Friday, August 15, 2008

Misdaad en onbevoegdheid van die SAPS

Marlise Erasmus, Gauteng
Woensdagaand 5 Desember 2007 het my gesin deel van ons land se
gruwelike misdaadstatistieke geword.

Drie gewapende aanvallers het my en my man op ons stoep oorval en die
huis binnegedwing.

Ek hoor nog hulle dringende opdrag: "Get down! Get down" en "Quiet!".

Soos diere is ons op hande en knieë die huis in, ek al huilende dat ek
asseblief net my kinders wil sien. Twee keer het ek bly voortkruip na
my kinders toe terwyl die aanvallers my hard op die rug slaan en
vloek.

Ek dank ons Hemelse Vader dat my man doodstil bly lê het, soos hulle
hom aangesê het, anders was hy beslis geskiet. Ten spyte van sy
samewerking is hy herhaaldelik geskop, en sy voortand is uitgeslaan
teen die teëlvloer.

Met twee kinders op die heup is ek deur die huis gesleep en
herhaaldelik met die plathand deur die gesig geslaan. Hierdie
aanvallers oorheers jou totaal met hulle gewelddadige optrede. Hulle
skop, slaan, vloek, hulle maak jou bang en hulle maak jou seer.

Die aanval het gelukkig net sowat 20 minute geduur, maar hulle is nie
uit my huis uit voordat hulle gedreig het om my en my driejarige
dogtertjie te verkrag as ons nie vir hulle vuurwapens gee nie.

Die absolute vrees wat ek toe ervaar het en die beelde wat in my kop
opgekom het, maak my vandag nog naar. My sesjarige seuntjie het
vreeslik gehuil toe "die oom" my juwele van my vingers en arms afpluk,
en hy was geweldig onsteld toe hulle sy plasmaskerm in 'n sportsak
druk.

Nadat die aanvallers alles wat hulle wou buit in ons sportsakke gepak
het, het hulle my en my man vasgebind, en hom soos 'n sak vullis op
die mat in die kinders se kamer neergegooi.

Toe maak hulle al die deure toe en dreig vir oulaas dat hulle ons sal
doodmaak as ons raas. Ons het 'n paar minute gewag voor ons ons
losgesny het, en dadelik paniekknoppies gedruk. Albei ons selfone is
gedurende die aanval gebuit, en ek het ons huiswerker gaan wakker maak
om haar selfoon te leen sodat ons die polisie kon bel.

En hier is ons vir die tweede keer die aand erg getraumatiseer. 10111
neem sowat 5 minute om die foon te antwoord. So kalm as wat ek kan,
verduidelik ek dat ons pas in ons huis aangeval is, en vra dat die
polisie dringend moet uitkom.

Die persoon wat die telefoon antwoord kon nie my straatadres neerskryf
nie, al het ek dit vyf keer gespel.

Radeloos vra ek haar of ek asseblief met 'n afrikaanssprekende kan
praat. Onmiddellik ruk sy haar op vir die "rassis" en beveel my om te
kalmeer, en dan terug te bel.

Twee ure nadat ek die aanval aangemeld het by 10111 daag die spesiale
taakspan teen huisrooftogte by my huis op. Die mense is baie
professioneel, maar bitter teleurgesteld omdat hulle eers vier minute
gelede deur 10111 van die voorval verwittig was.

Twee speurders van die plaaslike polise daag op om ons verklarings af
te neem. Hulle verbied ons om Afrikaans praat, en sit oopmond en
kougom kou by my eetkamertafel. Hulle lig ons dadelik in dat dit "ons
skuld" is dat ons aangeval is, want "everybody knows you cannot sit
outside".
Nadat hulle die verklarings afgeneem het, vra die een speurder vir my:
"do you want us to investigate?".

Ek het byna ontplof. Hierdie kriminele het my huis onwettig
binnegedring, meer as 'n honderduisend rand se goed gesteel, twee
mense aangerand en gedreig dat hulle 'n kind sal verkrag, en die
polisieman wil weet of hy die saak moet ondersoek?

My kinders moes vir speelterapie gaan om die trauma te verwerk van wat
hulle gesien en gehoor het. Hulle raak nogsteeds histeries as die
huisalarm afgaan.

Ek en my man moes ook vir berading gaan. Ons leef steeds in 'n
toestand van totale paniek elke dag. Ons almal kry nog steeds
nagmerries, en vreemdelinge maak my bang.

Hoewel ons, aan SA standaarde gemeet, baie gelukkig was, is wat met
ons gebeur het nie reg nie.

Ongelukkig is almal hier al so ongevoelig oor misdaad dat niemand van
jou trauma wil hoor nie en van jou verwag om jouself reg te ruk. Veel
erger dinge gebeur tog daagliks met ander mense.

http://www.news24.com/Beeld/My_Storie/0,,3-2053_2375938,00.html

No comments: