundelaars toegang
tot die kerkgronde gegee het.
Die vermoede bestaan dus dat die plunderaars Sondagnag probeer het om
die koperengel van die graf te steel wat hul dan as skrootmateriaal
kon verkoop. Volgens speurkonstabel Koopman, is daar heelwat spore,
maar dit is nie duidelik genoeg om te lig nie. Aangesien die beeld te
swaar is vir een persoon om te dra, bestaan die vermoede dat meer as
een persoon betrokke was by die voorval. Die engel is vanuit die
omheinde graf van die sement voetstuk gelig en langs die graf
neergegooi. Dit wil voorkom asof die diewe probeer het om die engel
van die marmerblad, waarmee dit aan die voetstuk vas was, los te kry,
maar nie daarin kon slaag nie.
Die oorledene wie se graf dit is, is ene me AMC Leipoldt, gebore
Esselen, die moeder van die bekende digter en koskenner, C Louis
Leipoldt. Sy is op 29 Maart 1848 in Worcester gebore en op 24 November
1903 op die ouderdom van 55 jaar op Clanwilliam oorlede. Die grafsteen
is vanaf Hamburg in Duitsland ingevoer en blykbaar deur die "zuster
der Gemeente" geskenk.
Die engel is van koperdop gemaak en word aanmekaar gehou met
staalpenne. Een van die arms is moontlik met die val gebreek en die
ander arms is gebuig.
By nadere ondersoek kan duidelik gesien word dat daar aan die engel se
kleed gepeuter is, vermoedelik om dit te probeer oplig vanaf die
marmerblad waarop dit gemonteer is.
Die polisie waarsku alle inwoners dat koper, staal- en aluminiumdiewe
werksaam is in die omgewing en vra dat inwoners losstaande items soos
tuinmeubels, kruiwaens en ander metaal voorwerpe moet beveilig. Daar
was reeds 'n inbraak by Clanwilliam Sekondêr waar heelwat koperpype,
krane en toiletparte gesteel is. Baie stories oor mense wat reeds
skade gehad het, is nou op almal se lippe. Mense breek in om die
metale te bekom sodat hul dit aan die skroothandelaars kan verkoop.
Koopman sê dis 'n baie winsgewende manier van handeldryf, maar niemand
het nog 'n geldige lisensie hiervoor nie.

Indien enige iemand kennis dra van die voorval Sondagaand of -nag of
iets verdags opgemerk het by die kerkie, kontak asseblief vir Koopman
by 027 482 2465. Inligting sal as vertroulik behandel word. Die
speurdiens verwelkom enige inligting wat kan lei tot die
inhegtenisname van persone wat onwettige handeldryf in die aankoop van
skrootmateriaal.

No comments: