Saturday, August 30, 2008

Man sterf op knieë in kerk

Mev. Ida Hatting (52) huil nadat haar vriend en kollega tydens 'n
gewapende rooftog in die Divine Connection Ministries se kerkgebou
doodgeskiet is. Foto: Herman Verwey

Aug 29 2008 09:52:40:040PM - (SA)

Virginia Keppler

'N Man is in 'n biddende posisie op sy knieë in die Divine Connection
Ministries se kerkgebou op die Uitzight-hoewes in die weste van
Pretoria dood toe hy tydens 'n gewapende rooftog geskiet is.

Die rowers het met net 'n stukkende ketel, teesakkies en 'n klein
radio en die slagoffer se splinternuwe tekkies gevlug.

Mnr. Dale Roberts (50) is in die regterskouer geskiet en hy het
vermoedelik doodgebloei.

Hy is Woensdagnag in sy slaapkamer binne die kerkgebou oorval.

Mnr. Willie Hatting (55), projekbestuurder van die kerk, het gesê die
rowers het twee ventilasieplate uit die kerk se muur met 'n koevoet
gebreek om toegang tot die kerk te verkry.

Hattingh se vrou, Ida (52), het eergisteroggend op Roberts se lyk
afgekom. Volgens haar het sy om 07:45 die kerk oopgesluit.

"Somtyds is Dale al wakker as ek inkom, maar daardie dag was die deur
nog gesluit.

"Ek het opgemerk die lessenaar se laaie staan oop en toe maak ek dit
toe. Dit is toe dat my man geskreeu het daar is ingebreek," het sy
gesê.

Sy het daarna na Roberts se kamer gehardloop en teen die deur geklop.
"Ek het toe die deur oopgemaak en toe sien ek hom daar langs sy bed
buk.

"Ek het net 'n hand met bloed gesien. Ek kon nie om hulp roep nie en
het net bly sê: 'Nee, nee, nee'," het sy vertel.

Mnr. Hatting het gesê Roberts het in die kerk geslaap om die gebou op
te pas nadat daar 'n paar jaar gelede ook 'n inbraak by die kerk was.
"Toe ek aan hom voel, was hy klaar koud. Hoe kon hulle iemand in die
kerk doodskiet? Hulle het ons regtig seergemaak.

"Hy moes hom doodgebloei het, want die beddegoed en als was vol
bloed," het hy gesê.

Mev. Hatting het gesê sy was baie lief vir Roberts.

"Hy was soos 'n broer vir my.

"Ons het nou saamgewerk met salarisse en hy het my altyd gehelp om
briewe te skryf. Hulle (die moordenaars) weet nie wat hulle aan ons
gedoen het nie, regtig," het sy gesê.

Roberts is oorspronklik van Zimbabwe en het geen familie in
Suid-Afrika gehad nie.

"Hy was maar 'n alleenloper en hy was baie gelowig. Ons gaan hom
begrawe sodra die polisie sê ons kan sy lyk kry," het mnr. Hatting
gesê.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie
ondersoek 'n saak van moord.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2385100,00.html

No comments: