Saturday, August 16, 2008

Helpende Hand vir armblankes

Nog 'n Helpende Hand vir arm wittes
Aug 15 2008 10:26:58:927PM - (SA)


Alet Rademeyer

Niemand weet hoeveel arm wit kinders daar in die sowat duisend
skuilings oor die hele land heen is wat nog nooit in 'n skool was nie.

Dr. Dawie Theron van Solidariteit se Helpende Hand-fonds sê daar is
geen statistieke hieroor beskikbaar nie, maar daar is sonder twyfel
sulke kinders.

Een van die redes dat die kinders nie skoolgaan nie, is dat skuilings
dikwels ver van skole is en daar nie busvervoer is nie. Helpende Hand
probeer vasstel wat die omvang van dié probleem is en watter werkbare
modelle daar is.

Volgens Theron besef min mense steeds wat die omvang van werkloosheid
en armoede onder wit mense is en weet hulle nie dat 16% van Afrikaners
minder as R1 000 per maand verdien nie. Sowat 19% verdien minder as R3
000 per maand en 46% kan nie 'n huis van R220 000 bekostig nie.

"Volgens statistieke is daar sowat 450 000 werklose wit mense, maar
teen die tempo wat dit toeneem, is dit waarskynlik nader aan 'n
miljoen," sê Theron.

Een van die suksesvolle modelle wat sorg dat haweloses se kinders
skoolgaan, is volgens Theron die een van Genadeplaas. Genadeplaas is
'n skuiling sowat 60 km buite Pretoria wat al 21 jaar bestaan. Dit
huisves tans sowat 150 haweloses.

Op die plaas het van die getroude pare klein huisies wat hulle self
gebou het en daar is ook gemeenskaplike sale waar enkellopende mans en
vroue afsonderlik woon. Weekdae woon ouers met hul kinders in die
"dorpshuis" van Genadeplaas in Pretoria-Noord en naweke gaan almal uit
na die plaas.

Mev. Lizette Venter en haar suster me. Trudie Henderson staan aan die
stuur van sake.

Tot in 2005 het van die ouers in die week ook op die plaas gebly toe
daar werkskeppingsprojekte was waaraan almal deelgehad het. Die ouers
het toe beurte gemaak om in die dorpshuis by hul kinders te kom bly.

Nadat die kontrak vir die vervaardiging van elektriese komponente
opgeskort is, het die ouers by hul kinders kom bly "sodat hulle ook
hul eie verantwoordelikheid teenoor hul kinders kon terugvat", het
Venter gesê.

Die kinders in die dorpshuis is nie almal van Genadeplaas nie. Van
hulle is ook deur middel van 'n vriendskaplike ooreenkoms tussen die
Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en die huis daar geplaas.

Altesame 55 kinders woon in die dorpshuis. Hulle woon verskeie skole
soos Gerrit Maritz, Pretoria-Noord, Nuwe Wending, Suiderberg, Akasia
en Voortrekker-Eeufees by.

Volgens Venter werk dié model omdat die kinders soos alle ander aan al
die normale skool- en sportaktiwiteite deelneem én boonop presteer.

Drie van die huis se kinders skryf vanjaar matriek.

"Ons bou ons kinders se selfvertroue en moedig hulle aan om hul
skoolloopbane te voltooi."

In die huis is daar streng reëls en dissipline en elkeen wat daar
woon, het spesifieke take. Die kinders gaan ook smiddae na die
Maranatha Bana-naskoolsentrum reg langs die huis. Dit word ook deur
kinders van die omgewing bygewoon.

Mnr. Johan Buitendag, 'n sakeman van Rosslyn, het twee huise langs
mekaar vir dié projek beskikbaar gestel en ondersteun Genadeplaas
geldelik.

Oorsprong:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2376849,00.html

No comments: